Paarlse kerkklokke is vir eers stil
Die klokke van die Toringkerk in die Paarl is ná meer as ’n eeu skielik stil nadat inwoners oor die ‘geraas’ gekla het
KLIM jy met al 157 houttrappies van die kerktoring op, begroet vyf antieke bronsklokke jou aan die bopunt. Op 57 m is dié toring die hoogste in die land en sy klokke tel al meer as ’ n eeu elke uur van die dag af. Elke kwartier lewer dit ’n klokkespel . . . maar nie meer nie.
Die gebeier van die klokke van die geskiedkundige NG Toringkerk in die Paarl het net so deel van dié dorp in die Kaapse Wynlande geword as Paarlberg wat daaroor uittroon, maar sowat ses maande gelede het die klokke skielik stil geword.
Die rede vir die byna vreemde swye? Die kerkraad het ’n prokureursbrief oor die “alewige geraas” ontvang.
Die brief is geskryf in opdrag van Nico Serfontein en sy vrou, Sue, wat oorkant die kerk woon en kla die gelui van die kerkklokke versteur hul nagrus. Want hoe moet ’n mens dan nou jou agt uur inkry as jy elke uur daaraan herinner word die nuwe dag kom ál nader?
Terwyl die stilte wat nou snags heers waarskynlik vir dié Paarlse paar meer rustigheid bring, is dit vir talle ander Paarliete net mooi die teenoor- gestelde van musiek in hul ore.
Boonop is die klokke nie net snags tjoepstil nie – ook bedags kom daar nie meer ’n piep of ’n klingel uit die toring nie.
En dit maak inwoners sommer lekker vies dat hul dorp nou sonder sy klokkeklankbaan is.
“Ek dink ons moet ons toeters blaas elke keer wanneer ons verby die kerk ry,” het een inwoner in die sosiale media voorgestel. Ander wil sommer uit protes begin toi-toi en daar is selfs sprake van ’n petisie.
“Dis baie hartseer,” sê Neels Visser, die koster en opsigter van die kerk terwyl hy die trap in die toring rats uitklim.
Hoe hoër hy in die toring vorder, hoe meer blyk die argiteksvisie, vakmanskap en kunstigheid waarmee die kerkgebou 111 jaar gelede gebou is.
Die kerkklokke wat nou in omstredenheid gehul is, is in 1906 deur J. Smith & Sons in Londen vervaardig, hierheen ingevoer en in die kerktoring geïnstalleer om ’n welluidende klokkespel die omgewing in te stuur.
“Kyk, daar moes ons hom muil,” sê Neels en wys hartseer na die gewig van die een klok wat veronderstel is om vrylik te hang, maar nou in die hoek van ’n stellasie rus. Vier plaatjies in die meganisme waarmee die klokke en die wysers gestel word sodat dit op bepaalde tye lui, is met dun draadjies vasgebind. Nog ’n draad uit die dak is aan ’n hefboom in die meganisme vasgemaak – alles verstellings om te sorg die klank van die klokke word gesmoor.
Maar vir hoe lank? is die groot vraag op Paarliete se lippe.
“Ons wil nie die klokke af(geskakel) hê nie; ons wil net hê dit moet getoets word om te bepaal of dit binne die munisipale regulasies is,” sê Nico by navraag aan Huisgenoot.
Die Toringkerk se kerkraad wil seker maak hulle oortree geen regulasies nie, sê hul voorsitter, Stefan Roux. Dis dié dat hulle besluit het om vir eers die klokke stil te maak en die vrede te bewaar.
D
IS nie die eerste keer in sy lang geskiedenis dat die Toringkerk se klokke ophou lui het nie. Die vorige keer was in 2010 toe die kerkklokke onklaar geraak het. Die Serfonteins het juis in dié tyd van stilte in 2012 in die huis oorkant die kerk ingetrek en later ’n hondesalon op die
‘Wat is dan mooier as ’n kerkklok wat lui?’
perseel ingerig. Hy en sy vrou sou waarskynlik nooit die huis gekoop het as hulle geweet het die klokke lui so hard nie, sê Nico aan Huisgenoot. Die eiendomsagent het hulle nie gewaarsku die klokke kan weer begin lui nie, beweer hy.
In 2015 het die kerk met herstelwerk aan die klokke begin. Dit het oor drie fases gestrek teen ’n koste van sowat R44 000. Verlede September is die werk afgehandel en was talle Paarliete verheug om weer die bekende dreuning van die ou klokke te hoor.
Maar vir die Serfonteins het dit “moeilikheid” beteken. Snags het hulle so gesukkel om te slaap, hulle het besluit om regstappe te neem. ’n Week of wat nadat die klokke weer begin lui het, het die kerkkantoor ’n prokureursbrief ontvang waarin Nico en Sue vra dat ’ n desibellesing van die kerkklokke geneem word om te bepaal of dit binne die munisipale regulasies is.
“Ons weet dit (die gelui van die kerkklokke) is deel van die erfenis en al daai goed, maar ons wil net saans kan slaap,” sê Nico. Hy weet die munisipaliteit het al ’n klanktoets uitgevoer, maar hy het nog geen terugvoer van hulle daaroor ontvang nie.
Die kerkraad het wel die uitslag van die toets gekry. “Die enigste terugvoer wat ons ontvang het, is dat die desibelperk in die dag 57 is, waarbinne ons val, en saans is dit 47, wat ons oorskry,” sê Stefan.
Verder vra die munisipaliteit die kerkraad moet die klokke aanpas om die klank effens te demp. Daarna moet hulle weer ’n klanktoets doen en dit aan die munisipaliteit voorlê. Maar nou wag die kerkraad eers vir die munisipaliteit se gedetailleerde verslag oor die klanktoets sodat hulle kan sien watter deel van die klokkespel te hard is, op watter tyd van die dag die lesings geneem is en watter soort toetse gedoen is.
“Ons wil die klokke weer laat lui, maar wil dit binne die bepaalde regulasies doen,” sê Stefan. “Ons wil graag goeie buurmanskap met die Serfonteins hê en wil niemand aanstoot gee nie.”
Intussen is dit juis die dawerende stilte uit die kerktoring wat talle Paarliete warm onder die kraag het. Wanneer die klokke in volle werking is, lui dit elke 15 minute en gee dit elke uur die tyd met klokhelder slae aan.
Die Toringkerk is ’n trotse baken in die Paarl. Die kerk se vloerplan is in die vorm van ’n kruis ontwerp en die banke is van Egiptiese eikehout gemaak en bied sitplek vir sowat 2 000 mense. Bekendes soos die Springbokrugbyspelers Bryan Habana en Jean de Villiers het al hier getrou. Tonele vir die rolprent Vir Altyd is in die kerk geskiet toe Donna-Lee Roberts se karakter voor haar troue voor die kansel gelos word.
’n Mens “hoor skaars die klok”, sê ’n jong pa van ’n agt maande oue tweeling wat in die omgewing van die kerk woon, maar nie sy naam genoem wil hê nie. Sy oorlede ouma wat 25 jaar lank in die huis gewoon het, sou veral jammer gewees het om te hoor die klokke is nou stil.
Sylvia Smith (78), ’n boorling van die Paarl, is in die Toringkerk gedoop, sy en Ewert (80) is daar getroud, hul kinders is daar gedoop en hulle woon al byna ’n leeftyd lank in die omgewing van die kerk. “Wat is dan mooier as ’n kerkklok wat lui?” wil sy weet.
As die kerkklokke die Serfonteins pla, wat dan van die geblaf van die honde wat na hul hondesalon kom? wonder Ewert. “Ek het gister daar verbygestap. Die honde bláf.” ’n Polisievrou wat in ’n woonstelblok naby die kerk woon, reken die klagte oor die klokke is belaglik. “Dit was so mooi toe dit nog gelui het. Vir my voel dit altyd asof die klokke my kerk toe roep,” sê die vrou, wat anoniem wil bly.
Len Raymond van die Drakensteinerfenisvereniging sê hulle is ook ongelukkig omdat die kerkklokke nou stil is. “Die klokke is deel van die kerk en die kerk is deel van die dorp se geskiedenis.”
Die Drakenstein-munisipaliteit kon nog nie ’n gedetailleerde verslag oor die klanktoets van die klokke aan die kerkraad verskaf nie omdat dit persoonlike inligting oor die klaer bevat, het Lauren Waring, ’n munisipale woordvoerder, by navraag aan Huisgenoot gesê. “Die munisipaliteit beveel aan die Toringkerk stel ’n geraas- en erfenisspesialis aan wat maatreëls kan voorstel sodat die regulasies nie oortree word nie. Dit is nie die munisipaliteit se rol om enige instruksies hieroor te gee nie.”