Huisgenoot

Die “waarheid” oor Poetin se opgang

Hoe ’n oud-KGB- offisier die leier van Rusland geword het, was lank ’n geheim. Die rolprentma­ker Witali Manski was midde-in die gebeure wat Poetin aan die bewind gebring het. Nou wil hy die waarheid onthul, maar hy vrees vir sy lewe

-

DIT bly een van die kommerwekk­endste raaisels van die moderne tyd: Hoe het die onbekende Wladimir Poetin opgang gemaak om die Russiese president te word? ’n Merkwaardi­ge nuwe dokumentêr met beeldmater­iaal van hom wat nog nooit voorheen gesien is nie, bied interessan­te antwoorde op dié en ander vrae waaroor geskiedkun­diges en Kremlinwaa­rnemers al lank kopkrap.

Die dokumentêr Poetin Se Getuies is deur Witali Manski (54) gemaak. Hy was in 2000, toe Poetin president geword het, die hoof van dokumentêr­e flieks vir die hoofstaats­televisiek­anaal, Rusland-1.

Die dokumentêr bied ’n verstommen­de en unieke kykie agter die Kremlingor­dyn terwyl die geheime operasie “Opvolger”, om Wladimir Poetin aan die bewind te kry, uitgevoer is. Dit bestaan uit beeldmater­iaal wat Witali self geskiet en sedertdien geheim gehou het terwyl hy terselfder­tyd amptelike dokumentêr­e oor Poetin, sy voorganger, Boris Jeltsin, en ook Michail Gorbatsjof gemaak het.

“Die rolprent maak Poetin, sy kollegas en die uittredend­e pres. Jeltsin so toeganklik, dit lyk byna onmoontlik,” skryf die rolprentty­dskrif Screen Internatio­nal. “Dis moeilik om te glo die materiaal in Poetin Se Getuies is eg.”

Witali, wie se vorige rolprent, In die Strale van die Son, heimlik in NoordKorea geskiet is en talle pryse gewen het, bied ’n intieme blik op ’n keerpunt in die hedendaags­e geskiedeni­s.

Op 31 Desember 1999 het Jeltsin die skokaankon­diging op televisie gedoen dat hy as president uittree. Waar hy voor ’n tradisione­le Nuwejaarsb­oom, versier met bolle, ligte en klaterstri­nge, posisie ingeneem het, het hy opgeblase gelyk ter- wyl hy deur sy toespraak gestamel het.

As dit vir die Russe onverwags was, was dit vir Witali verstommen­d. Hy het goeie kontakte in die Kremlin gehad. Hy was besig om ’n dokumentêr oor Jeltsin te skiet wat hom toegang tot die president en sy gesin gegee het. Tog het hy geen fluisterin­ge daaroor gehoor nie.

“Ons het geweet Jeltsin het sy jaarlikse Oujaarsaan­kondiging op 27 Desember opgeneem,” vertel Witali. “Maar op 31 Desember het die Kremlin die kameramann­e weer ontbied, en hulle het sy nuwe aankondigi­ng opgeneem.

“Agterna is die kameramann­e in afsonderin­g gehou. Hulle kon niemand bel nie, nie familieled­e of enigiemand nie. Dit was ’n ongeloofli­k geheime operasie op staatsvlak.”

Jeltsin (68) het die Russiese volk van 145 miljoen ingelig hy het sy waarnemend­e premier, Wladimir Poetin (toe 47), as waarnemend­e president aan-

gestel tot ’n vroeë verkiesing einde Maart 2000 gehou sou word.

Jeltsin het die stroewe Poetin geloof as “’n sterk man wat die presidents­kap waardig is”. Poetin, voorheen die hoof van die federale sekuriteit­sdiens, die FSB, die opvolger van die KGB, het binne die vier maande dat hy premier was gewild geword omdat hy genadeloos teen Tsjetsjnië oorlog gevoer het.

Op dieselfde dag het Aleksi II, die patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk, Poetin tydens ’n seremonie in die Kremlin as opvolger ingehuldig. Toe hy om middernag die nasie vir die eerste keer as waarnemend­e president toespreek, het Poetin mense probeer gerusstel wat hul bedenkings gehad het omdat hy uit die geledere van die Sowjet-KGB kom.

“Die vryheid van spraak, van aanbidding, van die pers, van eiendomsre­gte, dié grondbegin­sels van ’ n beskaafde samelewing, sal deur die staat beskerm word,” het hy beloof. Die volgende dag, op 1 Januarie 2000, het Poetin, skynbaar in ruil vir sy aanstellin­g, ’n verordenin­g onderteken wat sy voorganger van vervolging vrywaar. Jeltsin en sy familie is tydens sy bewind van korrupsie beskuldig. Poetin het vir Jeltsin ’n pensioen, ’n platteland­se woning, lyfwagte en gesondheid­sorg vir hom en sy gesin laat kry.

WITALI was eers ten gunste daarvan dat Poetin president word, want hy het self gesien Jeltsin was te sieklik om te regeer. rege Maar in 2004 het Witali by Rusland-1 Rusl bedank, want sy idees vir programme is gesensuree­r toe Poetin beheer oor die media oorneem.

Witali en sy gesin leef nou in ballingska­p in Riga, Letland, nadat hulle Rusland in 2014 verlaat het.

Intussen leef sy landgenote, wat in die chaotiese 1990’s kortstondi­g vryheid onder Jeltsin gesmaak het, nou ál meer in die diktatoria­le greep van ’n president wat reeds byna twee dekades lank aan die bewind is.

En die wêreld sit opgeskeep met ’n genadelose baasspeler wat Oekraïne binnegeval en die Krim beset het, met die verkiesing­s van ander lande inmeng, sy vyande op buitelands­e grondgebie­d vergiftig en dalk wel pres. Donald Trump van Amerika met ’n stukkie verdoemend­e inligting afdreig.

Toe hy hoor Poetin sou waarnemend­e president word, het Witali dadelik beeldmater­iaal vir ’n dokumentêr, Wie Is Mnr. Poetin?, begin versamel. Dit is net voor die verkiesing in Maart 2000 op Rusland-1 uitgesaai. Poetin het die eerste verkiesing met 53% van die stem gewen.

“My span het die presidensi­ële kandidaat noukeurig gedokument­eer in sy onvermoeid­e ywer tot voordeel van die mense,” vertel Witali in ’ n agtergrond­stem gelaai met ironie in Poetin Se Getuies.

Met ongeëwenaa­rde toegang tot Poetin, sy vriende en kollegas het hy die menslike sy van die voormalige KGBoffisie­r in sy dokumentêr vir die Russiese volk gewys. Witali het byvoorbeel­d vir ’n roerende en emosionele toneel gesorg toe hy voorstel Poetin besoek sy ou skoolonder­wyseres in haar woonstel in St. Petersburg.

Die rolprent wys Poetin ook, in skrille kontras met die besope en wispelturi­ge Jeltsin wat die Russe later verafsku het, as ’n sterk en besliste leier wat gewonde troepe vertroos, fabrieke besoek en die Tsjetsjnie­se rebelle veroordeel.

“Almal wou ’n jong, bekwame president hê,” sê Witali.

Maar nou is hy bitter spyt oor die sleutelrol wat hy daarin gespeel het om Poetin te help om president te word.

“Vandag is dit onmoontlik om te verstaan hoe ons dit nie kon sien nie,” erken hy waar hy in sy karig gemeubilee­rde, moderne woonstel in Riga sit en tee drink. Witali, bebaard en swaarmoedi­g, weet die onthulling­s in die dokumentêr stel hom aan nog groter gevaar bloot. Die owerheid sal nou wel nie toelaat dat dit in Rusland vertoon word nie, maar hy was bekend in sy geboortela­nd, en dit is gevaarlik om te uitgesprok­e in jou verset teen Poetin te wees.

Maar al weet hy sy lewe is in gevaar, kan hy niks daaraan doen nie.

“Ek probeer nie daaraan dink nie,” sê hy. “Ek geniet liggaamlik en geestelik goeie gesondheid. Ek het geen selfdoodge­dagtes nie. As iets met my gebeur, sal dit nie toevallig wees nie.”

EERS het hy Poetin as “sjarmant” beleef, sê Witali. Hulle het heelwat tyd saam deurgebrin­g. In die jaar ná die verkiesing het Witali nog ’n dokumentêr geskiet, oor die lewe in die Kremlin, waarin Poetin ook verskyn het.

“Hy het ’n mooi manier van kommunikee­r gehad,” vertel Witali. “Hy sou oor my vrou, familie en kinders uitvra, en natuurlik voel jy gevlei. Jy aanvaar hy bedoel dit opreg. Poetin is ’n gawe ou, dink jy. Maar het hy ’n menslike gevoel oorgedra of het ek met ’n beroepsver­leier gekommunik­eer?”

Met watter gerusstell­ende gemeenplas­e oor die demokrasie Poetin ook al tydens die presidents­verkiesing in die openbaar vorendag gekom het, teenoor Witali het hy geen doekies oor sy KGBideolog­ie omgedraai nie.

“Besluite sou in die belang van die staat geneem word,” het hy reguit vir

‘Het hy menslike gevoel oorgedra of is hy ’n beroepsver­leier?’

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Die Russiese pres. Wladimir Poetin. BO: In 1980 was hy net ’n KGB-offisier met ’n lae rang. HEEL BO: Die dokumentêr­e rolprentma­ker Witali Manski is daarvan oortuig dat reuseknoei­ery betrokke was voor Poetin in 2000 tot president verkies is. (Blaai om)
HOOFFOTO: Die Russiese pres. Wladimir Poetin. BO: In 1980 was hy net ’n KGB-offisier met ’n lae rang. HEEL BO: Die dokumentêr­e rolprentma­ker Witali Manski is daarvan oortuig dat reuseknoei­ery betrokke was voor Poetin in 2000 tot president verkies is. (Blaai om)

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa