’N MAN VAN STERK WOORDE, DADE EN DENKE
Pik Botha was nie net ’n minister aan wie se lippe mense gehang het nie, maar ook ’n intellektuele reus vol wyshede en ’n kleurryke karakter
HY WAS ’n man van vele kante. ’n Volle 17 jaar lank was hy as minister van buitelandse sake in die Nasionale Partyregering die een wat op die wêreldverhoog moes bontstaan om apartheid namens sy regering te probeer regverdig. Hy was charismaties en welsprekend, wat in sterk kontras was met die stroewe aard van die Suid-Afrikaanse staatshoofde John Vorster en PW Botha onder wie hy gedien het.
Sommige het hom gekritiseer as die beeldpoetser van ’n moreel onregverdigbare en diskriminerende stelsel. Ander het hom geloof omdat hy in die binnekamers van die Nasionale Party politieke transformasie voorgestaan het – iets wat hy oplaas as kabinetslid van FW de Klerk om die onderhandelingstafel met die ANC sou help bewerkstellig.
Pik Botha was een van die gewildste politici onder die wit kieserskorps van sy tyd. Maar hy was ook meer as ’n politi-
kus. Die 86-jarige man wat op 12 Oktober tuis in Pretoria oorlede is, was ook ’n skrywer van kortverhale en gedigte, ’n kleurryke kuiergees, filosoof en jagter.
Ons kyk terug op ’n vol lewe en ’n loopbaan vol teenstrydighede.
DIE ‘PIKKEWYN’
Roelof Frederik Botha sien op 27 April 1932 die lewenslig in Rustenburg in die hedendaagse Noordwes. En die bynaam Pik? Hyself het vertel ’n kraamverpleegster het vir hom ’n swart-en-wit pakkie aangetrek “en ek het toe glo soos ’n pikkewyn gelyk”.
Aan die Hoër Volkskool in Potchefstroom is Pik ’n akademiese ster, voorsitter van die debatvereniging en knap rugbyspeler.
Gewapen met ’n regsgraad van Tuks sluit hy in 1953 by die departement van buitelandse sake aan. In dieselfde jaar trou hy met sy eerste vrou en die ma van sy vier kinders, Helena. Hulle was 43 jaar getroud; tot haar heengaan in 1996.
As junior diplomaat vul hy sy inkomste aan met sy skryftalent: als van wetenskapsfiksie tot oorlogstories, moordrillers en smeulende liefdesverhale. Baie van sy kortverhale verskyn in Huisgenoot.
SY POLITIEKE OPGANG
Die historikus prof. Hermann Giliomee onthou in sy outobiografie hoe hy in die vroeë 60’s – toe hy self ’n kadet by buitelandse sake in Pretoria was – vir Pik “in die gange met ’n frons op sy gesig” sien rondloop het. So asof “al Suid-Afrika se
diplomatieke probleme op sy skouers rus, iets wat mettertyd waar sou word. Pik was toe hoofregsadviseur belas met die koördinering van Suid-Afrika se verweer in die Wêreldhof teen die aanklag dat hy sy mandaat oor Suidwes-Afrika geskend het. Pik moes toe Suid-Afrika se saak, dat hy die reg het om Suidwes-Afrika te administreer, verdedig.
In 1975 word Pik Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA en by die Verenigde Nasies – en ’n bekende gesig op TV.
Die voormalige Rapportredakteur Tim du Plessis het ná Pik se dood in dié koerant geskryf: “Pik het Suid-Afrika se eerste TV-politikus geword, nes John F. Kennedy die TV-era in die Amerikaanse politiek ingelui het. Hy en televisie was gemaak vir mekaar.”
In 1977 kies John Vorster hom as minister van buitelandse sake, ’n portefeulje wat hy beklee tot Nelson Mandela in 1994 staatspresident word. In Mandela se kabinet dien hy as minister van minerale en energiesake. In 1996 tree Pik uit.
Die voormalige SAUK-TV-man Cliff Saunders vertel in Theresa Papenfus se biografie, Pik Botha en Sy Tyd: “As jy die man eenmaal ontmoet het, is hy moeilik om te vergeet. Al wens jy jy kon. Wanneer hy ’n vertrek binnekom om ’n toespraak te maak, sak ’n stille afwagting dadelik op almal neer.”
Volgens Cliff kon Pik nie net op sy voete dink nie, “maar ewe goed as hy op sy kop sou staan en dan sou hy boonop die gehoor oorreed om sy voorbeeld te volg”.
Die jaar ná sy uittrede verskyn Pik voor die Waarheids-en-versoeningskommissie, onder aartsbiskop Desmond Tutu se voorsitterskap, om vergifnis te vra vir sy rol in die bevordering en behoud van apartheid. Tutu vertel in Theresa se biografie hy het Pik beleef as “’n aangename mens. Warm en menslik – vanweë sy gawes, maar ook sy swakhede”.
Pik laat sy tweede vrou, Ina, met wie hy in 1998 getroud is, agter, asook vier kinders uit sy eerste huwelik: die rockmusikant Piet Botha; die ekonoom dr. Roelof Botha; Anna, ’n kunstenaar; en Lien, ’n fotograaf. Daar is ook agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders.