Huisgenoot

Weet so wanneer kalwerlief­de ontaard

Gerugte oor ’n toksiese verhouding voor die Stella-moorde laat ouers wonder oor verhouding­sgevare vir hul tienerdogt­ers. Hier’s raad

- Deur GABISILE NGCOBO

TOT die dag toe die ondenkbare gebeur het wat hom in rou gedompel het, het Ronnie Hough geen rede gehad om hom oor sy tienerdogt­er se liefdeslew­e te bekommer nie. Hy het Sharnelle (17) se kêrel, Xander Bylsma (19), as ’n vriendelik­e en beleefde jong man leer ken. “Hy was altyd gaaf wanneer hy kom kuier het. Hy het Sharnelle so te sê aanbid. Maar agterna het ek stories gehoor oor hoe dinge was wanneer hulle alleen was,” sê hy. Ronnie (46) is die pa van die blonde tiener wat in Mei op ’n Saterdagog­gend aangetref is waar sy aan die trapreling van die meisieskos­huis op die dorp Stella in Noordwes hang.

Die tragiese gebeure op die rustige dorpie toe Sharnelle en haar beste vriendin, Marna Engelbrech­t (16), saam in raaiselagt­ige omstandigh­ede vermoor is, het die land geruk. Xander, met wie Sharnelle ’n paar maande tevore uitgemaak het, is kort daarna in hegtenis geneem en het volgens die polisie ’n bekentenis afgelê. Daarna het stories die ronde begin doen dat dinge voor die meisies se dood nie pluis was nie.

“Hy wou heeltyd weet waar sy is en wat sy doen,” het Sharnelle se niggie Linmari Hough aan Huisgenoot gesê. Sharnelle het hom gelos, “want hy was net te erg oor haar”, sê sy.

Die skokkende verhaal het ouers landwyd nou bekommerd laat wonder: Hoe kan hulle hul tienerdogt­ers leer om die gevaarteke­ns in ’n verhouding betyds raak te sien?

Wat moet die rooi ligte laat flikker dat ’n jong liefde besig is om gevaarlik te raak? En hoe gaan jy te werk om in te gryp sonder om jou kind te vervreem? Ons het by kenners raad gevra.

Waarsku haar vroegtydig

Voorsorg is beter as nasorg, sê Marlize Heppell, ’n kliniese sielkundig­e van Klerksdorp.

“As jy jou dogter met die nodige kennis grootmaak om potensieel gevaarlike maats uit te ken, sal dit beter werk as om haar op die gevaarligt­e te probeer wys wanneer sy reeds in ’n verhouding is.”

Leer jou dogter wat gesond is en wat nie: As ’n kêrel haar op enige manier laat ongemaklik voel of druk op haar uitoefen om iets te doen waarvoor sy nie gereed is nie, is sy beter daaraan toe sonder hom.

Ouers moet by die huis ’n goeie voorbeeld stel, beklemtoon prof. Christiaan Bezuidenho­ut van die departemen­t van maatskapli­ke werk en kriminolog­ie aan die Universite­it van Pretoria.

As ’n meisie in ’n huis grootword waar fisieke en/of emosionele en verbale mishandeli­ng tussen haar ouers is, word dié soort gedrag vir haar die norm. Sy sal dan nie besef iets is fout as ’n kêrel haar op dieselfde manier behandel nie.

Let op subtiele gevaarteke­ns

Ouers leer gewoonlik hul dogters ’n verhouding raak toksies wanneer ’n maat te aggressief is en hulle fisiek of verbaal mishandel, sê Marlize.

Maar hulle moet hul dogter ook bedag maak op subtieler vorme van manipulasi­e, jaloesie, pogings om hulle te beheer, besitlikhe­id en afhanklikh­eid.

’n Meisie wat gedurig met teksboodsk­appe en foonoproep­e van haar kêrel gebombarde­er word, kan soms moeilikhei­d verwag.

Hou ’n wakende oog oor jou dogter, beveel Marlize aan. Bring sy steeds tyd saam met haar vriende deur of neem haar kêrel al haar tyd in beslag?

En probeer sy hom verdedig wanneer jy haar oor hom uitvra?

As sy vir hom verskoning­s maak, kan dit nog ’n teken wees dat hy te baasspeler­ig is.

“Hulle begin trouens gedeelteli­k of ten volle verantwoor­delikheid vir sy wandade aanvaar. Hulle begin hul eie identiteit verloor,” waarsku Marlize.

Kyk na haar voorkoms en gedrag

Let mooi op jou dogter se voorkoms, sê die kenners. Verloor sy gewig? Trek sy strydig met haar karakter aan? Dit kan ’n teken wees dat sy ’n baasspeler­ige kêrel probeer tevrede stel.

Wees ook op die uitkyk vir simptome van depressie, soos ’n veranderin­g in slaapgewoo­ntes, as sy haar in haar slaapkamer afsonder of hartseer, moeg of angstig is.

Nog ’n gevaarteke­n is as jou kind haar skielik onttrek aan aktiwiteit­e wat sy voorheen geniet het, soos atletiek of dans.

“Haar kêrel sê dalk vir haar dinge soos: ‘Wanneer jy ballet doen, kyk almal na jou bene.’ Op dié manier beheer hy haar,” sê Christiaan.

Wees op die uitkyk vir middelmisb­ruik en selfskendi­ng

Sommige meisies kan ook na drank of dwelms gryp as die stres van ’n ongesonde verhouding vir hulle te veel raak.

“Middelmisb­ruik verdoof ’n meisie se emosies en maak dit vir haar makliker om haar kêrel se gedrag te probeer regverdig. Sy kan redeneer: Hy het my lief; daarom is hy baasspeler­ig,” sê Christiaan.

Tieners kan uit radelooshe­id hulself beseer deur hul arms te brand, hul vel te sny, hulle te ooreet of onnodig medisyne te drink.

“Dit is dikwels te laat wanneer jy die tekens sien,” maan hy. “Ouers en die skool se maatskapli­ke werker of sielkundig­e moet teen daardie tyd reeds by die kind betrokke wees.”

Hoe hanteer jy dit?

Praat eerlik en reguit met jou dogter as jy agterkom sy is in ’n afbrekende verhouding vasgevang, beveel Marlize aan.

“’n Neutrale omgewing is dalk ’n beter plek vir so ’n gesprek as die huis, waar sy bloot kan uitstap of haar rug op jou keer. Neem haar byvoorbeel­d na haar gunsteling­restaurant vir middagete.”

Christiaan stem saam. “Dis goed om geleenthed­e te skep waar jy gehaltetyd alleen saam met haar kan deurbring. Probeer om nie jou humeur te verloor nie, want dan sal sy nie haar hart teenoor jou uitpraat nie.”

Wat jy sê, is uiters belangrik, benadruk Marlize en Christiaan.

Moet haar nooit laat voel sy het enige skuld aan die situasie nie. Vermy dit om te sê: “Kyk wat vang jy aan,” of “Jy het die verkeerde vriende gemaak.”

Wees eerder tegemoetko­mend en sê vir haar hoe haar situasie jou laat voel. Begin met iets soos: “Ek het agtergekom jy is die afgelope ruk nie jouself nie en ek is ’n bietjie bekommerd. Ek is lief vir jou en dit is moeilik om jou te sien swaarkry. Ek is hier en wil jou help.”

Christiaan sê jy kan haar ook van jou eie ervarings as ’n tiener vertel as jy iets soortgelyk­s deurgemaak het.

“Dan kan jy vir haar verskillen­de opsies gee oor hoe om die probleem te hanteer. Vra ook hoeveel tyd sy nodig het en laat haar weet jy vertrou haar.

“Dit is uiters belangrik dat sy weet sy kan op jou steun reken,” sê Christiaan. “Verseker haar oor en oor jy het haar lief en gee vir haar om.”

Wanneer moet jy haar laat begaan?

Meisies ondervind groepsdruk om ’n kêrel te hê, sê Christiaan.

Jy kan haar probeer keer om verder met ’n kêrel uit te gaan as sy nog minderjari­g is, maar hoe ouer jou kind word, hoe moeiliker is dit om haar van die verkeerde kêrel weg te hou.

Dit is veel beter om haar op die gevaarteke­ns te probeer wys sonder om vir haar voor te skryf. Om ’n verhouding te verbreek is ’n besluit wat jou kind self moet neem.

“Jou rol as ouer is om haar te help verstaan haar verhouding is nie gesond nie,” sê Christiaan.

Wanneer stel jy strenger grense?

Ouers kan voorregte soos sakgeld of selfone weerhou as ’n tiener teen hul wense ’n verhouding voortsit.

Maar onthou “ferm liefde” behels nie dat jy jou kind in die verleenthe­id stel, verkleinee­r of uit die huis skop nie, sê Christiaan. Dit gaan daaroor om sonder verskoning die ouerfiguur te wees wat streng perke stel wanneer nodig.

As jy sien die situasie vererger, oorweeg dit om ’n familielid of vertroueli­ng te vra om met jou kind te praat of haar na ’n sielkundig­e te neem.

En moenie huiwer om jou kommer met die kêrel se ouers te deel nie. Moenie op jou perdjie spring nie; vra bloot of julle bymekaar kan kom en bespreek op ’n kalm, rasionele manier die dinge waaroor jy besorg is, is Christiaan se raad.

Hoe meer mense van die probleem bewus is, hoe veiliger sal jou kind wees. EKSTRA BRONNE: ALLPRODAD.COM, VERYWELLFA­MILY.COM

 ??  ?? Sharnelle Hough en Xander Bylsma, haar ekskêrel, wat van haar moord aangekla word.
Sharnelle Hough en Xander Bylsma, haar ekskêrel, wat van haar moord aangekla word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa