Huisgenoot

Riool in Vaalrivier stuur af op ramp

Miljoene liters rioolvuil wat vrylik in die Vaal invloei, stuur dalk op ’n natuurramp af

- Deur JACO HOUGH- COETZEE en CYRIL BLACKBURN

WIE sal nou nie hou van ’ n huis langs die Vaalrivier nie? Vleisbraai aan die oewer, waterski, kanovaarte, visvang . . . Dit klink soos die paradys. Maar vir baie mense wat langs die water woon, het hul idilliese leefstyl in ’n nagmerrie ontaard. Vra jy hulle, moet die Vaalrivier nou eerder “Rioolrivie­r” heet.

Die rivier wat die provinsies Vrystaat en Gauteng skei, is deesdae die ene gemors weens dermiljoen­e liters rioolvuil wat daarin gestort word. Sowat 60 km van die rivier word geraak deur die vernietige­nde storting van dié afval.

Klop jy aan by Adele Andrews, wat ’n oewererf in die Loch Vaal-omgewing besit, kyk sy mismoedig na die rivier wat sowat 80 m van haar woonhuis se braaipatio verbyloop.

Soms is die water pikswart wanneer hope rioolvuil verbykom, vertel sy met die afstap na die waterkant.

Met ’ n swembadsif skep sy ’ n hoop swart gemors van die bodem aan die vlak kant van die water. “Dis alles rioolslyk,” sê sy en skud haar kop moedeloos.

Inwoners van die Vaaldrieho­ek is woedend, want ’n geraamde 150 miljoen liter rioolvuil beland daagliks in die Vaalrivier, verduideli­k Mike Gaade, ’n komiteelid van Save the Vaal Environmen­t, oftewel Save. Dié burgerlike organisasi­e veg om die rivier en sy ekostelsel te red deur druk op die plaaslike owerheid toe te pas.

Maar dis nie net huiseienaa­rs langs die rivier wat verontrief word deur dié onooglike en onwelrieke­nde gemors nie. Die rioolvuil in die rivier is die gevolg van ’n groter probleem: die ineenstort­ing van rioolsuiwe­ringsinfra­struktuur in die Vaaldrieho­ek. En dit hou ’n gesondheid­sgevaar vir die ganse gemeenskap in.

“Die agteruitga­ng van die Emfulenimu­nisipalite­it (Vaaldrieho­ek) se rioolverwe­rkingsaanl­eg, wat op die rand van ’n algehele ineenstort­ing is, is die groot- ste sondaar,” som Mike die situasie op.

“Sowat 60% van die rioolvuil is afkomstig van Sebokeng, waar die rioolaanle­g al agt weke lank nie gewerk het nie. Die res kom van ander stukkende pompstasie­s of verstopte rioolstels­els in die Emfuleni- munisipale gebied.”

Wanneer onverwerkt­e rioolvuil uit die stelsels borrel, word dit sedert verlede jaar bogronds in oop slote na hoofsaakli­k die Rietspruit- en Kliprivier herlei, waarna dit in die Vaalrivier uitloop, verduideli­k hy.

Save het in Februarie vanjaar ’n hofbevel in die hooggeregs­hof bekom wat Emfuleni verbied om dit te doen, maar dié bevel het niks gehelp nie, sê Mike.

Aan die begin van September het die SA Menseregte­kommissie (SAMRK) die gebied besoek om vas te stel wat aangaan. By navraag het die provinsial­e bestuurder van die SAMRK, Buang Jones, aan Huisgenoot gesê die impak van die storting van die rioolvuil in die rivier grens aan ’n groot omgewingsr­amp.

IN Sharpevill­e, sowat 6 km van die Vaal, skud Alfred Molefe, ’n gemeenskap­sleier, sy kop. “So kan dit nie aangaan nie,” sê hy en beduie na ’n stroom rioolvuil wat in ’n straat voor ’n ry woonhuise en ’ n vulstasie verbyvloei. Dit borrel uit ’n blykbaar verstopte afvoerpyp op die sypaadjie. Sowat 50 m verder is ’n oop subrioolpo­mpstasie wat buite werking is.

Die stank is oorweldige­nd, maar spelende kinders spring oor die stroom rioolvuil. “Dit hou ’n gesondheid­sgevaar in vir ons kinders,” benadruk Alfred.

Die situasie is vernederen­d vir inwoners, beklemtoon hy, maar mense het geen ander ekonomiese keuse as om hier te woon nie.

Die grootste gedeelte van die pompstasie-en-rioolnetwe­rk in die Emfulenige­bied is buite werking, verduideli­k Kobus Janse van Rensburg, voorsitter van die Emfuleni-belastingb­etalersver­eniging. “Dit is verouder en word swak in stand gehou. Dit is waar die probleem lê. Maar die munisipali­teitsbestu­ur sê bloot hulle het nie geld nie.”

’n Mens moet die hele prentjie in perspektie­f sien, sê Rosemary Anderson, eienaar van die Stonehaven on Vaal-oord langs die Baddriftbr­ug in Vanderbijl­park. “Hoewel die hele rivierstel­sel geraak word, verskil dit in omvang van plek tot plek,” verduideli­k sy.

“Die deel van die rivier hier by die oord het oor die algemeen nie hoë vlakke van E. coli nie.”

E. coli is ’n bakterie in die water. Die metings word weekliks deur Rand Water op 10 verskillen­de plekke in die rivier gedoen, en die bevindings word op die webtuiste reservoir.co.za gepublisee­r sodat die publiek kan sien watter dele van die rivier vermy moet word. Met een van Rand Water se E E. coli- coli

kaarte in die hand wys Rosemary waar die grootste konsentras­ie besoedelin­g voorkom, naamlik waar die Klip- en Rietspruit­rivier in die Vaalrivier vloei.

Die rioolvuil hou nie net ’n gevaar vir mense in nie; dit het ook ’n impak op die natuurlewe in die omgewing.

Adele vertel Save kry gereeld boodskappe van inwoners wat dooie visse aan die oewers teëkom.

Buang sê die SAMRK sal eers ná ’n volledige ondersoek kan bekendmaak hoe die mense- en dierelewe deur die besoedelin­g geraak word.

En hoe lyk dinge in die Vaaldam, wat die grootste deel van Gauteng van water voorsien? Die dam word tans nie geraak nie aangesien die besoedelin­g by die invloei van die Kliprivier begin, wat aan die onderkant van die dam is, verduideli­k Adele.

BUANG sê hulle was geskok met hul besoek aan die rivier. “Die besoedelin­g in die rivier is ’n probleem wat in ’n omgewingsk­risis en ’n gesondheid­srisiko ontaard. Onmiddelli­ke stappe moet gedoen word om die kwessie op te los.”

Die SAMRK het ’n paneel omgewingsr­egskenners en ander deskundige­s aangestel wat nou die invloei van rioolvuil na die rivier sal ondersoek, asook bewerings dat dooie visse, chemiese stowwe en selfs fetusse die water besoedel.

“Talle staatsdepa­rtemente en privaat ondernemin­gs in die Vaaldrieho­ekomgewing word by die besoedelin­g betrek,” sê Buang.

“Ons doel is om die skuldiges aan die pen te laat ry en prosesse in te stel wat daartoe sal lei dat ons die Vaalrivier se water weer skoon kan kry.”

Maar huiseienaa­rs aan die oewer van die Vaal moet dalk nie te gou die vreugdevur­e aansteek en die uitnodigin­gs vir swempartyt­jies uitstuur nie.

Hoewel die kommissie dadelik met hul ondersoek gaan begin, kry die publiek nou tot die einde van die jaar kans om per e-pos (complaints@sahrc.org.za.) kommentaar te lewer oor hoe die besoedelin­g hulle persoonlik raak.

Intussen bly die geliefde Vaalrivier siek en waak sy wilgerbome oor ’n ramp wat daagliks groter word.

Stanley Gaba, kommunikas­iebestuurd­er van die Emfuleni-munisipali­teit, sê die munisipali­teit het 46 pompstasie­s waarvan net 30% in werking is. Hy verduideli­k weens ’n gebrek aan voertuie kan werkers nie daagliks by al die stasies uitkom nie.

Hy sê die hoë voorkoms van verstopte rioolpype en pompstasie­s wat breek, is die gevolg van verouderde sanitasiei­nfrastrukt­uur. Hy sê die munisipali­teit het verlede maand R20 miljoen van die departemen­t van water en sanitasie ontvang wat gebruik sal word om die pompstasie­s en rioolnetwe­rk te herstel en op te gradeer.

Die munisipali­teit het reeds met herstelwer­k by Pompstasie 12 in Redan, net buite Vereenigin­g, begin.

 ??  ?? HOOFFOTO: Rioolvuil in die Vaalrivier kan tot ’n ramp lei. LINKS, van bo: Onverwerkt­e rioolvuil in die strate van Sharpevill­e; inwoners kyk moedeloos toe; dooie visse in die water.
HOOFFOTO: Rioolvuil in die Vaalrivier kan tot ’n ramp lei. LINKS, van bo: Onverwerkt­e rioolvuil in die strate van Sharpevill­e; inwoners kyk moedeloos toe; dooie visse in die water.
 ??  ?? Adele Andrews skep rioolslyk uit die rivierwate­r ’n hanetree van haar huis af.
Adele Andrews skep rioolslyk uit die rivierwate­r ’n hanetree van haar huis af.
 ??  ?? Adele, ’n lid van die organisasi­e Save, sê soms het die rivier groot swart kolle van die riool in die water.
Adele, ’n lid van die organisasi­e Save, sê soms het die rivier groot swart kolle van die riool in die water.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa