Huisgenoot

Liewe Elize

-

V My seun is 24 en werk en woon ver van my af. Sy salaris dek skaars sy huur. Sy pa is 56, woon by hom in en werk al die afgelope byna twee jaar nie.

Hulle sukkel werklik. My seun het al van sy besittings verkoop om die pot aan die kook te hou. Hy wil nie sy pa los en by my en my man kom woon nie.

My seun glo as hy dit doen, sal sy pa geen heenkome hê nie. Sy pa ly aan diabetes en is ook nie die vriendelik­ste mens nie.

Hoe kan ons maak om hom te help?

MS op BR

A Nadat ’n mens ’n kind die wêreld ingestuur het en hy dalk te veel verantwoor­delikhede aanvaar, is dit moeilik om hom te sien swaarkry. As ouer gun ’n mens hom die kommerlose lewe wat enige jong mens van sy ouderdom moet geniet voor hy self wortelskie­t en met ’n gesin begin. Tog moet jy sy keuses respekteer. Jy kan hom wel help deur hom so te steun dat sy lewe makliker word en hy beter keuses kan maak. Maar moenie van hom verwag om teen sy pa te kies nie. Goedhartig­e mense soos jou seun wat meelewend leef en hulself dikwels tweede stel, beleef meer spanning wanneer hulle van nood weet en dit nie kan help verlig nie.

As julle enigsins kan, bied aan om van jou seun se uitgawes te dek, soos om maandeliks sy elektrisit­eit te betaal. Miskien kan julle met vervoeronk­oste help sodat hy gereeld by julle kan kom kuier. Bederf hom dan behoorlik en gebruik die kans om hom op beter werkgeleen­thede in sy omgewing te wys.

Kan sy pa dalk vir ’n welsyntoel­ae in aanmerking kom? Miskien kan jy navorsing hieroor doen en so jou seun se finansiële las help verlig.

As jy nog enigsins bande met jou eks se familie het, kan ’n gesprek met hulle dalk vrugte afwerp. As hulle op enige manier verantwoor­delikheid vir hom kan help aanvaar, kan dit almal se lewe makliker maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa