Oupa Pistorius vier 101ste verjaardag
’n Mens tree nooit af nie – jy eet net ál gesonder, sê die Pistorius-patriarg ná sy 101ste verjaardag
DIE handdruk van die bejaarde man in die rolstoel is verbasend ferm. Maar die man met die wit snor, uitgevat in sy netjiese bruin pak met ’ n bypassende das en hoed, was sy lewe lank nog altyd ’n man wat verwagtings oortref.
Dié keer het hy ’n mylpaal behaal wat min sterflinge beskore is – hy het pas sy 101ste verjaardag gevier.
Oupa Hendrik Pistorius, sakereus en patriarg van die wêreldbekende Pistorius-familie, kyk my met die groetslag reguit in die oë en spot: “Is jy nog nie getroud nie?”
Want al is Oupi, soos sy familie hom noem, al langer as ’n eeu op aarde, skort met sy skerp verstand en sjarme nie ’n ding nie.
Hy dra ’n gehoorstuk en praat moeisaam en stadig, maar sy oë blink toe hy vertel oor sy dae van boks, sy liefde vir vinnige motors en hoe graag hy vis eet.
“Die dokter sê my hart klop nog sterk,” sê Oupi toe ons hom ’n bietjie meer as ’n week ná sy verjaardag in die kantore van H. Pistorius & Kie naby die Uniegebou in Pretoria ontmoet. By hom is sy jongste seun, Leo (56), wat ná sy broers, Theo (73) en Arnold (67), sy pa as uitvoerende hoof van dié landboukalkonderneming opgevolg het.
Oupa Hendrik het dié maatskappy as jong man in 1944 gestig.
Maar ondanks sy suksesvolle loopbaan is hy vir sy sewe kinders, 25 kleinkinders – onder wie die Paralimpiese lemnaeler Oscar Pistorius en sy broer en suster, Carl en Aimée – en 35 agterkleinkinders net “Oupi”.
Hoe het hy soveel dekades so gesond gebly ten spyte van die werkdruk van sy loopbaan en die onstuimige waters waardeur sy familie al moes gaan – wat is die “101 van gesond oud word”?
“Die belangrikste is jy moet die netto posisie handhaaf,” sê Oupi ernstig. Leo lag oor dié metaforiese verwysing na sakesukses en sit sy hand liefdevol op sy pa se skouer toe hy sê: “Jy sien, Oupi het ’n klompie seuns gehad wat namens hom gestres het. Hy weet nie wat stres is nie. Wanneer daar met tye nie geld vir salarisse was nie en jy sê dit vir hom, het hy altyd gesê: ‘Jy sal ’n plan maak.’ En ons het.”
Leo is duidelik trots op sy pa. “My pa het nooit ophou werk nie. Vertel hulle, pa, wanneer tree ’n mens af?” vra hy Oupi. “Nooit,” sê die grysaard. Hy bly in ’n aftreeoord in Pretoria, maar volgens Leo ry hy met die hulp van sy drywers nog die wêreld plat om by ou pelle en familie te kuier. Hy kom loer ook gereeld hier by hulle op kantoor in. “My pa het nog ’n kantoor hier. Hy wil altyd weet hoe die verkope lyk. Hy is baie nuuskierig.”
LEO verklap sy pa drink al jare lank die poeier van kalsium en magnesium wat hul onderneming aan farmaseutiese maatskappye verskaf om dolomietpille te maak. “Dokter het al met my pa geraas en gesê hy kan dit nie doen nie, maar hy drink dit steeds elke dag.”
Sy eetgewoontes was nog altyd deel van sy gesonde leefstyl: Hy raak nie aan suiker nie en “verag” stysel soos brood en pasta.
“Eet pa pizza?” vra Leo en knipoog. Nooit, kom die antwoord.
Dan vervolg Leo: “Hy het in sy lewe amper nooit lekkergoed, suiker of nagereg geëet nie. My pa eet vis, vleis, slaai en vrugte.”
Sy gunsteling is “bakke vol garnale” wanneer hy saam met die Pistoriusfamilie by hul lodge in Mosambiek kuier.
“Maar dit moet gaar wees,” beklemtoon Oupi. “Gáárnale.”
Sy pa hou steeds daarvan om nuwe dinge en plekke te beleef, vertel Leo. So was hy verlede jaar nog saam toe ’n groep familielede op hul plaas in Botswana gejag het. Oupi se oudste dogter, Heidi Drew (70) van Kaapstad, vertel later telefonies hul pa was vanjaar ook al drie keer saam met hulle Krugerwildtuin toe.
Op sy verjaardag op 29 Augustus het sy naaste familie en vriende hom met sy gunstelingeetgoed by sy seun Theo se restaurant, Relish Bistro in Pretoria, trakteer. “Ons het hom bederf met liefde en sy gunstelinge soos lekker sagte biltong, droëvrugte, kase, olywe en ’n glasie goeie chenin blanc. Op hierdie ouderdom is wêreldsgoed nie meer vir hom belangrik nie,” sê Theo.
Daar was drie koeke: een van ’n trok met “H. Pistorius & Kie” daarop geskryf; een van Oupi wat jag; en nog een met twee groot bokshandskoene met die lewensles wat hy sy seuns geleer het: “Gentle, but a man.”
Die grootste deel van sy lewe het Oupi tot vier keer per week geoefen. Hy het deur die jare baie geboks, en hoewel hy nooit ’n beroepsbokser was nie, het hy boks afgerig. “Hy het graag sakgeslaan,” vertel Leo met ’n laggie.
Oupi dink baie terug aan die verlede en vertel van mense wat hy geken het, en oor sy liefde vir Duitse motors en spoed. Die grootste verandering wat hy in sy lewe beleef het, was juis die koms van motors, sê hy.
Hy onthou nog hoe hy as ’n seuntjie in Brits, Noordwes, met muile skool toe gery het. Hy het later sy pa, Theodore George Joseph, oftewel Tooi, se eerste motor vir hom gekoop. Hy onthou hoe die Engelse in 1938, tydens die spanning voor die Tweede Wêreldoorlog, sommer hier in Suid-Afrika Duitse motors in strate omgegooi het, maar nooit syne nie. “Ek sou hulle dônner!”
Skielik besef Oupi almal drink al koffie behalwe hy. “Kry ek nou nie koffie nie?”
Lukas Mametsa (54), een van sy twee versorgers en drywers, staan nader met sy boeretroos en ’n strooitjie om dit mee te drink. Lukas maak seker hy kry elke oggend sy koffie, spek en eiers en doen sy strekoefeninge. Dan ry hulle in sy wit Subaru Outback rond, want dis ’n “lekker motor”. Soms sal hy ’n middagslapie neem, en halfagt saans is hy in die bed.
Maar vanmiddag is daar nie tyd vir ’n slapie nie. Eers dring Oupi daarop aan
OUPI kry ’n groot bord met Eisbein wat in stukkies opgesny is en slaai. Hy sluk dit af met twee glase lemoensap.
Nes Oupi het Oscar, Carl en Aimée se ander oumas en oupa lank gelewe. Oupi se vrou, Gerti, is in Oktober 2016 ná ’n huwelik van byna 75 jaar op die ouderdom van 92 oorlede.
Oscar se ander ouma, Joyce Bekker, is in Augustus 2017 op 93 dood en sy oupa aan moederskant, Leonardus Arnoldus, in 2012 op die ouderdom van 90.
Oscar (nou 31) kon vanjaar nie in die vreugde van sy enigste oorlewende grootouer deel nie, nes hy nie verlede jaar by Oupi se eeufeesviering kon wees nie.
Die Paralimpiese lemnaeler dien tronkstraf uit in ’ n gevangenis buite Pretoria nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp (toe 29), op Valentynsdag 2013 deur die toe badkamerdeur van sy huis in Pretoria doodgeskiet het.
Maar Heidi vertel Oupi het sy kleinseun einde verlede jaar tydens ’n ope dag in die tronk besoek. “Oscar was baie geraak deur sy oupa se besoek. Hy was emosioneel. Oupi het toe in sy oor gefluister.”
Heidi weet nie wat gesê is nie, maar sy weet Oupi het sy kleinseun bemoedig. Sy vertel onder omstandighede bly hy baie positief, nes sy Oupi.
“Hy is betrokke by alles in die gevangenis. Hy is deel van ’n Bybelstudiegroep en bring die meeste van sy dae in die groentetuin deur.”
Die diep hartseer is duidelik toe Oupi oor sy kleinseun praat. Sy oë raak waterig en hy sit sy hand sagkens op sy bors: “Ek het hier diep binne my gehuil. My kleinseun is nie ’n moordenaar nie.
“Hy is ’n gentleman. Gentle, but a man.”