Huisgenoot

IS ONS NOG ’N PAARTJIE?

-

Ek en ’n ou gaan al ’n jaar lank uit. Op ons albei se Facebookpr­ofiel is dit aangegee dat ons in ’n verhouding met mekaar is. Foto’s van ons twee was op sy profiel én myne. Toe op ’n dag sien ek hy het sy verhouding­status en foto’s van ons twee saam afgehaal. Hy meen dis omdat hy nie te veel van sy persoonlik­e lewe op Facebook wil plaas nie, want hy gaan nou vir werkonderh­oude. Ek dink dis eerder omdat hy nie wil hê mense moet weet ons is in ’n verhouding nie. Sy eksmeisies is almal nog sy Facebookvr­iende.

HN op JK

As hy werk soek, is dit ’n goeie idee om wel sy Facebookpr­ofiel aan te pas, want baie werkgewers gaan juis aansoekers se sosialemed­iablaaie na voor hulle selfs vir ’n onderhoud genooi word. Verkeerde foto’s en statusse op Facebook kan wel ’n negatiewe eerste indruk skep.

As van hierdie foto’s onprofessi­onele gedrag uitbeeld of as hy onvanpaste statusse met negatiewe kommentaar oor vorige werknemers geplaas het, sal dit teen hom tel.

Die toets is of hy ook sy privaathei­dstellings verander het sodat hy kan kies wie sy plasings mag sien en wie nie. Dit sal wys of dit werklik net oor die werksoeker­y gaan.

Wat foto’s betref, moet hy veral sy boonste ankerfoto nagaan en plasings wat hy as skadelik beskou, uitvee of wegsteek. Selfs al verander hy sy stelling na privaat, bly die ankerfoto’s sigbaar.

Tog byt ek maar swaar aan sy storie. Sy verhouding­status en foto’s van julle twee sal hom nie by ’n moontlike werkgewer in ’n slegte lig stel nie.

Party mans wil heeltyd voel hulle is in aanvraag. Sulke mans gebruik dikwels die sosiale media om hul ego te streel.

Hy wil moontlik ander enkellopen­des na sy profiel aantrek. Hoe ook al, dit is ’n gevaarlig vir jul verhouding. As ek jy is, sal ek weer met hom hieroor praat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa