Liefde vir die Titanic lei totTintanic
Gino se liefde vir die gedoemde skip het gelei tot ’n vervoerbare model daarvan
DIT lyk op ’ n druppel water na die Titanic, maar dis nie die beroemde skip wat meer as honderd jaar gelede in die ysige dieptes van die Noord- Atlantiese Oseaan gesink het nie. Jy kan ook nie soos Kate Winslet se karakter Rose in die gelyknamige 1997-trefferfliek op dié indrukwekkende skip wegvaar om die liefde van jou lewe te ontmoet nie, want dit staan in ’ n winkelsentrum vasgemeer . . .
Hier is wel ’n skeepskaptein aan diens by die skaalmodel van die 269,06 m lange gedoemde passasierskip. In ’ n spierwit hemp, spierwit onderbaadjie, spierwit denimbroek en ewe spierwit puntskoene staan Gino Hart, die ontwerper van die “Tintanic”, trots langs sy handewerk.
Tintanic, ja, want dis hoofsaaklik uit blik gebou, “én dit gaan oor kopiereg vir my as kunstenaar”, verduidelik hy.
“Ek het op dié naam besluit sodat mense dit makliker op die internet kan opspoor,” vertel die 33-jarige boorling van Oranjeville in die Vrystaat oor die skaalmodel, wat hy in 2014 begin bou en verlede jaar voltooi het.
Dit is weliswaar kleiner as die oorspronklike skip, maar op 18,7 m lank is dit steeds indrukwekkend.
Die Tintanic word tans gereken as die grootste skaalmodel van ’n skip in Afrika en die vyfde grootste in die wêreld.
Die grootste skipskaalmodel ter wêreld is een van die Lagoda, ’ n 19de-eeuse walvisboot. Dit is 27 m lank en word in die New Bedford- walvismuseum in Amerika ten toon gestel.
Volgens Gino is ’n vervoerbare model van die Tintanic se kaliber nog nêrens in die wêreld ontwerp nie. Ander modelle van die Titanic word in museums en ander “statiese posisies” oor die wêreld heen gehuisves.
“Ons kan dit uitmekaarhaal en vervoer,” verduidelik Gino oor sy geliefde Tintanic. Dit is boonop so ontwerp dat mense deur venstertjies kan kyk hoe die binnekant lyk.
Saam met sy twee assistente, André Figgins (27) en Andre Sutherland (31), oftewel “A1 en A2”, reis hy die land vol om daarmee te spog.
Dié drie manne is passievol oor hul projek en skroom nie om hard te werk nie.
“Ons het vanoggend eers halfvyf in die bed gekom en A1 het my weer kwart oor ses wakker gebel en gesê dis tyd om op te staan; ons het werk om te doen,” vertel Gino langs sy spogskepping in die Killarney-winkelsentrum in Johannesburg.
Hulle het deurnag gewerk om die Tintanic vir sy maand lange uitstalling van 1 Junie af in dié sentrum gereed te kry. Waar die skaalmodel voorheen op sleepwaentjies vervoer is, kon hulle dit nou vir die eerste keer met ’n trok vervoer. “Ek was so bly, want dit het gisteraand gereën,” lag Gino.
Die Tintanic bestaan uit ses dele en dit was moeilik om dit elke keer op te breek en van stad tot stad te vervoer.
“Om dit te skuif is ’n groot storie. Ons is gewoonlik ses mans wat 10 uur aaneen werk om dit uitmekaar te haal,” sê Gino.
Hy het dus verlede jaar besluit om dit net op twee plekke te verdeel en so te vervoer. “Dit bestaan steeds uit ses dele,
maar ek vervoer dit nou net anders,” vertel hy
GINO was 12 jaar oud toe hy as ’ n Vrystaatse seun die eerste keer die bekroonde rolprent Titanic kyk. Dié fliek het destyds 11 Oscarpryse gewen. “Dit was asof ek die skip geken het. My lewe het van volkleur na sepiaskakerings verander,” vertel Gino van die oomblik toe hy die fliek gekyk en dit gevoel het asof hy “’n ou vriend herontdek”.
Op 14-jarige ouderdom het hy sy heel eerste replika probeer bou.
“Dit het natuurlik niks soos die Titanic gelyk nie,” lag hy oor die eerste van baie modelle wat hy gebou het.
Hy het met die jare verskeie prototipes uit karton, hout en polistireen gemaak.
Gino het op die dorpies Oranjeville en Villiers grootgeword. As ’n leerder aan die Hoërskool Villiers het hy aan sy gr. 8-houtwerkonderwyser, Jos Ferreira, gesê hy wil die Titanic as ’n houtwerktaak bou. “Ek het hom gesê ek sal eers in matriek daarmee klaar wees en hy het gesê dis malligheid; dit sal my lewe oorneem.”
Maar Gino het voet by stuk gehou en sy projek in matriek suksesvol voltooi.
En sy onnie was toe ook reg: Sy liefde vir die Titanic het inderdaad sy lewenskoers bepaal.
Ná skool het Gino as ’ n verkoopskonsultant by ’n tydskrif gewerk voor die tydskrif in 2013 poste besnoei het.
Toe hy afgelê word, het hy besluit om hom voltyds op sy liefde vir die bou van Titanic-skaalmodelle toe te spits. Die eerste drie jaar het dit finansieel broekskeur gegaan en hy onthou die knaende twyfel van dié tyd: “Soms het ek drieuur die middag nog in my nagklere gesit, kop onderstebo in die sitkamer. “Dit was moeilik, maar aanhouer wen.” In 2014 het hy die Tintanic-klub gestig om sy projek in ’n onderneming te verander, wat hom met finansiering gehelp het. Genoeg belangstellendes was bereid om die jaarlikse lidmaatskapsfooi van R1 200 op te dok sodat hulle meer van “die Tintanic én die Titanic” kon leer, vertel Gino.
Later het hy borgskappe van ondernemings gekry en in 2015 en 2016 het hy agt maande lank as geskiedkundige by die Titanic-artifakteuitstalling gewerk toe dit in Suid-Afrika ’n draai maak. Hy het by dié uitstalling in Kaapstad en Johannesburg meer as 25 000 mense op uur lange toere geneem om die 144 ware artefakte van die Titanic te besigtig.
Die Tintanic is eindelik, ná jare se werk en teen ’n koste van sowat R500 000, voltooi en in Junie verlede jaar bekendgestel. Gino het dié opwindende oomblik op Villiers saam met sy oudhoutwerkonderwyser gevier. “Ek was sy laaste houtwerkleerling; daarom het ek besluit om soontoe terug te gaan,” vertel hy.
V ANDAG is Gino trots op wat hy vermag het en hy beplan nog groot dinge met die Tintanic. “Ek wil dit ’n bietjie versier,” vertel hy oor sy vyfjaarplan.
Hy wil onder meer 1 523 figuurtjies uit hars maak. Dié figuurtjies sal die getal mense verteenwoordig wat in die Titanic-ramp gesterf het. Hy wil ook 6 000 LED-liggies in die verskillende vertrekke installeer sodat die skip nog meer na die ware Jakob lyk.
En dan is sy grootste droom om die finale weergawe van die Tintanic in 2022 in Kaapstad ten toon te stel.
“Ek glo daarin ’n mens moenie bang wees om jou drome na te jaag nie, en dit is presies wat ek doen.”
Die Tintanic sal tot einde Junie in die Killarney-winkelsentrum te sien wees voor dit na nog winkelsentrums oor Gauteng heen sal reis.
“Ek is opgewonde, want ons is die res van die jaar volbespreek. Ons gaan dit elke maand in ’n ander winkelsentrum aan mense ten toon stel en daarmee spog.”