Huisgenoot

EKS TE VEEL IN DIE PRENTJIE

-

Ek het ’n seun by my eks en my nuwe man ’n dogtertjie by syne, maar sy eks is meer in die prentjie as myne. Dis altyd ’n drama met haar onder ons voete wanneer sy hul kind kom aflaai. Ek vermoed sy het nog gevoelens vir hom. Ek sê maar min. My man en sy eks het gewoonlik lang selfoonges­prekke nadat sy dogter vir ’n naweek by ons was. Hy tree baie verdedigen­d hieroor op wanneer ek die saak aanroer. Wat kan ek doen?

JK op KL

’n Aanvallend­e houding gaan jou niks baat nie, maar dit beteken nie jy moet stilbly oor die dinge wat krap nie. Die beste is om versigtig te werk te gaan en praktiese oplossings aan die hand te doen .

Maak seker jou man weet hy kan ook per e-pos met sy eks oor reëlings kommunikee­r. Wat van ’n WhatsApp-groep vir julle drie? Dan kan julle openlik oor reëlings oor sy dogter se besoek gesels en foto’s van die kinders deel. Dit sal ook sorg dat hy geen rede het om alleen op WhatsApp met haar te wees nie.

Julle kan ook aanbied om in die toekoms sy dogter by haar ma te gaan haal en weer daar af te laai. Dit sal keer dat sy eks te lank by jul huis talm en julle mekaar irriteer.

Wees vriendelik maar ferm oor die perke wat daar in die toekoms vir kontak tussen jul gesinne sal wees.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa