Fiksie: Die tweede en laaste uittreksel uit Deon Meyer se nuwe spanningsroman, panningsroman, Prooi
Lees ons tweede en laaste uittreksel uit Deon Meyer se nuutste spanningsroman
DIE professionele lewe van ’n poliesman of -vrou wentel om ’ n drieflaplêer wat opvou tot net twee sentimeter breër en langer as ’n A4-bladsy.
Die legendariese “docket”. Dit is van goedkoop karton vervaardig, in ’n ligbruin kleur wat dikwels vergelyk word met ’n onwelriekende neweproduk van babas.
Op die voorkant, heel bo, is die wapen van die SAPD gedruk. En net onder dit, in die vetste letters in die ganse dokument, staan CASE DOCKET/ SAAKDOSSIER, die amptelike titel . Tog verwys speurders, staatsaanklaers en regters byna altyd bloot na die “docket”, ongeag watter een van die land se 11 amptelike tale hulle tuis praat.
Dit het drie flappe en ses bladsye, elkeen van hoek tot kant in swart ink gevul met woorde en sinne en afkortings, blokkies en stippellyne wat vir die onkundige oog chaoties kan lyk. Maar vir dié wat dit daagliks gebruik, is die docket ’n meesterwerk van doeltreffendheid. Dit het oor dekades heen ontwikkel tot die perfekte gids vir en reisgenoot van ’n saak – van daardie eerste besoek aan die misdaadtoneel tot by die finale skuldigbevinding. Die ses kartonbladsye bevat op sigself kardinale inligting, maar dit dien ook as ’n verrassend duursame omhulsel vir die tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan versamel. Die docket is ’n pakhuis, ensiklopedie, bronnelys, Speurbybel én spanningsroman. Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige poliesman geskep en in stand gehou is.
Wanneer luitenant-kolonel Mbali Kaleni aan die einde van die Dinsdag se oggendparade vir kaptein Bennie Griessel ’n docket aangee, weet hy en sy kollega kaptein Vaughn Cupido met die eerste oogopslag twee belangrike dinge: 1. Dit is nie hul eie docket wat terugkom nadat Kaleni dit met haar pynlike deeglikheid nagesien het nie. Want die heel eerste blokkie bo links dui Beaufort-Wes aan as die stasie van oorsprong, en die naam van die eerste ondersoeker is “Sers. A. Verwey”. 2. Dit is ’n warm patat. Want hulle het dadelik geloer na die middel van die voorblad, onder Misdaad kode (sic). Op dié spesifieke dossier staan die syfers wat elke speurder in Suid-Afrika se hart ’n bietjie vinniger laat klop: 31984.
Die ganse regstelsel se kode vir moord.
“I want you and captain Cupido to focus on this case exclusively,” sê kolonel Kaleni, met nadruk op die laaste woord. Sy is bevelvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke – beter bekend as die Valke – se Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade. Haar voornaam beteken “blom” in Zoeloe, haar moedertaal.
Griessel en Cupido weet op dié oomblik hul professionele lewe gaan vir die afsienbare toekoms om hierdie docket wentel. En hulle is nie baie ingenome daarmee nie. Onder meer omdat dit ’n saak is wat hulle geërf het. Wat beteken dit gaan waarskynlik gepaard met gebreke en verskeie soorte bagasie, onder meer interdepartementele politiek en professionele afguns.
Boonop is die ondersoek minstens agt dae oud, vol-
gens die saaknommer. En die datum en tyd van die misdryfvoorval is byna drie weke gelede. Die eerste 72 uur, daardie kardinale periode waartydens ’ n moordsaakondersoek gemaak of gebreek word, is lank reeds verby.
Daarom kreun Vaughn Cupido en sê: “Why do we always get the cold case dregs, colonel? The runts of the litter?”
“Because you are the best of the best, captain,” sê Mbali Kaleni. Sy is tydsaam en f rustre rend regulasiegehoorsaam, en dryf daarom dikwels die meer vrygeestige Cupido tot raserny. Maar sy weet hoe om die beste uit haar mense te kry: “And that is what the case needs. Because it involves international tourism, there seems to be jurisdictional grey areas, and local law enforcement has not been impressive. So the provincial commissioner asked us to step in, and he specifically requested you and Bennie. He says if anybody can solve this, you can.”
“Damn straight, colonel,” sê Cupido ingenome, onbewus van haar manipulasie.
“Furthermore, the victim is a former member of the Service,” sê Kaleni. “It’s the Johnson Johnson docket.”
Sy wag dat die lig vir hulle moet opgaan, maar soos die meeste lede van die Geweldsmisdaadspan het dié twee speurders die afgelope maand dag en nag gewerk om die reeks moorde onder nagklubuitsmyters in die stad op te los. Hulle staar net na haar.
“The guy who disappeared from the fancy train,” sê sy asof hulle darem dít behoort te weet. “There have been stories in the media.”
“Johnson Johnson? That’s his name? For real?” “Yes.” Griessel skud sy kop. “Sorry, colonel, we haven’t heard about it.”
“Okay. It’s all in the docket,” sê sy.
MAAR alles is nié in die docket nie.
In Griessel se kantoor pak hulle die inhoud daarvan oor die uitgestrektheid van sy staatsdienslessenaar uit.
Soos met alle SAPD-dossiere, bestaan die binnegoed uit drie afdelings: A, B en C.
Deel A bevat die onderhoude, verslae, verklarings en die fotoalbum. In die Johnsondocket is dié inligting maar yl. Daar is ’n bladsy met aantekeninge, in ’n slordige handskrif, oor ’n telefoniese onderhoud met ’n mevrou Robyn Johnson, ’ n voorlopige verslag deur ’n forensiese ondersoeker van die SAPD op George en ’n paar swak foto’s van ’n man in ’n swart pak en wit hemp wat langs ’n treinspoor lê. Die foto’s toon ’n lyk wat reeds begin ontbind het. ’n Ernstige kopwond het sy gelaatstrekke vervorm. Die stewels van SAPD-lede in uniform wat rondom die liggaam staan, is ook op die foto’s sigbaar.
“Jissis,” sê Bennie Griessel en wys met sy vinger. Want dit beteken swak bestuur van die misdaadtoneel en eindelose moeilikheid vir die staatsaanklaer, sou die saak hof toe gaan.
“Ja. Country bumpkins. What do you expect?” vra Vaughn Cupido retories.
In die dossier se deel B word die korrespondensie bewaar wat met ander SAPDafdelings of buite-instansies soos banke of werkgewers gevoer is. Dié afdeling bevat slegs ’n afskrif van ’n artikel 205-subpoena wat die speurder van Beaufort-Wes gebruik het om inligting oor ’n selfoon by Vodacom te kry.
Deel C is die ondersoekdagboek op die SAPS5-vorm. Ook dít is afskeepwerk. Die laaste inskrywing sê die lyk is eers twee dae gelede van Beaufort-Wes na die staatslykshuis in Soutrivier vervoer. Nog geen post mortem is gedoen nie. Die liggaam is nog nie amptelik uitgeken as dié van Johnson Johnson nie. Griessel sug. Cupido staan op. “Benna, kom ons try sense maak van dié ding,” sê hy en vee die witbord teen die muur skoon.
Griessel werk van voor af deur elke inskrywing, terwyl Cupido met ’n blou merker ’n tydlyn op die bord skep.
Teen middagete is hulle nog besig. Hulle laat wegneemkos uit Voortrekkerweg kom. Griessel bestel ’n Jalapeño Mayo-burger met skyfies van Steers, sy nuwe gunsteling. Hy eet wat hy wil, want hy ry met sy bergfiets minstens 140 kilometer per week teen die steiltes van Kloofnek uit. Hy is sewe kilogram ligter as ’n jaar gelede.
Die inhoud van Cupido se keurige klerekas sit deesdae ongemaklik styf. Want Vaughn wil die hart verower van sy nuwe liefde, die mooie Desiree Coetzee van Stellenbosch, en sy hou van kos maak en uiteet. Maar die vetjies pla hom. Kwaai. Daarom volg hy in die geheim dieselfde dieet wat hy met soveel geesdrif bespot het toe kolonel Kaleni destyds daarmee begin het – die beroemde banting-leefstyl van professor Tim Noakes. Hy het dit net aan Griessel beken, uit skaamte vir sy uitgesprokenheid daaroor in die verlede.
Cupido bestel twee visfilette van Catch of the Day, geen skyfies nie, en ’n Coke Zero. Hulle eet en werk, tot hulle teen drieuur min of meer verstaan hoe die saak inmekaarsteek:
Johnson Johnson (34) was volgens ’n docket-inskrywing ’n “private protection consultant”. Sewentien dae gelede het hy saam met ’n kliënt op ’n luukse trein van Rovos Rail in die Kaap geklim. Die kliënt vir wie hy as lyfwag opgetree het, was ’n Nederlandse toe- ris, ene mevrou Thilini Scherpenzeel. Die trein was op pad Pretoria toe.
“Thilini Scherpenzeel,” het Cupido die naam in sy mond getoets. “Daai’s ’n naam, pappie, all elegance. Ek wed jou sy’s ’n pop.”
Johnson is die laaste keer gesien toe hy dié Saterdag, nadat hy saam met mevrou Scherpenzeel aandete geniet het, haar by haar kompartement afgesien het. ’n Woordvoerder van Rovos het later bevestig dat Johnson nie op die trein was toe dit die Maandag in Pretoria aangekom het nie. Sy kliënt en die trein se personeel het aanvaar dat hy die trein die Saterdagnag vrywillig verlaat het, want sy reistas was skynbaar ook weg. Dit is eers die Maandag gevind toe die trein sy Pretoria-bestemming bereik het – diep onder sy uitvoubed ingestoot.
Daardie Maandagmiddag is Johnson deur sy eksvrou, Robyn, as vermis aangegee. Sy het die verdwyning gaan aanmeld by die polisie in Brackenfell, die Kaapse voorstad waar sy en Johnson apart gewoon het. Geen poging om Johnson op te spoor het vrugte afgewerp nie.
’n Week later, op Maandag 14 Augustus, is die lyk van ’n man langs die hoofspoorlyn naby Drie Susters in die Karoo gevind. Die oorsaak van dood was klaarblyklik ’n massiewe skedelfraktuur. ’n Forensiese ondersoeker van die SAPD op George het ’n dag later bloed, weefsel, beensplinters en hare gevind teen die staalpaal van ’n elektrifiseringspiloon, ’n paar meter van die liggaam af, op ’n hoogte wat aandui dat die oorledene dit getref het toe hy uit die trein gespring het. Of gegooi is.