Huisgenoot

Ons besoek Stellatien­er in die tronk

Die moordbesku­ldigde vertel van sy emosies, sy besoekers en ’n brokkie nuus uit die buitewêrel­d wat hom bereik het

- Deur MARIZKA COETZER

DEUR ’ n gaatjie in die dowwe besoekersv­enster van die Rooigrondg­evangenis buite Mahikeng loer ’n blou oog vir my. Die oog knip. “Hallo, tannie,” sê die 19-jarige Xander Bylsma saggies. “Ek praat baie met jou ma,” sê ek. ’n Glimlag sprei stadig oor die gesig. Dis byna ondenkbaar dat dié jong man, net anderkant sy skooljare, kort ná my besoek weer in die landdrosho­f op Vryburg sal verskyn op twee aanklagte van moord. Hy word daarvan aangekla dat hy sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en kleinniggi­e Marna Engelbrech­t (16) in Mei vanjaar op ’n naweekaand in die meisieskos­huis van die Hoërskool Stella verwurg het.

Vroeër die oggend het ek dieselfde pad tussen Vryburg en Mahikeng gery as wat Xander agterin ’n vangwa sal moet ry wanneer hy ná sy volgende hofverskyn­ing teruggebri­ng word tronk toe.

Hier, het sy ma, Mercia Bylsma, vroeër vertel, leef hy van pap, groente, slegte bredie en brood. Hy het 23 kg verloor en moes sy krullebos, sy trots, laat afskeer oor die tronkluise wat daarin saamgekoek het.

Op die pad tussen Vryburg, naby die dorpie waar Xander op ’n plaas grootgewor­d het, en Mahikeng, die hoofstad van Noordwes, loop beeste, donkies en bokke sommer vry rond.

Dit is ’n Donderdago­ggend, besoektyd, maar daar is min mense wat vandag by die gevangenes hier in Rooigrond kuier.

Xander se pa, Monte, het wel by sy seun kom inloer. Hy het ’n stapel boeke in die hand toe hy uit die tronk gestap kom en koers kies na sy bakkie.

Dit was op sý plaas in die Louwnadist­rik buite Vryburg dat Xander, sy enigste seun, op Saterdag 26 Mei, minder as 24 uur ná die moorde, deur ’n privaat speurder ondervra is. Dié speurder, Chris Saunders, het Xander toe na die polisiekan­toor op Vryburg geneem, waar hy ’n bekentenis afgelê het.

Deesdae kom kuier Monte op Donderdae vir sy seun; Dinsdae is dit ma Mercia se beurt. Die twee is jare gelede al geskei.

Xander mag net twee besoekers ont- vang; ek is vandag tweede aan die beurt.

In die besoekersl­okaal sit twee ander gaste op houtbankie­s voor vensters en gesels met die gevangenes in twee van die agt besoekersh­oekies aan die ander kant. Net ’n laag dik plastiek skei elke besoeker van die gevangene met wie hy ’n verbinteni­s het, maar daardie stuk plastiek is ’n ondeurdrin­gbare skeiding tussen wêrelde.

Dan verskyn die bleek jong man in die besoekersh­oekie oorkant my. Hy is rietskraal in sy geel tronkoorpa­k. Sy skouers hang, maar sy hare is netjies gekam.

Ek moet fyn luister om sy sagte stem bo die lawaai in die lokaal te hoor.

Hy groet ordentlik en verduideli­k dadelik hy mag nie oor die saak praat nie. Hy lyk verboueree­rd en ongemaklik. “Ek is moedeloos, tannie,” sê hy. Hy kyk af na sy hande, so asof hy nie meer woorde het nie.

Hy het sedert sy inhegtenis­neming nog nie om borgtog aansoek gedoen nie, glo omdat hy die woede van die gemeenskap vrees. Sharnelle se lewelose liggaam is aan die trapreling buite haar koshuiskam­er gevind en Marna s’n in die bad kamer. Dit het hul geliefdes, maar ook die hele gemeenskap, in stukke geskeur.

Xander praat oor ditjies en datjies. Die nuus het hom bereik dat die konstitusi­onele hof onlangs beslis het die gebruik van dagga tuis is nou wettig – onverwagte gebeure uit die buitewêrel­d. “Ek rook

nie daardie k** nie,” sê hy.

Dan vertel hy van sy ouers wat weekliks kom kuier. Sy pa, die “streng Christenma­n”. Sy ma; vir hom net “mamma”.

“My ma sê ek is haar mooiste kind,” probeer hy ’n grappie.

Dan, stiller: “Ek weet my ma vat dit moeilik.”

Vroeër het Mercia vertel sy bekommer haar byna dood oor haar Worsman, soos sy Xander noem. “Ek is bekommerd of hy warm genoeg is, of hy eet en genoeg slaap. Ek is bekommerd oor sy veiligheid.”

Sy het meer trane gehuil as wat sy ooit kon dink ’n mens kan huil, het sy gesê.

’n Oomblik is Xander stil. Dan sê hy: “Jy is die eerste een wat hier kom kuier wat nie huil nie.”

’n Tronkbewaa­rder stap nader en sê die 45 minute besoektyd is verby.

Xander staan op. “Dankie, tannie. Ek het nie gedink ek gaan ooit weer lag nie. Dankie dat tannie vir my kom kuier het.”

Dan waai hy, skielik die ene kind, en verdwyn deur ’n traliehek.

BY Stella se meisieskos­huis is dit met my aankoms vroeër die oggend tjoepstil. Die kinders is almal op skool – weer bedrywig met hul boeke nadat hul twee vriendinne in Mei vanjaar so wreed van hulle weggeruk is.

’n Personeell­id van die koshuis vertel dinge is stiller en leër sonder die twee borrelende meisiekind­ers wat nog maande tevore by hierdie trap op- en afgehardlo­op het. Hulle het alewig saam gelag. Waar die twee boesemvrie­ndinne was, was daar lewe.

“Daar is ’n stilte sonder hul lawwigheid,” sê sy. Stap saam, beduie sy. Op die grondverdi­eping op regterhand is die badkamer waar Marna se lewelose liggaam gevind is.

Dan op met die trap – dieselfde trap waar Sharnelle se liggaam gehang het en waar haar pa, Ronnie, en oom Louis haar moes lossny en laat sak. Aan die reling hang steeds hartjies van karton wat reeds voor die moorde daar was.

Die gang op die eerste verdieping is donker. Elke kamerdeur is versier met naambordji­es, prente en blinkers. Net die vierde deur regs het niks op nie. Plek-plek is nog droë merke van die ou stukkies wondergom wat wys meisies het eens in die kamer agter die deur gebly.

Die deur is gesluit. “Dis al maande so,” sê die personeell­id. “Daar is niks daarbinne nie en niemand bly meer daar nie.”

Toe Xander nog op skool was, het hy in die seunskoshu­is op die dorp gebly.

Die personeell­id is verbaas mense beskryf hom deesdae as “emosieloos” wanneer hulle vertel hoe hy in die hof lyk.

“Mense sê hy is emosieloos in die beskuldigd­ebank. Hoe moet ’n kind van sy ouderdom hom dan anders in die hof gedra?

“Moet hy huil? Moet hy lag? Wat moet hy doen?” Sy skud haar kop. “Ons weet nie wat gebeur het nie. Die waarheid sal in die hof uitkom.”

DIT is op Facebook dat Sharnelle en Marna se gebroke geliefdes deesdae woorde probeer vind vir die onhoudbare seer. “Bid en huil. Ek kan nie meer nie! Ek is in my m*** in,” het Marna se pa, Stefaans Engelbrech­t, oor die dood van sy “Marna-muis” geskryf.

Sharnelle se pa, Ronnie Hough, het op sy Facebookbl­ad geskryf: “Daar lê nog ’n leeftyd se verlange en seer voor. Pappa verlang baie.”

Op die blad Geregtighe­id vir Sharnelle & Marna plaas Ronnie en sy vrou, Anna, gereeld foto’s van die meisies.

Hier het een van hul kennisse geskryf: “Vriendinne vir altyd. Julle word gemis. Die hartseer en verlange wil nie weggaan nie. Ons mis julle onbeskryfl­ik baie. Julle het nie die wreedheid en pyn verdien nie.” En Xander se Facebookbl­ad? Sy profielfot­o is verwyder en die blad nou gesluit. So byna asof hy nooit ’n hand daarin gehad het nie.

Al wat nog op die blad sigbaar is, is vyf foto’s: van Xander met ’n vis, van jong mans in die fleur van hul lewe, en van Xander saam met Sharnelle, jonk en verlief.

 ??  ?? REGS: Xander Bylsma staan tereg vir die moord op sy kleinniggi­e Marna Engelbrech­t (links) en eksmeisie Sharnelle Hough (REGS ONDER). Die meisies is in Mei in die koshuis op Stella in Noordwes verwurg.
REGS: Xander Bylsma staan tereg vir die moord op sy kleinniggi­e Marna Engelbrech­t (links) en eksmeisie Sharnelle Hough (REGS ONDER). Die meisies is in Mei in die koshuis op Stella in Noordwes verwurg.
 ??  ?? LINKS en BO: Die meisieskos­huis op Stella waar die boesemvrie­ndinne vermoor is. Hul kamer staan vier maande lank leeg en gesluit.
LINKS en BO: Die meisieskos­huis op Stella waar die boesemvrie­ndinne vermoor is. Hul kamer staan vier maande lank leeg en gesluit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa