Huisgenoot

Eksvrou oor lewe ná Ralph Haynes

Sy glo vas hy is dood, sê die eksvrou van die vermeende rampokker Ralph Haynes, wat al sewe jaar vermis word, en vertel hoe sy haar lewe moes herbou

- Deur MARIZKA COETZER

SY FOTO en eskapades was gedurig die koerante vol. Onder sy beroemde vriende was die sanger Steve Hofmeyr en die Springbokl­egende Joost van der Westhuizen. Met sy groot lyf, woeste bruin krulhare en kunsbeen sou hy in enige skare uitstaan. Hoe is dit dan moontlik dat niemand hom die afgelope sewe jaar gewaar het nie? Dis dié dat Jackie Haynes, die eksvrou van die vermeende rampokker Ralph Haynes, vas glo Ralph is vermoor. Haar sorgelose, fabelagtig­e weeldelewe in hul Krugersdor­pse huis het in duie gestort toe Ralph in 2011 raaiselagt­ig verdwyn het. Want saam met Ralph het die koeverte vol kontant wat hy vir haar in hul massiewe huis laat rondlê het ook verdwyn. “Ek het alles verloor – die huis, die meubels, die motors. Ek is daar uit met net my klere,” vertel Jackie in haar eerste onderhoud in jare. “Ek moes twee nagte in my kar slaap.” Die polisie het haar geteister, beweer sy, omdat sy volgens hulle Ralph help “verdwyn” het kort voor hy glo in hegtenis geneem sou word. Al wat sy weet, hou sy vol, is dat hy op 21 Januarie 2011 by die privaat Kitty Hawk- vliegveld naby Pretoria in ’n helikopter geklim het om na die sakeman Frikkie Lutzkie se plaas buite Middelburg, Mpumalanga, te vlieg. Sy het nooit weer van Ralph gehoor nie. Het hy gevlug, het hy verongeluk, is hy vermoor? Nes al die ander wat op sy spoor is, kan sy nie met sekerheid sê nie. Die jare daarna was vir haar hel, vertel die aantreklik­e blonde vrou wat, volgens gerugte, mans in sekslokval­le gelei het sodat Ralph hulle kon afpers. “Dis k**,” sê Jackie oor dié bewerings. “Ek was g’n honeytrap nie.” In Ralph se afwesighei­d het sy wel later van hom geskei. Nou het sy nuwe liefde gevind by die man wat eens Ralph se regterhand was: Dawie Lötter (52). Hulle is verloof en wil binnekort trou.

Dis deels vanweë dié nuwe romanse dat Jackie nou die eerste keer sedert Ralph se verdwyning bereid is om openhartig oor haar lewe met én sonder hom te praat. “Al wat ek wil hê, is dat Ralph nou amptelik dood verklaar word sodat ek met my lewe kan aangaan.”

Maar terwyl die stories oor Ralph Haynes, volgens sommige ’n gewelddadi­ge Mafiabaas en volgens ander ’n vrygewige “Robin Hood van die WesRand”, voortleef, is daar van die man self g’n taal of tyding nie.

JACKIE en Dawie woon deesdae in Noordheuwe­l, ’n gegoede woonbuurt van Krugersdor­p. En terwyl die huis waar ons aanklop glad nie te versmaai is nie, is daar geen teken van Ralph en Jackie se Beverly Hills-agtige oordaad van weleer nie.

Weg is die ses veiligheid­swagte wat toegang tot hul eertydse huis in Krugersdor­p se Chancliff-buurt beheer het. Weg is die swembad, koidam, privaat spa en “chill room” met sy duur klank- en videotoeru­sting. Weg is die vier skoonmaker­s, lyfkneg, sjef en vier tuinwerker­s danksy wie Jackie nooit nodig gehad het om ’n vinger te lig nie.

Sommer met ons aankoms hier by die huis wat sy nou met Dawie deel, laat Jackie hoor: “Nee, geen seksorgies vind hier plaas nie.” Dis ’n sarkasties­e verwysing na die stories oor wilde partytjies wat sy en Ralph glo in hul eertydse paleis gehou het.

Maar ja, Ralph was lief vir onthaal, en bekendes soos Steve en Joost was dikwels onder die gaste, sê sy. Jackie het gereeld saam met hulle vir foto’s poseer.

“Ralph het baie van Steve gehou,” voeg Dawie by. Ja, beaam Jackie. Sy en Ralph was selfs eenkeer saam met Steve en sy orkes op ’n weelderige bootrit.

Die 52-jarige Dawie (“Ek is ’n sakeman”) dra vandag swart motorfiets­stewels, ’n swart denimbroek en swart T-hemp met die kenteken van die bekende Mac’s-motorfiets­klub; hy is die voorsitter van die Roodepoort­se Mac’s.

Hy vertel hy en Ralph het kleintyd bevriend geraak by ’n boksklub in Randfontei­n, waar albei grootgewor­d het. “Ralph het altyd met almal gepraat. Later jare, toe hy boksers help bestuur het, sou hy sommer na iemand soos die Amerikaans­e bokspromot­or Don King stap en met hom praat asof hy hom al jare ken,” vertel Dawie.

Danksy hul vriendskap het Dawie later Ralph se regterhand geword. Oor watter sake hulle saam bedryf het, brei Dawie nie uit nie.

Jackie was 28 en besig om te skei van haar eerste man, by wie sy twee kinders gehad het, toe sy Ralph in 2002 leer ken. Sy het destyds by ’n duikkloppe­rsaak gewerk waarheen hy gereeld motors gebring het om “oorgedoen’’ te word.

“Hy het altyd baie lekker gesels en was sjarmant. Hy’t my altyd vertel hoe lekker ek ruik,” onthou sy.

Sy het destyds geweet hy is betrokke by die bestuur van boksers, maar van sy reputasie as ’n gevaarlike rampokker wis sy toe niks, vertel sy. Ralph is al deur die jare met alles van diamantsmo­kkelary tot geldskiete­ry en bedrog verbind.

“Hy het ’n manier om met ’n mens te praat wat jou spesiaal laat voel . . . Hy was intelligen­t en snaaks,” vertel Jackie met ’n tikkie heimwee.

Namate hulle mekaar beter leer ken het, het sy besef Ralph het ’n skadukant. Soos dat hy al sewe jaar in die tronk was weens bedrog en diefstal. “Hy het my snaakse stories uit sy bendedae en sy tyd in die tronk vertel. Sy grappe was altyd baie snaaks.”

Jackie se prokureur, Hein Mare, val ons in die rede met ’n staaltjie. Ná skool wou Ralph eers ’n polisieman word. Maar op sy eerste dag as student aan die polisiekol­lege het die instrukteu­rs hom kafee toe gestuur – ’n winkeltjie bekend as die Koos Kokkerot-kafee – om vir hulle slaptjips te gaan koop. “Dis die oomblik toe Ralph besluit: ‘F** dit, ek gaan huis toe.’ ”

Jackie kan ook nie anders as om te lag nie terwyl sy Ralph se storie oorvertel oor hoe hy aan sy kunsbeen gekom het. “Hy het van ’n perd afgeval toe hy 20 was. Toe stap hy met sy voet in sy hand by die hospitaal in Randfontei­n in en sê hulle moet dit aanwerk.”

Weens komplikasi­es moes die been egter onder die knie geamputeer word.

Jackie vertel Ralph het graag sweetpakbr­oeke gedra omdat dit gerieflike­r was met die kunsbeen. Die been het haar glad nie gepla nie.

Nadat hulle in 2005 getroud is, het hulle aanvanklik op Jackie se kleinhoewe by Randfontei­n gewoon. Hulle het heel “stil en rustig” daar gewoon, en Jackie het graag tuingemaak.

“Maar later wou Ralph nie meer met sy Mercedes op die grondpad ry nie,” vertel Jackie. Hulle het toe eers ’n huis in Helderkrui­n gehuur en daarna die veelgeroem­de rykmanshui­s in Krugersdor­p gekoop.

Dit is waar die oordadige leefstyl begin het, vertel Jackie.

JACKIE draai nie doekies om oor waar al die geld vandaan gekom het nie: “Ralph het gesteel vir ’n lewe. Hy het nooit ’n vaste werk gehad of ’n salaris getrek nie.”

Maar sy het geen vrae gevra nie, bieg sy. Die koeverte met duisende rande wat hy in die huis vir haar gelos het, het sy gebruik om die huisperson­eellede mee te betaal. Sy het soos ’n Hollywoodp­rinses geleef. Soggens het sy so laat geslaap as wat sy wou en dan is ontbyt vir haar gebring. Daarna is haar warm borrelblad met roosblare gereed gekry en het sy met ’n glas vonkelwyn daarin ontspan.

Later sou sy skoonheids­alon toe gaan en die dag met ’n inkopieses­sie afsluit. “Ek sou maklik ’n paar skoene vir R25 000 koop of R4 000 betaal vir ’n belt,” vertel sy.

Volgens Dawie was Ralph ewe spandabel. “Hy sou sommer agt denimbroek­e van die rak af koop sonder om dit aan te pas. As dit hom nie pas nie, m*** hy dit eenvoudig weg.”

Jacky beaam: “Ralph was overboard met als wat hy gedoen het.”

Dawie vertel toe Ralph ’n bokspromot­or was, het hy soms saam met die boksafrigt­er wyle Nick Durandt na toernooie oorsee gegaan.

“Die eerste paar dae was gewoonlik een groot jol. Maar hy het baie gou begin huis toe verlang. Dan het hy maklik duisend Amerikaans­e dollar per week bestee aan telefoonop­roepe na Jackie, sy ma en sy dogter uit sy vorige huwelik. Sommer twee keer per dag,” sê Dawie.

“Hy is die lekkerste ou, vol grappe en pret, maar teen die vierde dag het hy

homesick begin word. Toe sê hy op ’n dag vir Nick: ‘F** boks; dit is nie vir my nie; ek kan geld by die huis maak.’ ” En hy het. Maar Jackie vertel Ralph het haar van die begin geleer: “Sien niks, hoor niks, weet niks . . . Al skiet hulle jou buurman langs jou, kyk jy stip voor jou. Jy sien dit nie.”

Hy het haar ook gedurig oor klein dingetjies getoets en haar geleer om van alles dagboek te hou.

Wat van die storie dat hy ’n soort Robin Hood was wat van die rykes gesteel en aan die armes gegee het? Jackie lag net en sê sy weet nie wat om te antwoord nie.

Sommige mense wat Ralph geken het, vertel hy was altyd op die uitkyk na ’n manier om vinnig geld te maak. Hy sou byvoorbeel­d maklik geld uitleen – en dan moes jy dit teen ’n stewige rentekoers terugbetaa­l.

“Maar Ralph was nie so wreed soos mense sê nie,” sê Jackie.

TOE Ralph teen vyfuur die middag van sy verdwyning nog nie gebel het nadat hy Middelburg toe gevlieg het nie, was Jackie bitter bekommerd. “Ek kon aanvoel iets is verkeerd.” Sy het ’n paar oproepe gemaak, maar niemand het geweet waar Ralph is nie. Sy het ook ’n destydse lid van die Krugersdor­pse speurtak gebel. “Maar hy het gesê ek moet eers wag voor ek Ralph as ’n vermiste persoon aangee.”

Volgens haar het die polisie geglo Ralph het verdwyn om te verhoed dat hy in hegtenis geneem word in verband met ’n ou saak van 1984 wat heropen is.

Frikkie het later aan die Saturday Star vertel hy het wel daardie dag vir Ralph met sy helikopter na sy plaas op Middelburg laat vlieg, maar Ralph het later

‘Ons was al jare lank vriende, maar moes leer om vir mekaar lief te word’

ongedeerd daar weggery terug Krugersdor­p toe.

Niemand was blykbaar haastig om na Ralph te soek nie. Maar Jackie het nie geglo hy het gevlug nie. “Ek kon voel hier is iets groots fout. Ralph se verdwyning het nie sin gemaak nie.”

Dit was net die begin van haar probleme.

’n Kennis het haar kort daarna gebel en vertel sy moet ’n sak met Ralph se klere en medikasie pak en na ’n gastehuis naby Dullstroom neem. Daar gekom, vertel Jackie, was daar geen teken van Ralph nie. Toe daag die polisie op.

“Hulle het my ’n ruk aangehou en my daarvan beskuldig dat ek Ralph help verdwyn het.”

Die polisie het die huis onderstebo gekeer op soek na leidrade oor waar Ralph hom bevind. “Waar is Ralph?” moes sy telkens hoor.

“Daar was ook nie meer koeverte vol kontant oral in die huis om die werkers en ander rekenings mee te betaal nie. Die werkers moes gaan, en die skuldeiser­s was gou by die deur.”

Ralph se luukse motors is teruggenee­m, en ’n balju het op die meubels beslag gelê.

“Weet jy hoe dit voel om al jou meubels in die dorp se pandjieswi­nkel te sien?” vra Jackie met ’n stem dik van emosie.

Binne ses maande ná Ralph se verdwyning is die koopkontra­k vir die huis gekanselle­er en moes sy uit die plek trek waar sy so ’n sorgelose hedonistie­se lewe gelei het.

“Ná alles, al die jare met Ralph en alles wat ons saam gehad het, het ek met net ’n hangreling vol klere daar uitgestap. Ek moes nog ’n karwag R20 betaal om my klere op die sypaadjie op te pas.”

Daardie eerste twee nagte nadat sy uit die huis is, het sy in haar kar geslaap. “Ek moes maar my trots sluk. Ek was in my m*** in,” vertel sy en die trane loop.

Sy het destyds wel ’n plasie naby Randfontei­n besit, maar daar was huurders in die huis en sy moes hulle eers kennis gee. Intussen het vriende haar gehelp.

Eindelik was dit Dawie wat tot haar redding gekom het. Ralph het destyds sy vriend en regterhand gevra om na Jackie om te sien.

Sy het by hom gaan woon, maar dit het ’n tydjie geduur voor ’n verhouding tussen hulle ontwikkel het. “Ons was al jare lank vriende, maar moes leer om vir mekaar lief te word.”

SY GLO vandag steeds Ralph is vermoor. “Dis vreemd hoe baie mense kamstig deur die jare sy verdwyning ondersoek het, maar nooit iets gekry het nie,” sê sy. Selfs die bekende privaat speurder Mike Bolhuis het in ’ n stadium aangekondi­g hy ondersoek die saak. “Ek het hom nooit aangestel nie,” sê Jackie. Tot vandag toe het die polisie nog nooit ’n verklaring oor Ralph se verdwyning by haar afgeneem nie. “Hulle het my soos ’n verdagte hanteer.”

Deur die jare het sy ophou wag dat Ralph by die deur opdaag of bel, soos hy altyd twee keer per dag gedoen het wanneer hy weg was.

Dawie is welgesteld, en vandag lewe sy weer gerieflik en hoef sy nie te werk nie, hoewel sonder die oordaad wat sy saam met Ralph geniet het.

En telkens wanneer sy ’n voormalige “skelmpie” van Ralph op die dorp sien, voel sy ontsteld en verneder. Dis dié vrou wat glo verkondig sy wat Jacky is, het sekslokval­le vir mans gestel. “Dis snert,” sê sy weer.

“Maar ek skrik nou nog soms wanneer ek ’n helikopter hoor. Dis so al asof dit Ralph is wat terugkom.”

Dan vra Dawie: “En wat gaan jy doen die dag dat Ralph by die deur opdaag? Sal jy hom terugvat?”

Vir ’n oomblik is sy stil. “Nee, ek sal nie,” antwoord sy dan en soen haar nuwe redder op die mond.

Kol. Hennie de Jager van die provinsial­e speurtak in Gauteng en die huidige ondersoekb­eampte in die Ralph Haynes-saak het aan Huisgenoot bevestig die polisie ondersoek ’n saak van ’n vermiste persoon – nie moord nie – en dat die ondersoek voortgaan. Die polisiebea­mpte wat Jackie na bewering destyds geteister en as ’n verdagte hanteer het, het die polisiedie­ns sedertdien verlaat en doen nou privaat werk.

 ?? Foto’s: ROWYN LOMBARD ?? Jackie Haynes, die eksvrou van die sogenaamde Mafiabaas Ralph Haynes, praat die eerste keer in sewe jaar met die media nadat hy in 2011 spoorloos verdwyn het.
Foto’s: ROWYN LOMBARD Jackie Haynes, die eksvrou van die sogenaamde Mafiabaas Ralph Haynes, praat die eerste keer in sewe jaar met die media nadat hy in 2011 spoorloos verdwyn het.
 ??  ??
 ??  ?? BO en LINKS: Jackie wys foto’s van haar en Ra Ralph se sprokiesag­tige troue. Hulle was sowa wat vyf jaar getroud toe hy eendag nie van ’n sak sakeafspra­ak teruggekom het nie.
BO en LINKS: Jackie wys foto’s van haar en Ra Ralph se sprokiesag­tige troue. Hulle was sowa wat vyf jaar getroud toe hy eendag nie van ’n sak sakeafspra­ak teruggekom het nie.
 ??  ?? Jackie en haar nuwe liefde, Dawie Lötter, sakeman en voorsitter van die Mac’smotorfiet­sklub in Roodepoort.
Jackie en haar nuwe liefde, Dawie Lötter, sakeman en voorsitter van die Mac’smotorfiet­sklub in Roodepoort.
 ??  ?? BO: Ralph Haynes saam met die bekende boksafrigt­er wyle Nick Durandt (middel) en die bokser en selferkend­e huurmoorde­naar Mikey Schultz, wat skuld erken het vir die moord op die mynmagnaat Brett Kebble. MIDDEL BO: Steve Hofmeyr saam met Jackie. REGS: Ralph by die Springbokl­egende Joost van der Westhuizen.
BO: Ralph Haynes saam met die bekende boksafrigt­er wyle Nick Durandt (middel) en die bokser en selferkend­e huurmoorde­naar Mikey Schultz, wat skuld erken het vir die moord op die mynmagnaat Brett Kebble. MIDDEL BO: Steve Hofmeyr saam met Jackie. REGS: Ralph by die Springbokl­egende Joost van der Westhuizen.
 ??  ?? Jackie vertel van die swaar tye waardeur sy die afgelope sewe jaar is met die polisie en karakters uit haar en Ralph se verlede.
Jackie vertel van die swaar tye waardeur sy die afgelope sewe jaar is met die polisie en karakters uit haar en Ralph se verlede.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa