Huisgenoot

MY STORIE

Eers in sulke tye weet ’n mens wat werklik in die lewe saak maak

-

DIT was ’n gewone Dinsdag. Ek onthou nog die datum: 5 Augustus 2014.

Vroegdag was ek al vir ’n inkopietog opgedollie. Eintlik effens onwillig. Sien, iewers tussen winter en weer het twee onwelkome vetrolletj­ies om my heupe kom tent opslaan. Ek beleef ’n stoeigeveg tussen trooskos en haaskos en probeer brood uitsny, maar my goeie voornemens hou nie.

Die vorige aand het manlief die uitnodigin­g aan my oorhandig nadat hy heel smaaklik aan sy tweede skeppie kos op sy bord gesmul het.

“’n Spesiale geleenthei­d,” sê hy so ewe met ’n knipoog. Reeds oortuig daarvan dat sy vrou sal skitter. Soos altyd. Nie ’n idee van hoe moeilik daardie twee vetrolletj­ies sy vrou se lewe maak nie.

“Verdomp! Mans het dit net makliker,” dink ek. Ek laai die skottelgoe­d ekstra hard in die opwasser.

“Môre, net môre is die dag,” besluit ek.

Winkel tot winkel. Aantrekhok­kies en kunsmatige lig. Ek voel my bloeddruk styg, my voete is seer en my moed teen die grond. Al wat ek wil hê, is ’n tjoklit.

Toe gebeur dit. Op die oomblik dat ek die laaste uitrusting aandurf. Die vloer onder my skud op ’n vreemde manier. ’n Oomblik lank staan ek verskrik. Toe laat val ek die rok op die vloer en vlug saam met al die ander mense na buite.

Buite drom mense nuuskierig saam, maar niemand weet wat aangaan nie. Die hemele behoed ons.

“My kinders, Here! Is hulle veilig by die skool?” is my eerste gedagte.

Terug in die motor skakel ek die radio aan. ’n Aardbewing het pas die sentrale binneland getref en dit het 5,5 op die Richterska­al gemeet. Dit kon tot in Botswana gevoel word.

Skielik beteken ’n mooi rok en rietskraal figuur soveel minder.

ANIKI JOSEPH

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa