Mianmar-leier se slegte ommeswaai
Sy was 15 jaar in huisarres oor haar demokratiese beginsels, maar noudat sy aan bewind is, is dit ’n ander Aung San Suu Kyi
DIT het gelyk asof die geskiedenisboeke haar as ’ n morele reus van ons tyd sou onthou – iemand wat verdien om in dieselfde asem as Mohandas Gandhi, die Dalai Lama en Nelson Mandela genoem te word.
Sy het 15 jaar in huisarres verduur eerder as om haar demokratiese beginsels prys te gee, ’n Nobelvredesprys ontvang en is deur die nuustydskrif Time as “’n kind van Gandhi” beskryf.
Selfs ons eie emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het Mianmar se bekendste opposisiepolitikus, Aung San Suu Kyi, bewonder. Jare lank het hy ’n foto van haar op sy lessenaar gehou; sy vriende het hom geterg dat hy verlief is op haar.
Maar dit was voor dié politikus deel van Mianmar se regime geword het. Selfs ons geliefde aartsbiskop moet erken: Die 73-jarige vrou wat nou Mianmar se “staatsadviseur” is (’n amp vergelykbaar met dié van premier), verskil hemelsbreed van die een wat so lank ’n eensame gevangene in ’n huis langs ’n meer was.
Die “ou” Suu Kyi met haar serene voorkoms en sagte stem is so te sê as ’n heilige beskou, maar die “nuwe” een is ’n wrede ontnugtering vir byna almal wat haar eens bewonder het. Daar is selfs versoeke dat haar Nobelprys afgevat word weens haar stilswye oor die volksmoord op die Rohingiamense, ’n etniese minderheid in Mianmar.
Soldate van die regime waarvan Suu Kyi deesdae deel is, doen immers mee aan hierdie volksmoord.
Hele Rohingiagemeenskappe word uitgemoor, huise afgebrand en vroue deur bendes verkrag. Honderdduisende van dié mense vlug uit die land en woon in vlugtelingkampe in die naburige Bangla- desj. Boonop word joernaliste wat met hul berigte en fotografie dié gruweldade aan die wêreld wys in die tronk gestop.
Hoe is dit moontlik dat die eens gerespekteerde Suu Kyi anderpad kyk?
Sedert einde verlede jaar was haar reaksie op die leër se genadelose aanslag op die Rohingias amper onhoorbaar sag. Intussen is minstens 7 000 mans, vroue en kinders dood en het sowat 700 000 die lewensgevaarlike uittog na Bangladesj aangedurf.
Die Verenigde Nasies (VN) noem dit “’n teksboekgeval van etniese suiwering”. Maar steeds swyg Suu Kyi.
Wanneer sy wel iets sê, kan jy beswaarlik jou ore glo. Soos toe sy in ’n onlangse toespraak die generaals van die regime as “heel oulik” bestempel het en beweer het die weermag reageer bloot op die “terrorisme” van die Rohingias.
Suu Kyi hou vol sy het min werklike mag om die weermag in toom te hou. Maar die VN sê haar stilswye maak haar net so skuldig aan die gruweldade as die res van die regime waarvan sy nou deel is.
Daar is ook die geval van twee Reutersjoernaliste, Wa Lone (32) en Kyaw Soe Oo (28), wat onlangs vir sewe jaar tronk
‘Dit is ’n teksboekgeval van etniese suiwering’
toe gestuur is omdat hulle oor die Rohingiamoorde berig het. Almal het verwag Suu Kyi, eens ’n uitgesproke voorstander van mediavryheid, sou alles moontlik doen om hulle te bevry. Maar aan ’n Amerikaanse diplomaat het sy gesê die joernaliste is “verraaiers” wat verdien om agter tralies te vergaan.
Suu Kyi is in 2015 uit haar jare lange huisarres bevry nadat haar party, die Nasionale Liga vir Demokrasie, by die stembus gewen het. Die wêreld het gejuig, maar ’n klousule in die grondwet het haar verhoed om president te word omdat haar oorlede man, Michael Aris, ’n geskiedkundige wat in 1999 in Oxford aan kanker dood is, ’n Brit was.
Ook haar seuns, Alexander (45) en Kim (41), is Britse burgers. Nogtans kon sy die nuutgeskepte kabinetspos van staatsadviseur vul.
Almal het aangeneem haar ontberings in huisarres sou haar vasbeslote maak om haar land ná jare van militêre heerskappy na ’n ware demokrasie te lei. Terwyl sy deur die vorige bedeling as politieke gevangene in huisarres gehou is, is sy by tye nie eens toegelaat om haar man en kinders te sien nie.
Maar toe blyk dit Suu Kyi gaan nie haar nuwe magsposisie gebruik om te veg teen die haatspraak en vooroordeel teenoor Moslems soos die Rohingias, wat die afgelope twee jaar in haar land toegeneem het, nie.
Aaron Connelly, ’n Mianmarkenner aan die Lowy-insituut in Australië, sê Suu Kyi se pleidooi dat sy magteloos is om die militêre optrede teen die Rohingias te stuit is onwaar. “Ongelukkig beskou sy nie die veiligheid en waardigheid van die Rohingias as belangrik nie,” sê hy.
Voor die aanvang van die etniese suiwering was daar sowat ’n miljoen Ro- hingias in Mianmar. Hulle word grootliks deur ander etniese groepe verag en as onwettige immigrante beskou. En nou wonder baie mense of Suu Kyi hierdie siening deel . . .
Dit lyk immers of sy en haar regering moeite doen om die lewe vir die Rohingias nog moeiliker te maak deur visums aan VN-ondersoekers en hulpverleningspanne te weier.
Kenneth Roth, die uitvoerende direkteur van Human Rights Watch, sê Suu Kyi se swye is ’ n berekende politieke skuif. “Sy dink dit is nie die moeite werd nie: Die Rohingias is te ongewild vir haar om moeite te doen om hulle te verdedig.”
Selfs Tutu het ’n ruk gelede vir haar ’n striemende ope brief gestuur waarin hy haar smeek om van gesindheid te verander. “Dit is teenstrydig vir ’n simbool van geregtigheid om ’n land so te lei,” skryf hy. “As die politieke prys van jou opgang tot die hoogste amp in Mianmar jou stilte is, is die prys sekerlik te hoog.”
Maar daar is ook ander wat glo te veel word nou van Suu Kyi verwag. “Sy is nie ’ n monster nie,” het Peter Coclanis, direkteur van die Global Research Institute aan die Universiteit van Noord-Carolina, op die politieke webtuiste foreignpolicy.com geskryf.
“Sy is ’n politieke realis wat haar bes doen met beperkte mag in ’ n uiters onstabiele jong demokrasie waar die weermag steeds vetomag het. Dit veroorsaak dat sy besluite neem wat as gevoelloos beskou word en die belange van ’n minderheid opoffer vir dié van die meerderheid, wat sy as haar taak beskou om te verteenwoordig.”
Ander meen die wêreld moenie ver- baas wees dat sy lojaal is teenoor die leër nie. Dit was immers haar pa, Aung San, ’n oudpremier van Birma (vandag Mianmar), wat die leër in 1945 gestig het in ’n poging om die land van Britse heerskappy te bevry. Hy is in 1947 in ’n sluipaanval vermoor, ses maande voor sy droom waar geword het.
Dit is egter dieselfde leër wat die land van 1962 tot 2011 met ’n ystervuis regeer het en voorstanders van demokrasie – onder andere Suu Kyi – in hegtenis geneem, krygswet ingestel en betogers doodgemaak het.
Tog lyk dit nie of sy enige wrokke koester nie. “Ek is ’n vriend van die weermag,” het sy ’n paar jaar gelede in ’n onderhoud gesê. “Mense kritiseer my nou daaroor, maar my pa was die vader van die weermag en die soldate was sy seuns. Dus is hulle deel van my familie.”
Haar mede-Nobelpryswenner Jody Williams, stigter van die International Campaign to Ban Landmines, sê sy het jare gelede al begin vermoed Suu Kyi is nie wat sy voorgee nie. Sy vertel sy was verstom toe die ikoon in 2012 woedend uit ’n New Yorkse vergadering storm nadat ’n jong aktivis haar oor menseregtekwessies in Mianmar uitgevra het.
Jody meen Suu Kyi het terwyl sy in huisarres was, “toegelaat dat ’n verkeerde beeld van haar geskep word”. Sy glo ons sien nou eers die ware Suu Kyi: ’n berekende en genadelose politikus wat gekry het wat sy nog altyd wou hê: mag. Jody som dit verdoemend op: “Dit was een groot ambisie en te hel met ander kwessies.”
BRONNE: THEGUARDIAN.COM, ALJAZEERA.COM, NEWYORKER. COM, TELEGRAPH.CO.UK