Brandweermans gee kind nuwe “bene”
Danksy twee brandweermanne sal Sisi nie meer die pyn hoef te verduur om op stompies te loop nie
’NMENS sien omtrent net die pienk sonbril bo-op die klein meisietjie se kop waar sy nuuskierig deur die motor se ruit loer. Sy lyk soos enige ander gr. 2’tjie; die ene agie. Dis eers toe die deur oopgaan en sy haar uit die motor lig dat jy besef sy is allesbehalwe doodgewoon.
Op die stompies van haar geamputeerde bene stap sy doodluiters tot by haar rolstoel wat reeds langs die voertuig staan en wag. Woeps, gee sy ’n tree tot op die voetstuk en lig haar tot op die sitplek.
Met haar helderpienk T-hemp staan die sewejarige Siphosethu Ncandana soos ’n blom uit tussen die rooi brandweerwaens hier by die KwaNobuhlebrandweerstasie buite Uitenhage in die Oos-Kaap. Sy is vandag spesiaal hierheen gebring om haar storie met Huisgenoot te deel.
Klein Sisi, soos almal haar noem, beweeg met haar rolstoel tot by Alton Senekal (44), die stasiebevelvoerder, in sy kraakwit hemp, swart langbroek en blink leerskoene. “Hallo, Sisi,” groet hy en vat saggies aan die glimlaggende kind se arm. Haar ouma Pinky Ncandana (71) stap stadig nader.
Sisi en Alton is pal in die nuus sedert sy op 25 April in die provinsiale hospitaal in Port Elizabeth haar eerste paar prostetiese bene gekry het. Tussen al die flitsende kameras en vreemde gesigte het Alton en sy kollega Lungile Mni (62) ook die groot oomblik aanskou. Dit is te danke aan dié twee mans dat Sisi binnekort met prosteses sal kan loop.
Sisi en haar ouma praat Xhosa en verstaan net enkele woorde in Engels en Afrikaans, vertel Alton, maar Lungile het hulle gehelp om mekaar beter te verstaan.
“Dit is nog moeilik om die prosteses aan te trek,” tolk Lungile ook vandag toe Sisi vertel hoe dit nou gaan. “Maar dit was baie lekker toe ek die bene kry,” sê sy skaam, met Lungile wat vertaal.
“Soms het ons regtig gedink dit gaan nie gebeur nie,” vertel Alton en kyk na Lungile wat langs hom sit. Die groot man in sy brandweeruniform knik bevestigend. “Maar Woensdag toe sy die prosteses kry, het dit gevoel soos ’n hoofstuk wat voltooi is,” sê Alton. “Dit was so ’n bevredigende gevoel.”
DIT was 27 Oktober 2015, onthou Alton nog die presiese datum.
“Ek en Lungile het die middag so eenuur se kant teruggery stasie toe nadat ons uitgeroep is na ’n huisbrand net ’n entjie hiervandaan. Lungile het al voorheen vir my genoem van dié kind wat in dieselfde straat as hy woon, maar dit het nie heeltemal by my ingesink nie. Toe ons daardie middag terugry, sien ons hoe sy saam met die ander kinders in die straat speel. Sy was baie klein, maar so spontaan.”
Toe hy sien hoe sy op haar stompies tussen die ander kinders rondhardloop, het hy gewonder: “Kry sy dan nie seer daar op die teer nie?”
Hy was verwonder oor hoe gelukkig die klein meisietjie gelyk het.
Dié gesig het Alton, wie se eie dogter, Soné, in daardie stadium twee jaar oud was, diep ontroer. “My broer het ook ’n (serebraal) gestremde seuntjie; dus weet ek hoe uitdagend dit kan wees om so ’n kind groot te maak.
“Ek het net gedink: Watter toekoms het sy? Wie gaan haar help? Iemand sal dit moet doen, maar wie?”
Die “wie?” sou toe Alton en Lungile word. Hulle het sommer die volgende dag al werk gemaak van hul plan en by ouma Pinky gaan aanklop om te hoor of hulle die meisietjie nie op ’n manier kan help nie, al sou dit dalk net wees om vir haar ’n rolstoel in die hande te kry.
“Dit was maar vreemd, want ’n mens ken nie die mense nie en jy wil ook nie
inbreuk maak op hul privaatheid nie,” sê Alton.
Tog het Pinky die twee brandweermanne met ope arms verwelkom en die gesin se verhaal met hulle gedeel. Sy het vertel Sisi se ouers is kort ná haar geboorte dood. Vroualleen sien sy nou om na Sisi en haar broer en suster, Sinovuyo (13) en Aphelele (11).
Boonop was Pinky in daardie stadium byna heeltemal blind, want as baba het ’n doring in haar een oog gesteek en die ander oog was so vol katarakte dat sy skaars 10% sig gehad het.
Pinky het toe vertel Sisi is met bene wat misvorm is onder die knie gebore. Haar bobene sou volgens dokters normaal ontwikkel, maar sy sou haar onderbene nooit kon gebruik nie.
“Haar bene is dus onder die knie geamputeer toe sy twee jaar oud was,” vertel Alton nou die storie.
Dit het sy hart gebreek toe hy hoor Sisi, wat die volgende jaar gr. R toe moes gaan, is by ’n skool in die omgewing weggewys omdat hulle blykbaar nie in haar behoeftes kon voorsien nie.
“Ja, dit was moeilik,” tolk Lungile namens Pinky. Dan vertel sy deur Lungile sy was veral bekommerd omdat Sisi nie soos ander kinders skool toe sou kon stap as die bus nie opdaag nie.
“Nee, ’n mens kan nie so loop nie,” voeg Lungile by. “Die teerpaaie hier is grof. Dit het my hartseer gemaak,” sê hy.
Op die plek het Alton en Lungile besluit om in te gryp.
DIT was ’n langsame proses wat baie vasbyt geverg het, erken die twee mans.
Eers het Alton Pinky gehelp om by die plaaslike kliniek aansoek te doen vir ’n rolstoel, wat sy toe vier maande later gekry het.
Toe moes ouma gehelp word. Alton en Lungile het reëlings getref en gesorg dat Pinky by die provinsiale hospitaal ’n oogoperasie ondergaan om die katarakte in haar oog te verwyder. Dit was suksesvol en sy het sowat 80% van die sig in dié oog herwin.
Hierna het Alton by ’n pediater navraag gedoen oor hoe om aansoek te doen vir Sisi se prosteses en gehelp met die proses om dit te doen. Verlede jaar moes Sisi ’n tweede amputasie-operasie, dié keer in die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, ondergaan sodat haar stompies reg gevorm sou wees vir die nuwe prosteses.
“Daarna kon hulle eers haar mate begin neem,” vertel Alton. “Dit was ’n tydsame proses omdat ons baie afhanklik was van die staatshospitaal se begroting en of daar geld is vir Sisi se prosteses. Jy stap nie net by die hospitaal in en word gehelp nie; daar is lang waglyste vir afsprake.”
Alton en Lungile was gedurig in verbinding met die provinsiale hospitaal om te hoor hoe dinge vorder. Hulle het Pinky met al die dokumente gehelp en Sisi en haar ouma aangery hospitaal toe vir hul afsprake.
“Sodra dinge ’n bietjie stil geraak het, het ons maar weer gebel om te hoor. Hulle het ons altyd die versekering gegee hulle is besig met die proses,” sê Alton. “In die afgelope twee en ’n half jaar het ons seker tussen 10 en 12 keer hospitaal toe gegaan,” werk Alton uit, en Lungile knik.
“Ons moes dit alles tussen ons skofte doen,” sê hulle.
Terwyl ons gesels, dra ’n brandweerman vir Sisi jogurt aan met ’n lepel daar- by. Daarna bring nog een ’ n pakkie skyfies. Later glip Sisi weg uit die onderhoud en gooi sy bal saam met die fotograaf. Die sweet pêrel op die laggende meisietjie se voorkop.
Hoewel Sisi nog nie met die prosteses kan loop nie, sal sy in Mei met fisioterapie begin om daarmee te leer loop.
“En ek wil seker maak ek is daar om te hoor wat die pad vorentoe is vir haar. Ons gaan haar darem nie net so los nie,” sê Alton.
Sisi is deesdae in gr. 2 aan die Laerskool Stephen Nkomo, en die twee mans kon intussen haar grootste droom bewaarheid: om haar heel eerste paar skoolskoene
vir haar te koop.
‘Ek het gedink: Watter toekoms het sy? Wie gaan haar help?’