Els-familielid speel gholfwêreld warm
Hy het nie verniet Els-bloed nie – Ernie se susterskind Jovan Rebula laat die gholfwêreld regop sit, veral nadat hy so in Skotland geskitter het
SY VAN is nou wel nie Els nie, maar ’n jong SuidAfrikaner laat deesdae die gholfwêreld regop sit. Die 20-jarige Jovan Rebula het verlede maand geskiedenis gemaak toe hy die Britse Amateurgholfkampioenskapstoernooi in Aberdeen, Skotland, wen – die eerste Suid-Afrikaner in 52 jaar wat dit regkry en die tweede in die afgelope 133 jaar.
Met daardie ernstige frons op sy voorkop wanneer hy konsentreer om die volmaakte hou te slaan, herinner die aantreklike donkerkopsportman jou dalk aan nog ’n gholflegende wat SuidAfrika opgelewer het: Ernie Els, ook bekend as die Big Easy.
En dis nie om dowe neute nie, want Els-bloed vloei in Jovan se are. Hy is Ernie se susterskind. En nes sy beroemde oom het hy sy eerste gholfles by oupa Neels Els (nou 75) gekry.
Hy was vyf jaar oud toe sy oupa vir hom sy eerste stel gholfstokke koop en na die gholfbaan neem om ’n paar balle te slaan, vertel Jovan in ’n telefoniese onderhoud met Huisgenoot uit George in die Suid-Kaap, waar hy by pa Dragan (60) en ma Carina (50) kuier.
“Ek praat altyd eerste met my oupa oor gholf. Hy ken die spel baie goed en ek kry altyd die beste raad by hom. Ons het ’n ongelooflik sterk en goeie verhouding.
“Vir my oom het ek verskriklik baie respek, en my grootste droom is om ook eendag soos hy sukses te behaal.”
En dit lyk of daardie “eendag” sommer een van die dae kan wees.
Jovan gaan later vandeesmaand by die Britse Ope in Carnoustie, Skotland, ’n potjie saam met sy oom Ernie speel. Dit sal dié twee se eerste groot toernooi saam wees.
Ernie (48) het al dié toernooi gewen sowel as die Amerikaanse Ope, waar hy twee keer koning gekraai het.
Maar vra jy Jovan of hy sy oom gaan klop, begin hy net lag.
Dan sê hy: “Soms klop hy my nie, soms wel. Maar as ek hom klop, stap ek rond met ’n klein op my skouer.”
AS KIND het Jovan gereeld saam met sy oom gholf gespeel, veral wanneer hulle gekuier het op Heroldsbaai, waar Jovan se ouers en Ernie ’n strandhuis gehad het. “Desembervakansies was altyd lekker. Ons het vreeslik baie gholf gespeel,” onthou Jovan.
Hy kan nie presies onthou wanneer hy die eerste keer teen Ernie, wat al die wêreld se no. 1-speler was, kragte gemeet het nie.
“Maar ek weet ek was verskriklik op my senuwees toe ek die eerste keer saam met hom ’n rondte gholf speel.”
Jovan het in sy tienerjare dié sportsoort ernstig begin opneem.
Sy Serwiese pa is ’n tennisafrigter wat op sy dag sy geboorteland se nasionale tennisspan gehaal het. Jovan het in sy skooldae ook tennis, rugby en krieket gespeel, maar het altyd ’n groot voorliefde vir gholf gehad.
“Ek het al op hoërskool geweet ek wil ’n loopbaan uit gholf skep. As ek myself nou ’n lewe sonder gholf moet indink,
weet ek nie wat ek sal doen nie,” sê hy.
Toe hy vyf jaar gelede die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse Amateurgholfkampioenskapstoernooi deelneem, het oupa Neels sy sak gedra.
“Jovan het die geleentheid om al die pad te vorder en sy oom se rekord te verbeter, maar ons het nog baie gholf om te speel voor ons daardie punt bereik,” het Neels destyds aan Sport24 gesê. Nou begin dit na profetiese woorde lyk. Nadat Jovan in 2015 aan die Hoërskool Outeniqua in George gematrikuleer het, is hy met ’n gholfbeurs na Amerika, waar hy bemarking en sielkunde aan die Universiteit van Auburn in Alabama studeer. Hy is nou in sy derde jaar en wil graag in sportsielkunde spesialiseer.
Hy kom net twee keer per jaar huis toe. Dan soek hy, sy ouers en sy suster, Mia (19), koffiekroeë op en drink hulle “goeie koffie”.
“Om tyd saam met my familie en vriende deur te bring is vir my belangriker as enigiets anders en vandat ek in Amerika woon, waardeer ek dit veral,” sê hy.
Mia, ’n kranige perderuiter, wil graag ’n perdesportbeurs losslaan en ook in Amerika studeer.
“Ek hoop dit gebeur – dit sal ideaal wees om haar naby my te hê. Ek is oneindig lief vir haar,” sê haar ouboet.
Hy erken in die vreemde kan die verlange na sy land en mense erg begin knaag. Dan luister hy na Afrikaanse musiek of gaan kuier vir die naweek by sy oom Ernie en sy gesin, wat sedert 2008 in Florida woon. Dan braai hulle, lag hulle baie en speel hulle saam gholf.
“Ons is so ’n bietjie meer as ’n uur per vliegtuig van mekaar af weg, wat glad nie sleg is nie,” vertel Jovan. “Ons is baie goeie vriende en het ’n baie gemaklike verhouding.”
Jovan het geen plan om te veramerikaans nie.
“Ek is te lief vir Afrikaans. Ek praat baie Engels omdat ek nou in Amerika woon, maar dis vir my belangrik om my SuidAfrikaanse aksent te behou.”
Sy gholf en studie hou hom druk besig. “Ek probeer voor oggendklas tyd in die gimnasium deurbring en dan speel ek smiddae van so twaalfuur af gholf. Ek oefen ses dae per week,” vertel hy.
“Om ’n bal te slaan is nie altyd maklik nie, en al het ek swak punte in die probeer ek eerder op my sterk punte, soos my kortspel, fokus.”
Jovan is ’n beskeie kampioen en sê self: “Ek is nie iemand wat baie oor my prestasies praat nie.”
Maar hoe het dit gevoel toe hy die gesogte Britse Amateurkampioenskapstoernooi wen? Hy is immers die eerste Suid-Afrikaner sedert Bobby Cole in 1966 wat dit kon regkry.
Hy was “verskriklik bly”, sê Jovan, maar voeg by hy sou dit nie sonder sy oom Ernie en sy goeie vriend Matt Saulez, ’n lid van die Suid-Afrikaanse gholfspan, se raad en ondersteuning kon doen nie.
“My oom het voor die tyd vir my gesê ek moet net elke oomblik geniet en nie aan die trofee dink nie. Dit het my gehelp om deur te druk. Matt, my het my weer gehelp om rustig te bly.”
Ernie bly sy “grootste held” en oupa Neels sy “grootste ondersteuner”.
Ja, hy wil graag in sy oom se voetspore volg en eendag die beste gholfspeler in die wêreld wees, sê Jovan. Maar hy wil ook op die een of ander manier ’n positiewe invloed op iemand se lewe wees, sy voete plat op die aarde hou en die “net altyd geniet”.
Hy sien uit na sy volgende groot toernooi, die Britse Ope, en veral na sy ronde saam met Ernie.
“Elke pot gholf saam met hom is spesiaal,” sê Jovan.
En miskien, net miskien, klop hy dié keer die Big Easy.