Huisgenoot

Adriaan en Melinda steeds smoorverli­ef

Ná sewe jaar saam is Adriaan en Melinda nog dolverlief en reis hulle die wêreld vol. Hoe kry hulle dit reg?

- Deur MICHELLE NORTJE Foto’s: DINO CODEVILLA

HULLE is ons eie Ken en Barbie. Albei is bruingebra­nd, popmooi , goed gebou, stylvol . . . en hulle is vriendelik en verlief daarby.

’n Perfekte paartjie? Die voormalige Mnr. en Mej. Suid-Afrika Adriaan Bergh en Melinda Bam kom dalk naby daaraan.

Dit is nou al net mooi sewe jaar vandat Adriaan (30) vir die eerste keer by Melinda (28) gaan koffie drink en hulle terstond halsoorkop verlief geraak het. Van dié sewe jaar is hulle reeds drie getroud, maar hul oë is steeds die ene sterre.

Soos altyd is Melinda, die superfikse Wie’s Jou Poppie?-aanbieder en Tropika Island of Treasure 2018-deelnemer, gereed vir die kamera. En dit nog voor sy die tasse met haar en manlief se klere vir ons voorbladfo­tosessie oopgemaak het.

Terwyl hulle hand aan hand by River Meadow Manor in Irene aangestap kom om Huisgenoot te ontmoet, lyk Melinda verruklik in ’n rooi minirompie van leer, sagte wit bloes en spierwit tekkies. Haar sonbruin bene verklap hul onlangse vakansie in die eilandpara­dys Bali.

Op sy beurt lyk Adriaan asof hy pas uit ’n modetydskr­if gestap het, sy stylvolle herfsuitru­sting perfek gestileer deur sy vrou, wat ook haarself stileer en haar eie hare en grimering versorg.

Wanneer die twee mooi mense lag en gesels, is die romanse in die lug amper tasbaar.

Hul lewe klink ook soos iets uit ’n droom. Benewens hul afsonderli­ke sakereise was Adriaan en Melinda al meer as 30 keer saam oorsee. Dié twee stralerjak­kers probeer jaarliks nie minder nie as ses keer in die buiteland reis.

Saam was hulle al op besoek aan van Amerika, Frankryk, Tanzanië en Turkye tot Hongkong, Mauritius en Singapoer – en sommer nog ’n rits ander lande ook. “Ons is nog nie eens klaar met die een vakansie nie, dan beplan ons al die volgende een,” vertel Adriaan, ’n suksesvoll­e entreprene­ur in die finansiële wêreld, mynbou en hernubare energie.

Melinda voeg by: “Daar is altyd plekke wat ek verskrikli­k graag wil besoek of waarheen Adriaan net so graag wil gaan. Aan die begin van die jaar werk ek vir ons ’n reisprogra­m uit. Ons kyk wanneer ons vir iemand wil gaan kuier, gaan vakansie hou of oorgaan vir werk – en dan beplan ons ons reise daarvolgen­s.”

Adriaan besluit gewoonlik waarheen hulle gaan, waarna Melinda se fyn beplanning begin, want dis haar verant-

woordelikh­eid dat hul reise glad verloop.

Maar, vertel Adriaan, hulle beplan nogal op die nippertjie. “Melinda is ’n goeie beplanner, maar ’n op-nommer99-beplanner.”

“Ek floreer in krisisbest­uur,” sê sy en lag. En ondanks al hul reëlings verander hulle soms ter elfder ure van plan.

“Met ons onlangse Bali-vakansie het ons baie vinnig besluit ons gaan soontoe,” vertel Adriaan.

“Ons wou eers Viëtnam toe gaan, maar toe het ons ’n week voor die tyd op Bali besluit en ’n vlug bespreek,” sê Melinda.

Dié spontanite­it is deel van albei se persoonlik­heid: As hulle vandag besluit hulle wil iets doen, doen hulle dit.

Met hul eerste huwelikshe­rdenking het Melinda byvoorbeel­d tweeuur die oggend vir Adriaan gesê sy het lus vir ’n avontuur. Net daar het hulle besluit om Duitsland toe te gaan. “Ek het ’n foto van ’n kasteel gesien waarvan ek hou – en ons het binne drie dae gevlieg.” Adriaan besef dit is ’n groot voorreg om so te leef. “Ons is geseën in dié opsig dat ek en Melinda albei baie vryheid het. Ons tyd is ons tyd.” Dié paartjie was al so baie oorsee, hulle het ’n speellys van liedjies wat hulle aan elke vakansie herinner. Hulle luister soms saans by die huis in die Pretoriase voorstad Faerie Glen daarna. “Dan daag ons mekaar uit om te sê watter liedjie by watter vakansie pas,” sê Adriaan. “Dit voer jou dadelik terug na ’n plek,” voeg Melinda by. “En dit voel asof jy weer daar is.”

AL WAS hulle al op meer oorsese reise as wat die meeste mense in ’ n leeftyd sal ervaar, staan hul drie weke lange wittebrood in die Maledive en Thailand steeds vir hulle uit as die beste vakansie saam.

“Om ’n lewe saam met jou vrou op so ’n idilliese plek te begin is ongeloofli­k; niks kan dit oortref nie,” sê Adriaan.

Melinda sê ook dit was die “heel, heel beste ervaring ooit.

“’n Mens ontdek ’n ander deel van jouself op jou wittebrood en dit was wonderlik dat ons dit kon ervaar op een van die pragtigste plekke in die wêreld.”

Adriaan het hierdie hoogtepunt van ’n vakansie gereël, “al vakansie wat hy tot dusver beplan het”, skerts Melinda.

Maar volgens Adriaan was dit “nie die rede waarom dit so lekker was nie” .

Die Maledive is vandag steeds een van hul gunsteling­bestemming­s en hulle het sommer verlede jaar Adriaan se 30ste verjaardag ook daar gevier.

Melinda vertel opgewonde van die bad wat “so groot soos ’n dubbelbed is” in die villa op water waarin hulle gebly het, en van die een dag toe hulle net voor son- onder hul snorkels gegryp en “poedelnake­nd in die see” gaan snorkel het.

Terwyl Melinda ’n eilandkind is, sien Adriaan veral uit na hul skivakansi­es. Hulle probeer minstens twee keer per jaar op ’n eiland uitspan en gaan ski een keer per jaar.

“’n Mens kan nog die son en die sand en die see hier in Suid-Afrika ervaar, maar jy kan nie regtig hier ski nie,” sê hy.

Melinda deel nie noodwendig Adriaan se passie hiervoor nie.

“Ek gaan altyd biddend in ’n skivakansi­e in, want ek wil net hê Adriaan moet veilig wees. Hy is nogal ’n waaghals.”

So ’n waaghals dat hy ná hul heel eerste skivakansi­e, in Oostenryk, met ’n gebreekte skouer huis toe gekom het.

Hy het eers ’n week ná sy val in die vliegtuig op pad terug besef daar is groot fout toe hy geen spierversl­appers en pynpille meer gehad het om te drink nie . . .

Melinda, wat in die VIA-werklikhei­dsprogram Wie’s Jou Poppie? gereeld avontuurli­ke uitdagings aanpak, is volgens Adriaan minder waaghalsig as hy.

“Jy hou van extreme sports, maar jy is nie waaghalsig nie, my engel,” sê hy toe sy teëstribbe­l.

“Ek het ’n gesonde sin vir vrees as daar lewe en dood betrokke is, maar wat die dinge betref wat ons in Wie’s Jou Poppie? doen, is ek beslis ’n waaghals,” hou sy vol.

Is daar uitdagings wanneer ’n mens so baie saam reis?

“Ek het al gehoor mense sê as ’n mens saam kan reis of saam ’n huis kan bou, kan julle alles saam doen, maar ek verstaan nie die reisdeel nie,” sê Melinda.

“Dit is so ’n groot seën om saam te reis, ek verstaan nie hoekom mense dit sal versuur deur geïrriteer te raak oor onbenullig­hede nie.”

Adriaan knik instemmend. “Wanneer ons reis, is Melinda soos ’n opgewonde hasie wat heeltyd op en af spring. As ek nie lekker voel nie, laat sy my sommer vinnig weer lekker voel.”

Hul volgende groot plan is om in 2020 heeljaar te reis. “As dit die Here se wil is dat ons teen daai tyd nog sulke goed kan doen, wil ons graag,” sê Adriaan.

Terwyl Adriaan nie ’n lang emmerskopl­ys het van plekke wat hy nog wil

‘Op reis is Melinda soos ’n opgewonde hasie wat op en af spring’

T(Van vorige bladsy)

besoek nie, het Melinda ’n paar droombeste­mmings op haar lysie. Daaronder tel die noorderlig bo Alaska, om iewers in ’n igloe te bly of in die sneeu op ’n slee deur wolwe getrek te word, Machu Picchu in Peru, Noorweë, Finland en om “’n lama ’n drukkie te gee”. OG is die lewe nie net een lang vakansie nie; hulle werk darem ook!

“Ek’s passievol oor besigheid en om werklik ’n verskil te maak,” sê Adriaan. “Ek wil nie sommer aftree nie.”

Met sy ondernemin­gs skep hy werkgeleen­thede, vertel hy. Dit gaan nie vir hom oor hoeveel geld hy kan maak nie, maar oor wat hy kan terugploeg. Hy het baie lesse geleer in die tyd toe hy sy ondernemin­gs begin het en mentor mense “sodat hulle kan leer uit my foute. Daar’s te min tyd om jou eie foute te maak.”

Hy wil eindelik ook finansieri­ng bied aan nuwe ondernemin­gs.

Melinda het weer pas klaar verfilm aan ’n uitdagende tweede seisoen van Wie’s Jou Poppie? “Dié seisoen het die wind uit my seile gehaal. Elke liewe ding wat ons gedoen het, was fisiek intensiewe­r as die vorige seisoen.”

Sy het onder meer haar skouer ontwrig toe sy van ’n paviljoen af moes spring en het ook meer as een keer “geween” ná ’n uitdaging. “Dit is maklik om jou hand vir ’n uitdaging op te steek, maar ek het aan die einde van ’n paar episodes besef ek kon regtig seergekry het.” Is sy dan liewer bang Jan as dooie Jan? “Jy kan reg wees, maar dan kan jy ‘dood-reg’ wees. Soms moet jy die balans ken tussen ’n uitdaging aanvaar en goed wees vir jouself.”

Wanneer sy nie met haar TV-werk doenig is nie, werk sy saam met die ontwerper Ciska Barnard aan ’n swemklerer­eeks, Bambshell. Dis ’ n droom wat ontstaan het nadat Melinda in 2011 aan die Mej. SA- kompetisie deelgeneem het. “As ek in swemklere gebore kon gewees het, sou ek heel waarskynli­k,” vertel die eilandkind en lag.

Vir Tropika Island of Treasure, die SABC3-werklikhei­dsreeks waaraan sy vroeër vanjaar deelgeneem het, het sy en Ciska ’n reeks swemklere ontwerp. Vir Wie’s Jou Poppie? het hulle weer so gemaak. Daarna het Melinda besluit die tyd is ryp rypomvolui­taanBambsh­ell om voluit aan Bambshell te tebe- begin werk. Nou ontwerp hulle die swemdrag vir vanjaar se Mej. SA-kompetisie en in September word die handelsmer­k amptelik bekendgest­el.

“Daar is nie baie mense wat so met patrone waag soos ek nie. Ek weet ek kan iets nuuts ontwerp, iets wat nie reeds bestaan nie.”

Adriaan en Melinda begin ook vandeesmaa­nd ’n aanlyn ondernemin­g, SheNation, om vroue te bemagtig. Die doel is om vroue te leer om goed na hulself en hul gesondheid te kyk. Melinda wil alles wat sy al van vrouwees geleer het – van hare en grimering tot gesondheid en fiksheid – met vroue deel. Adriaan sal haar ondersteun met sy sakevernuf.

Hulle wil onder meer elke twee maande ’n mooimaakse­ssie van R70 000 weggee. Daarmee kan die ontvanger haar vernuwe na “liggaam en siel”, sê Melinda.

IS DAAR dan enige uitdagings in hul verhouding met dié dat hul lewe soos ’n sprokie klink? Stry hulle dan nooit?

“Wanneer Adriaan baie druk en stres by die werk ervaar,” vertel Melinda, “is dit vir my belangrik om hom rustig te maak en seker te maak hy hou vas aan die Here se beloftes.” Melinda kan vinnig benoud en oorweldig raak en Adriaan is dan goed daarmee om haar daaraan te herinner om fokus te behou. Hulle het ’n “baie goeie manier om konflik te hanteer”, vertel Melinda. “Wanneer ek besig is, kan ek soms gefrustree­r raak en kan dit oorkom asof ek kortaf is. “Adriaan sal dan vir my sê ek moet onthou ’ n mens moet die mooiste werk met die mense naaste aan jou.” Dit gee haar altyd ’n blik op die werklikhei­d, sê sy. “Adriaan praat gelukkig altyd wanneer iets hom pla,” sê Melinda. “Ons maak seker frustrasie­s of bekommerni­sse bou nie op nie. Ons praat daardeur, bid daardeur en gaan aan.” Hulle ondersteun mekaar en vul mekaar aan, sê hulle byna uit een mond. Wanneer Adriaan besig is, kan Melinda hom moed inpraat. En wanneer Melinda besig is, “is die bad ingetap” wanneer sy saans by die huis kom. “Dit is tog wat ’n span is, om mekaar te dra,” glo sy. “Om opreg te wees teenoor jouself is baie belangrik,” voeg Adriaan by. “Een van die grootste probleme is mense is dikwels oneerlik met hulself. Dit lei dan tot ongelukkig­heid in die huwelik.” Dankbaarhe­id en geloof is nog twee belangrike aspekte van hul verhouding. “Terwyl ons in ons heel eerste woonstelle­tjie gewoon het, was ons net so gelukkig en net so dankbaar as wat ons nou is,” sê Adriaan. Melinda beaam dit. “Wanneer uitdagings oor ons pad kom, bid en praat ons daaroor. Ek is nie sy doel op aarde nie en hy nie myne nie. Ons is mekaar se spanmaats sodat ons ’n groter doel op aarde kan vervul,” glo sy. En ja, albei huweliksma­ats wil graag “eendag” kinders hê. “Ons praat dikwels oor kinders, maar daar is nog so baie wat ons eers wil vermag,” vertel Adriaan. Melinda stem saam. “Ons het albei vrede in ons hart dat dit nie nou die tyd is nie.” En hoe lyk daardie reisdagboe­k vir die res van die jaar? Griekeland, die suide van Frankryk, Australië . . . Ken en Barbie? Nee, dié twee het dit selfs beter!

‘ ’n Mens moet die mooiste werk met die mense naaste aan jou’

Wie’s Jou Poppie? word elke Woensdagaa­nd om 18: 00 op VIA ( DStvkanaal 147) uitgesaai.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Adriaan Bergh en Melinda Bam is mal oor mekaar en gek oor reis. HEEL BO: Hulle gaan ski jaarliks. BO: Albei is verlief op Parys. REGS: Vroeër vanjaar in Indonesië.
HOOFFOTO: Adriaan Bergh en Melinda Bam is mal oor mekaar en gek oor reis. HEEL BO: Hulle gaan ski jaarliks. BO: Albei is verlief op Parys. REGS: Vroeër vanjaar in Indonesië.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Adriaan en Melinda se resep vir huweliksge­luk is om baie te lag en so groot moontlik te droom.
Adriaan en Melinda se resep vir huweliksge­luk is om baie te lag en so groot moontlik te droom.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa