Huisgenoot

MAAK JOU DROOMDAG BEKOSTIGBA­AR

Jou troudag hoef jou nie platsak te laat nie

- JOU GELDSAKE

VERLIEF, verloof . . . maar o wee, waar moet die geld vir daardie spesiale dag vandaan kom? Moenie moed verloor nie. Dit is moontlik om op sekere groot troudaguit­gawes te bespaar, sê die trouspesia­liste Aleit Swanepoel van The Aleit Group en Minda Maritz van Blush Society.

Albei maan dis moeilik om die gemiddelde koste te beraam. Die prys van onthaalsal­e, kos en blomme verskil van streek tot verskil. Hou dit in gedagte wanneer jy Aleit en Minda se wenke lees. Nogtans kan die rigtingwys­ers wat hulle verskaf jou met minder pyn in jou beursie voor die kansel besorg.

GASTE

Besluit vooraf vir hoeveel gaste daar geld is en lê dan reëls neer oor wie genooi word. Aleit se raad is om mense van die gastelys te skrap wat nie jou troeteldie­r se naam ken nie, want dan ken hulle jou nie goed genoeg nie. Gestel jou gaste werk jou R300 per kop uit. As jy 100 gaste nooi, pleks van 150, kan jy teen R300 per kop R15 000 bespaar. Hoe meer jy per kop bestee, hoe meer bespaar jy deur die troue intiemer te hou.

UITNODIGIN­GS

Doen dit elektronie­s: Gedrukte kaartjies is pragtig, maar ’n kaartjie met ’n bypassende koevert kos minstens R30, sê Minda. Daarby kom die standaardp­osgeld van R4,20 per kaartjie. Dus sal 50 kaartjies jou minstens R1 700 kos. Webtuistes maak dit baie goedkoper en omgewingsv­riendelike­r om uitnodigin­gs en RSVP’s elektronie­s te stuur. Die koste wissel, maar baie opsies is vanaf R600 beskikbaar.

TROUROK

Huur dit: Om ’n trourok te laat maak kan, na gelang van die ontwerper en materiaal, enigiets van R10 000 tot R100 000 of meer kos. Huur dit eerder, meen Aleit. Huurkoste kan byvoorbeel­d wissel van R2 000 tot R8 000, na gelang van die winkel.

Verkoop dit: Minda vertel ’n bruid wie se ontwerpers­rok R18 000 gekos het, het dit later aanlyn verkoop vir R11 000. Haar droomtrour­ok het haar dus net R7 000 gekos.

ONTHAALPLE­K

Kies jou dag: Tydens naweke kan ’n Bolandse wynplaas jou byvoorbeel­d R140 000 vir 100 gaste kos. Dit sluit saalhuur, sekuriteit en parkering, ’n driegangma­altyd, ’n glas vonkelwyn, kelners, stoele, tafels en eetgerei in. Maar trou jy op ’n weeksdag, kan dit jou R10 000 minder kos, sê Minda.

Kies jou plek: Vind uit wat die koste van verskeie geriewe in jou omgewing is. Jy kan byvoorbeel­d by ’n onthaalger­ief aan die Weskus (driegangma­altyd ingesluit) R56 000 vir 100 gaste betaal. Dis heelwat billiker as daardie wynplaas en dalk nie veel verder nie. Aleit sê bruide raak soms verlief op ’n plek sonder om uit te vind wat die kontrak insluit. Dikwels is dit net die saal en kelners en moet stoele, tafels en eetgerei afsonderli­k gehuur word.

ETES

Buffetopsi­es is soms goedkoper as om gaste aan tafel te bedien. Jy kan tussen R50 en R100 per kop bespaar omdat minder kelners gebruik word, sê Minda.

BLOMME

Kies plaaslike blomme volgens seisoen: ’n Koningspro­tea in seisoen kos sowat R35, maar buite seisoen maklik R80 tot R95.

Doen dit self: ’n Bruid en haar gevolg se blomme bedra maklik R35 000. As sy self die blomme koop, kan sy tot 40% (R14 000) bespaar. As ’n familielid of vriende die blomme rangskik, kan jy tot R10 000 bespaar, sê Minda.

Daardie blomsoort is so mooi, maar so duur . . . Kies dan iets soortgelyk­s wat minder kos. Million Star-blomme kos byvoorbeel­d sowat R30 per bossie. Vervang dit met Chamelauci­um teen ongeveer R15 per bossie.

Vra jou plaaslike kwekery wat dit sal kos om plante te huur, is Aleit se raad.

TROUKOEK

Laat die troukoek opsny vir nagereg, dan dien dit ’n dubbele doel, beveel Aleit aan. As jy R80 per kop vir nagereg sou betaal, bespaar jy sodoende R8 000.

Jy betaal gemiddeld minstens R1 000 per koeklaag. Kry ’n kleiner koek wat eenvoudig maar pragtig is. Jy kan so R2 000 of meer bespaar, sê Minda.

FOTO’S

Span vriende in. ’n Fotograaf kan van R12 000 tot R85 000 kos. Maar as ’n bekwame vriend of vriendin die fotograaf is, kan dit dalk ’n trougesken­k wees of teen ’n afslag gedoen word.

Fotohoekie­s is baie gewild, maar kan tot R8 000 vir sewe uur kos. Skep eerder jou eie trefwoord vir Instagram en Facebook, sê Minda, en laat gaste hul foto’s daarmee merk.

GESKENKIES OP DIE TAFEL

Dit is onnodig, meen Aleit en Minda. ’n Klein botteltjie desertwyn van R60 per kop sal jou R6 000 kos. Bespaar dié geld.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa