NAASWENNER
Pizza met Winkeldeeg
Angelique gebruik Eskort-produkte minstens twee maal per week wanneer sy kos maak omdat dit so bekostigbaar en smaaklik is. Wenke wat sy graag met lesers wil deel wat haar resep op die proef wil stel, is om matige kole te gebruik en gerus met Eskort-produkte op pizzas te eksperimenteer.
BESTANDDELE
1 bol winkeldeeg, in 4 stukke gebreek 1 blik (400 g) tamatie-en-uiesmoor 10 ml (2 t) gekapte knoffel Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak 250 g mozzarellakaas, gerasper 250 g Eskort-bladspek 500 g Eskort-gerookte Weense worsies, in stukke gesny 100 g babaspinasie roketblare vir afronding
METODE
Voorverhit die oond tot 200°C. Rol elke stuk deeg so dun moontlik uit. Bestuif 4 bakplate goed met meel en plaas ‘n deegbasis op elk. Bak sowat 8-10 min. of tot net gaar. Meng die smoor met die knoffel en geur na smaak met die sout en peper. Smeer ‘n bietjie van die tamatiesmoor oor elk van die pizzas en sprinkel die kaas ruimskoots oor. Rangskik die Weense worsies en spekvleis bo-op, plaas ’n paar spinasiesblare op en bak sowat 8 min. of tot die kaas gesmelt en die spekvleis gaar is. Stapel nog spinasieblare en die roket op elke pizza en sit voor.
OOR DIE VUUR
Maak vuur soos verkies. Die pizzas word oor matige hitte gebraai op ‘n rooster. Plaas die deegbasisse op die rooster en braai net aan die een kant tot ligbruin. Haal die pizzas van die rooster af, draai hulle om en plaas die “rou” kant na onder op die rooster. Die harder ligbruin kant moet na bo wys. Smeer ’tamatielaag bo-op elke pizzakors. Sprinkel die kaas milkelik oor en rangskik die spekvleis, Weense worsies en ‘n paar spinasieblare bo-op. Braai tot die kaas lekker gesmelt en die deeg aan die onderkant ligbruin is.