Huisgenoot

Bobby en Karlien in nog ’n VIA-reeks

Karlien en Bobby vereenselw­ig hulle met die deelnemers aan ’n nuwe TV-sangkompet­isie wat hulle aanbied

- Deur MICHELLE NORTJÉ

WAAR hulle tydens opnames agter die skerms staan en na die aspirantsa­ngers kyk wat hul hart op die verhoog uitsing, kom lê die herinnerin­gs aan hul eie beginjare in die musiekbedr­yf weer vlak. Die senuwees; die drome; die hoop dat jou liedjies die gehoor sal ontroer. Daardie gevoel van oorweldigi­ng wanneer jy besef: Almal in die saal kyk na jou.

“Ek was doodbang,” sê die sangeres toe sy terugdink aan haar eerste optredes in die musiekbedr­yf. “Ek het letterlik aan die bewe gegaan.”

Maar dié keer is dit nie Karlien en Bobby van Jaarsveld, die bekendste sibbes in die Afrikaanse musiekbedr­yf, wat moedig moet bly terwyl die vlinders in hul maag fladder nie; dis die deelnemers aan die nuwe werklikhei­dsreeks Die Kontrak.

Wanneer dié reeks op Woensdag 19 September op VIA, kanaal 147 op DStv, begin, sal kykers landwyd kan kyk hoe agt talentvoll­e aspirantsa­ngers dit op die verhoog uitspook om ’n platekontr­ak by die musiekmaat­skappy Coleske Artists los te slaan.

Die wenner van Die Kontrak sal as’t ware in Bobby en Karlien se spore volg. In Jou Skoene was juis die naam van die vorige VIA-werklikhei­dsreeks waarvan hulle die aanbieders was.

Bobby (31) en Karlien (32) is dié keer ook die aanbieders van die reeks, waarvoor byna 2 000 mense ingeskryf het om ’n platekontr­ak te wen. Die reeks het ’n ryke oes van plaaslike talent: Die sangers Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Monique Steyn en Tarryn Lamb sal as die agt finaliste se mentors dien, terwyl die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha en ook die regisseur van die konserte Afrikaans Is Groot en Classics Is Groot, Barry Pretorius, die beoordelaa­rs sal wees.

Teen die einde van elke episode word een finalis se kontrak opgeskeur wanneer hy of sy uitgestem word. Op 23 November sal Arnold Coleske van Coleske Artists vir die wenner sy of haar platekontr­ak ter waarde van R1 miljoen by die Afrikaans Is Groot-konsert in die Sun Arena by Time Square, Pretoria, aanbied.

Vir Bobby sal dit nie die eerste keer wees dat hy moet toekyk hoe voornemend­e sangers se drome waar word of verlore gaan nie. Hy was al twee keer ’n beoordelaa­r op die werklikhei­ds-

program The Voice op M-Net.

“Ons ken mekaar so goed, dit voel soos tweede natuur om saam te werk,” sê Karlien. “Ons hoef net vir mekaar te kyk, dan weet ons wat die ander een dink of voel.”

Karlien vertel die trane het gevloei toe een van die deelnemers se kontrak tydens ’n opname opgeskeur is. Bobby was dadelik naby om haar ’n drukkie te gee.

“Ek is saam met hulle op my senuwees. Ek voel verligting saam met hulle wanneer hulle klaar gesing het. Ek is hartseer saam met hulle. Ek voel letterlik alles saam met hulle,” verduideli­k Karlien.

Agter die skerms is ook tyd vir lag. Gedurende een van die opnames het Bobby en Karlien onbedaarli­k aan die lag gegaan en daardie insetsel moes oor en oor opgeneem word.

Hulle spot mekaar ook, soos toe Bobby in ’n stadium nie mooi verstaan het wat hy van die skerm moes lees nie. Karlien het toe saggies aan sy skouer geraak en geterg: “Toemaar, jy hoef nie slim te wees nie. Jy kan net lees.”

DIE KONTRAK gaan ook oor ernstige sake, want heelwat is op die spel, en Bobby en Karlien weet maar alte goed hoe die deelnemers voel.

“Ek sien baie van myself in hulle. Ek weet hoe dit voel wanneer jy aan die begin van jou loopbaan bang is mense gaan nie van jou hou nie,” sê Karlien in haar rasperstem.

“Wanneer ek so bang was op die verhoog, het ek God gevra om my te kalmeer, want dit is al wat my senuwees laat bedaar het.”

Ook Bobby moes voor sy groot deurbraak harde klippe kou. Toe hy in 2005 as hoërskools­eun sy eerste treë in die musiekbedr­yf gee, was soms net sewe mense in die gehoor. Hy moes maar deurdruk, sy oë toeknyp en sing.

Karlien het eers as rocker saam met die groep Revolusie opgetree, maar haar solodebuut in 2008 gemaak.

Ná byna 10 jaar in die bedryf erken sy dit is steeds nie altyd maklik nie: “Dit is moeilik om ’n sangeres te wees. Jy moet sterk wees om die uitdagings van die bedryf te hanteer.”

Dan verduideli­k Bobby: “Wanneer jy eers in die bedryf is, moet jy seker maak jy word heeltyd raakgesien. Dit is asof jy heeltyd moet oorbegin.

“Die moeilikste ding is om te sorg dat jy ná 30 steeds innoverend is en seker maak jy bly relevant.”

Bobby erken hy het al tye deurgemaak toe hy gedink het die uitdagings raak te veel.

“Dit gebeur seker 12 keer per jaar dat ek voel ek wil quit. Dit raak uitmergele­nd, veral wanneer ek my gesin min sien. Maar dan herinner ek my weer hoekom ek dit doen en hoe ek dit geniet.” Karlien knik instemmend. “Dit is soms ’n swaar pad om te stap, veral wanneer jy jou gesin min sien, maar omdat ek weet dit was van die begin af God se wil vir my lewe, is dit absoluut die moeite werd.”

Bobby se raad vir die sangers wat mik na sukses? “Elke mens moet mooi dink of dit die bedryf is waarin hulle wil wees. Jy moet ’n dik vel hê en besef nie almal gaan noodwendig altyd van jou hou nie.”

Karlien voeg by: “As dit God se roeping vir jou lewe is, gaan voluit daarvoor.”

WANNEER hulle ná opnames, konserte en toere by die huis kom, word albei deur die belangriks­te mense in hul lewe ingewag: hul gesin. Bobby is al agt jaar met sy skoolliefd­e, Annatjie (31), getroud. Hul seuns, Sion (6) en Leben (5), en dogter, Armani (2), hou hulle omtrent op hul tone.

“Anna is ’n wonderlike vrou. Sy is my steunpilaa­r. Ek weet soms nie hoe sy dit regkry om my en die kinders so by te staan nie,” sê Bobby. “Om ’n pa te wees is beslis my grootste roeping. Dit is my verantwoor­delikheid om elke dag te kies om ’n goeie pa te wees.”

Die sanger glimlag breed toe ons vra of hy soos sus Karlien nog kinders wil hê.

“As dit die wil van die Here is, sal ons nog kinders wil hê, ja. Maar Hy sal deur ’n brandende bos met ons moet praat voor ons daardie besluit neem.”

Karlien is nou sowat ’n jaar en ’n half met die sakeman Joe Breytenbac­h (34) getroud en nog net so verlief soos toe sy vroeg verlede jaar die jawoord gegee het. Haar vierjarige tweeling uit haar huwelik met die oudrugbysp­eler Derick Hougaard, Eliah en Daniël, is mal oor hul sussie, Elah (amper 1).

Die sangeres sê haar kroos is net so lief vir musiek soos sy.

“Wanneer musiek begin speel, dans Elah. Maar dis eintlik haar boeties wat die regte klein performers is. Hulle hou baie van sing.”

By Joe het sy ’n rustige hawe gevind, ’n veilige holte vir haar hart. “Met ’n huis vol kleintjies kan dit soms ’n geraas wees, maar tussen ons is die atmosfeer kalm. Dis lekker saam met hom, en hy is goed met die kinders. Hy is my beste vriend.”

Sy vertel haar vyfde album sal vroeg volgende jaar op die rakke wees. Later vanjaar stel sy ook saam met haar vriendin die grimeerkun­stenaar Suna Roberts ’n grimeerree­ks vir kinders bekend. Dit sluit onder meer lipstiffie, blosser en oogskadu in en is vir meisies wat soos hul ma’s wil optof.

Bobby het intussen in ’n sakeman ontluik. Hy besit deesdae ’n koffie-en-biltongwin­kel, BOB’s Biltong & Coffee Bar, in die ooste van Pretoria. Hy is ook ’n aandeelhou­er in @The Beach Bar, ’n kuierplek in die ooste van dié stad. Sy volgende album sal vroeg volgende jaar uitgereik word.

En later vanjaar, verklap die twee, begin hulle met die verfilming van die tweede seisoen van In Jou Skoene. Want ná soveel jare in die musiekbedr­yf en die duisende myle wat hulle gestap het sedert daardie eerste tree op die verhoog, sien hulle vir enige uitdaging kans.

Bobby glimlag met ’n vonkel in sy blou oë. “Eindelik gaan dit as sanger oor wie jy is en wie jy in God is. Deur elke struikelbl­ok en storm moet jy onthou wie daardie passie in jou hart gesit het.”

Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met her uitsending­s op Sondagaand­e om 18:00. Die JOOX-app is die amptelike musiekstro­omvennoot van Die Kontrak.

 ?? Foto’s: WILLEM BOTHA ?? Karlien en Bobby van Jaarsveld is in die nuwe werklikhei­dsreeks Die Kontrak op VIA te sien.
Foto’s: WILLEM BOTHA Karlien en Bobby van Jaarsveld is in die nuwe werklikhei­dsreeks Die Kontrak op VIA te sien.
 ??  ?? Die Kontrak is hul tweede VIAprogram. Hulle het ook In Jou Skoene saam aangebied.
Die Kontrak is hul tweede VIAprogram. Hulle het ook In Jou Skoene saam aangebied.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa