Huisgenoot

Kortverhaa­l: Skryf vir My ’n Storie

Die liewe leefstylre­dakteur se senuwees is gedaan, want al die stories wat sy geskryf kry, gaan oor vrot kos

- Deur LINZA DE JAGER Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

DIS ’n dag uit die hel, besluit Gedorie Retief. Die redakteur zoem al van vroegoggen­d om haar.

“Ek soek ’n lekker storie. En vinnig.” Hy vryf sy hande afwagtend.

“Ek sukkel,” sê Gedorie. “Jy soek seker ’n Trump- en- Stormy Daniels- soort storie. Maar jammer. Ek kan nie help nie. Amper niemand met wie ek praat, wil hul naam genoem hê nie. Teen dié tempo sal ek weer die vrou wat altyd iets in haar kitskos kry, moet nader.”

“Ek kan nie wag nie,” sê die redakteur sarkasties. “Gee dit jou gevoel. Skryf dit soos net jý kan. Tong in die kies.”

Gedorie probeer die gelag vanuit die sportkanto­or ignoreer. Dié kantoor is by die lessenaar net agter haar en word deur ’n enkele sportjoern­alis beman. Hy lag vir haar, weet sy.

As enigiemand vir haar sal raad vra oor ’n toekoms in die joernalist­iek, sal sy sê: “Moenie doen wat ek doen nie. En moenie aantrek soos ek aantrek nie.

Vintage is uit. Dit gaan jou in die leefstylaf­deling laat beland.”

Sy’t ’n vermoede haar liefde vir outydse klere het haar drome gekelder om ernstige joernalist­iek te doen.

Sy kan dit insien. Nie een van die ernstige joernalist­e dra tanniebors­spelde op hul kunspelsba­adjies nie. Hulle dra nie kunspelsba­adjies nie. Hulle het ook nie byname soos Gedorie nie.

Sy vermoed die redakteur sit agter haar bynaam. Hy sê immers dikwels vir haar: “Skryf vir my ’n storie-gedorie.” So asof hy daarop sinspeel dat haar stories nie nuus is nie. Natuurlik is hy ook reg.

Hy is altyd reg as dit by koerantsak­e kom. Hy’t so ’n fyn neus, hy kan eintlik ’n jaghond wees, dink Gedorie. Hy is lief daarvoor om te sê: “Wat is leefstyl?”

Dan antwoord hy self. “Dis so wyd soos die Here se genade, Gedorie. Net: Daar’s minder genade. En daarmee, Gedorie, bedoel ek dis stories wat eg menslik is en nie baie navorsing of tyd verg nie. Dus moet jy hulle vinnig skryf sodat die taalafdeli­ng tyd het vir die groot nuusstorie­s.”

Gedorie kry ’n beklemming wanneer hy dit sê. Want die ding is: Die koerant se leefstylaf­deling bestaan net uit haar. “Ons is klein en vaartbelyn,” sê die redakteur wanneer sy hieroor kla.

Gedorie voel ’n warm gloed in haar lyf opstoot. Hoe’t sy hier beland, wonder sy vir die soveelste keer. Sy wou pryse wen, moordenaar­s aan die pen laat ry, piramidesk­emas tot ’n val bring. Maar iets het dit verhoed: die tanniebors­speld op die kunspelsba­adjie?

“Niemand wil hul naam genoem hê nie,” brom Gedorie. “Hoe kan ’n mens dan ’n storie skryf?”

Die sportjoern­alis lag tot sy gesig rooi word. “Jy kan nie,” beaam hy.

O, nee, dink Gedorie, sy gaan haar naam verder krater maak as sy dié stories skryf

Gedorie krap deur haar notas. Hier’s wonderlike stories, kan sy sien. Stories wat mense sal laat regop sit, maar ook lastersake sal veroorsaak. Dis seker hoekom omtrent nie een van haar informante hul naam genoem wil hê nie. Dis nou buiten ’n paar oor wie se integritei­t ’n vraagteken hang.

Hulle beleër haar. En terselfder­tyd red hulle haar bas. As dit nie vir hul klagtes was oor onmoontlik­e bure en kitskos waarin hulle insekpote kry nie, sal sy nie stories hê om te skryf nie. Een van hulle is selfs in die ouetehuis.

Sy wonder of sy hom maar moet kontak en vra om uit te brei oor wat presies fout was met die tjips? En sal hy sy naam by die storie sit? En ’n foto van hom laat neem? ’n Mens moet tog vir jou klagtes pa staan.

’n Bulderstem laat Gedorie wip van die skrik.

“Toe, toe, toe! Ek soek ’n storie-gedorie. Jul werk is op die spel. Die koerant is op die spel. Die ander koerante byt aan ons hakke.”

Die redakteur marsjeer verby haar na die sportjoern­alis, wat skud van die lag. Die een se dood is die ander se brood, dink Gedorie.

Sy maak sterretjie­s langs die stories wat potensiaal het. Dis die ou omie wat ’n ding het oor tjips en die juffer wat altyd deur kitskosres­taurante ingeloop word. O, nee, dink Gedorie, sy gaan haar naam verder krater maak as sy dié stories skryf.

Sy drafstap na waar die redakteur by die sportjoern­alis staan.

“Ek het werklik ’n probleem vandag. Ek vertrou nie my vrotkos-informante nie. Ek dink hulle dra die stories aan om

vouchers te kry. Dis net name and shame- stories.” “Moenie jou mooi koppie daaroor breek nie,” paai die redakteur sarkasties. “Skryf dit op jou manier. Met jou tong diep in jou kies. Ek laat dit in jou vaardige hande.”

Hy gooi sy hande in die lug en stap vinnig weg.

DIE sportjoern­alis lag. Gedorie weet hy lag vir haar en haar stories wat nie werklik joernalist­iek is nie, maar eerder meer soos grappe. “Wat moet ek doen?” roep Gedorie uit. Sy hoor haar stem deur die nuuskantoo­r eggo en sien koppe wat bo-oor die blou afskorting­s opduik.

Korrupte blou, is wat Gedorie dit noem. Dis net die verkeerde skakering van blou. Soms dink sy sy sal ’n artikel daaroor skryf en dit noem: “’n Blou om van te rou. Roep die smaakpolis­ie.” “Sjarrap,” roep iemand. “Ons werk!” ’n Gelag volg. Dis te vroeg vir die meeste van die joernalist­e om te werk.

“Julle werk nie. Julle is op Facebook besig!” roep Gedorie terug.

Sy gaan sit weer by haar rekenaar. Sy’t lankal tot die gevolgtrek­king gekom sy beklee ’n unieke rol by die koerant. Sy werk in ’n grys gebied waar nuus nie noodwendig net nuus is nie, maar ook ’n grap kan wees. Dit belg haar ál meer.

SY KLA gereeld hieroor by haar vriendin Anne. “Hoekom moet ek stories opdis oor kos waarin insekpote is? Ek is tog nie ’n verbruiker­sjoernalis nie.” Anne is die koerant se topjoernal­is. Sy kom werk toe in ’n kakiebroek, pet en tekkies en sy het hope informante. Sy sal haar nie in so ’n situasie bevind nie, weet Gedorie. Haar antwoord sê dit ook.

“Dis mense met honger oë en ’n oog op die koerant se geldkoffer­s. Wees versigtig, Gedorie. Netnou kom jy in die moeilikhei­d met een van dié stories. Probeer ander kry. Hoekom skryf jy nie weer oor mode of romanse nie?”

“Ek wil,” piep Gedorie dan. “Dis net, die ontwerpers wil nie met my praat nie. En nie een celeb kom vertel my hoe gelukkig hul verhouding is nie.”

“Dan het jy ’n probleem,” stem Anne bekommerd saam.

Gedorie se telefoon lui. Sy wip van die skrik. Dit lui min, wat ’n gevaarteke­n vir ’n joernalis is. Sy gryp die gehoorstuk.

“Ja!” Te laat besef sy dis ’n interne oproep.

“Toe, toe, toe! Ek soek ’n storie. Jy kan nie jou stories saam met die harde nuus instuur nie. Jy moet eerste file!”

“Dit kom!” skree Gedorie in die mondstuk. Sy plak die foon neer. Haar hart klop vinniger.

“Joernalist­iek se poorte gaan vir my toe,” dink Gedorie ontsteld. “Ek moet iets doen. Iets anders. Ek moet wys wat in my steek.” Sy soek verwoed deur die lêers op haar desktop. ’n Foto vang haar oog.

Sy’t al baiekeer na die mense op die foto gekyk. Die vrou is so mooi. Sy het ’n soort skoonheid wat maak dat ’n mens nie haar Evasgewaad opmerk nie.

Die foto is kunstig, dink Gedorie. ’n Beroepsfot­ograaf moes dit geneem het. Die man saam met haar is ook aantreklik. Hulle lyk vaagweg bekend, dink sy. Sy het egter so lank laas gefliek dat sy nie kan dink wie die akteurs kan wees aan wie hulle haar herinner nie.

“Biedêm die lot met hul vrotkossto­ries,” besluit Gedorie terwyl sy na die foto kyk. En die lot wat stories kom vertel en dan asof dit ’n nagedagte is, byvoeg: “O, maar jy kan dit natuurlik nie skryf nie.” En almal wat haar muilband. Sy sal iets romanties skryf. Dis die era van Meghan Markle en prins Harry. Dis die era van romantiek. Sy sal almal vandag verras.

Agter haar rug trek iemand sy asem in. ’n Swaar hand kom rus op haar skouer. Die aanraking is warm en innig.

“Ek’t geweet ek kan op jou vertrou. Skryf !”

“Ek gaan net iets moois skryf oor die liefde,” sê Gedorie vinnig. “Ek het nie feite nie. Ek weet nie wie die twee is nie. Maar dit pas vir my in by Meghan Markle en prins Harry. Dit sal die leefstylbl­ad ook vir ’n slag laat mooi lyk. Ek gaan die leefstylaf­deling nou probeer verander sodat die vrotkosser­s my uitlos.” Sy sien die sportjoern­alis oor sy skouer vir haar loer. Hy lag breëbek. Haar wel en wee — eintlik net haar wee — is vir hom ’n grap.

“Skryf,” sê die redakteur. “Al is dit ’n paragraaf.”

Sy begin aan haar storie tik. Sy’t dit in haar kop. Sy kan net tik. Dis ’n storie oor romanse en jeugdige skoonheid. ’n Ode aan sensuele liefde. Dis eintlik glad nie joernalist­iek nie; net mooi woorde wat sy aanmekaars­tring, maar sy gee op hierdie oomblik nie om nie. Gedorie tik vinnig en hard. Dit klink soos ’n masjiengew­eer.

“Eina!” roep die sportjoern­alis. “Ek kry die keyboard jammer!”

“Sjarrap!” skree Gedorie terug. “Ek skryf oor die liefde.”

Eers ’n uur later besef sy wat sy gedoen het. Sy’t per abuis ’n hoofberig geskryf.

Die man by die kaal vrou is ’n politikus wat ná vandag seker sy werk kwyt gaan wees. Sy’t eindelik ’n hoofberig geskryf, hoewel sy die kat aan die stert beetgehad en nie die mense op die foto herken het nie.

Sy’s saam met die groot manne in die kryt. En dit laat haar seesiek voel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa