Huisgenoot

WAT ’N JAAR – EN TOE KOM DIE OOIEVAAR!

Emo en Michelle het vanjaar vele mylpale gevier en verwag nou boonop baba no. 3. Die gelukkige egpaar vertel van hul gebalansee­rde lewe

- Deur CHARLEA SIEBERHAGE­N- GREY

EK HET ons kinders op Gumtree gesit, maar niemand wou hulle hê nie.” Watter ouer praat so? As enigiemand anders dié woorde sou kwyt raak wanneer ’n mens oor hul spruite uitvra, bel jy die owerheid. Maar dis die grapjas en sanger Emo Adams aan die skerts met sy skerp kwinkslae.

Hier langs hom lag sy modelmooi vrou, Michelle Gildenhuys, lekker vir sy lawwigheid. Dié man van haar, darem . . .

Natuurlik maak hy net ’n grap, want hy en Michelle sien kans vir nog een. Sy is ’n derde keer swanger, deel die glanspaar opgewonde die goeie nuus.

Hul ander spruite weet nog nie ’n boetie of sussie is op pad nie, vertel die twee. Hulle het die nuus eers onlangs uitgevind en dit nog net met hul naastes gedeel.

Die kleinding sal na verwagting in Junie volgende jaar sy of haar opwagting maak. Dis die grootste van al die hoogtepunt­e van vanjaar, beaam hulle.

Emo en Michelle is vanjaar al 10 jaar ’n paartjie en in Januarie het hulle hul derde huwelikshe­rdenking gevier. Boonop het Emo in April 40 jaar oud geword en vier hy ook vanjaar 30 jaar in die vermaakbed­ryf nadat hy destyds as ’n negejarige seuntjie sy debuut op die verhoog gemaak het.

Ons kuier in ’n besige koffiekroe­g in die Cape Gate-winkelsent­rum in die noordelike voorstede van Kaapstad. Jy kan dié stylvolle paartjie deur ’n ring trek. Hulle bestel met die intrapslag twee rooiboscap­puccino’s. Emo oorweeg roereier en roosterbro­od. Die pragtige, rietskraal Michelle (30) wik en weeg om ’n skon te bestel, maar besluit daarteen. “Ek sal van jou roereier eet,” sê sy. “Nee, jy gaan nie my kos eet nie!” keer Emo vinnig vir sy honger maag. Weer lag Michelle dat haar oë kreukel.

Die twee maak mekaar se sinne klaar en gesels af en toe gelyktydig, sommer in ’n mengelmoes van Afrikaans en Engels. Dis duidelik hulle is beste pelle.

Hul jongste, Ziah Malik, het in Maart sy eerste verjaardag gevier en hul eersteling, Kadar Zayn, is nou drie. En nou is nog ’n kleintjie op pad. Hulle weet sommer hul kinders gaan opgewonde wees oor die nuus dat nog ’n maatjie op pad is. “Die boeties is baie geheg aan mekaar,” vertel Michelle.

“Ons het nog altyd geglo wanneer ek swanger raak, is dit God se wil. Ons

beplan nie. Ons glo dit sal gebeur wanneer die tyd reg is. Ons wou nog altyd ’n groot gesin hê en is altyd bly om ’n bondeltjie vreugde in ons huis te verwelkom,” koer Michelle. “Ons het soveel liefde om te gee.”

’n Huis vol seuntjies is ’n handvol, erken sy, maar hulle geniet die kinders se streke. Sy skryf juis gereeld op Instagram hoe ryk hul seuntjies hul lewe maak.

“Die idee van ’n dogtertjie is lieflik, maar ek is mal daaroor om ’n seuntjiema te wees. Hulle is propvol energie, en seuns is mal oor hul ma!” sê Michelle.

Die ouerpaar erken dis soms moeilik om ’n balans te handhaaf in hul bedrywige lewe, want hoewel hul gesin eerste kom, moet daar ook kos op die tafel wees.

“Voorheen was ons ’n bietjie all over,” vertel Emo. “Maar die afgelope jaar het ons as gesin meer dinge saam gedoen.

“Ek moes ’n keuse maak: Wil ek meer geld maak of wil ek meer herinnerin­gs skep?” verduideli­k die sanger wie se dagboek voorheen tjok-en-blok was.

“Ons het begin prioritise­er,” voeg Michelle by. “Ons sal besluit om drie maande hard te werk en die kinders in hul roetine te hou. Die volgende maand beskou ons as ’n gesinsmaan­d. Emo tree nie baie op nie en ek maak seker ek is by die huis. Dan doen ons lekker goed saam.

“Ek dink tog ons het dit die afgelope jaar goed reggekry om die balans te handhaaf,” sê Michelle, wat Emo help om sy optredes en sake te reël.

Die donkerkop, wat in 2008 ’n Mej. Suid-Afrika-finalis was, bedryf saam met haar suster, Sheree-lee Gildenhuys (27), ’n model-en-etiketskoo­l, The Modelling Studio, in Brackenfel­l. Sy volg ook ’n klere ontwerp kursus.

Omdat vanjaar ’n groot jaar vol mylpale in Emo se loopbaan is, het Michelle besluit om haar projekte effens af te skaal. ’n Kinderoppa­sser help haar ook deur die dag sodat sy al haar draaie kan kry.

“Ek is vanjaar gereed om al die balle te vang. Emo maak ’n paar veranderin­gs in sy loopbaan, wat beteken hy moet soms meer weg van die huis wees. As hy nie die kinders by die skool kan oplaai nie, sal ek seker maak ek kan,” vertel sy.

“En ek is oukei daarmee, want dit gee hom kans om op sy groot besluite te fokus met die wete dat die gesin versorg is.”

Selfs al is ’n nuweling op pad, meen die twee hulle is al goed geolie en sal met al hul projekte kan voortgaan.

Die twee verwys kort-kort na Emo se jongste projek, ’n talentkomp­etisie, Wys My Jou Talent, waarop hy nou veral fokus. “Ek wou altyd ’n geleenthei­d hê om die gemeenskap op te hef,” vertel Emo.

Met dié kompetisie moedig hy SuidAfrika­ners aan om ’n video deur WhatsApp aan hom te stuur waarin hulle hul talent ten toon stel. Die wenner van die kompetisie sal ’n jaarkontra­k met sy ondernemin­g, All Stars Production­s & Records, teken en volgende jaar saam met hom op toer gaan en optree. Enigiemand kan met enige talent inskryf, vertel hy.

Emo vertel die afgelope seisoen van sy kykNET-komedieree­ks Jou Show met Emo was sy laaste. “Ek het dit 10 jaar lank gedoen, maar voel dis tyd om op te hou terwyl dit nog goed is.”

AL IS hul program stampvol, maak die twee wel tyd vir mekaar. “Dan kyk die oumas na die kinders,” sê Michelle met ’n vonkel in die oog.

Hulle is lief vir reis en het in April Emo se 40ste verjaardag in Thailand gevier. Hulle was ook onlangs saam in Londen. “Ons het na ’n Bruno Marsverton­ing gaan kyk,” vertel Emo oor die sanger wat hom verstom het.

“Dit was lekker, want ons kon ook net langs die rivier sit en ’n worsrol eet, net ons twee.”

Om saam in ’n ondernemin­g te werk kan maklik beteken ’n mens praat heeltyd net oor werk, erken hy. Dit probeer hulle juis nie doen nie.

“Vyfuur smiddae maak ons die kantoordeu­r toe en sy begin met die kos en ek is verantwoor­delik vir die kinders se badtyd,” vertel Emo.

“Ons maak ’n punt daarvan om saam aan tafel te sit en eet,” sê Michelle.

Teen agtuur is dit bed toe met die kleingoed en dan moet slaaptydst­ories gelees of vertel word. “Hulle sal sommer sê nee, hulle wil hê pappa moet die storie vertel,” sê Michelle. “En glo my, hulle weet as jy iets uitgelaat het en die storie nie presies soos gisteraand vertel nie.”

Daarna kyk ma en pa televisie of Michelle werk aan sketse vir haar kursus. Met baba Ziah wat nog in die nag wakker word, maak hulle beurte om snags op te staan. “Hy is ’n raakvatpa,” vertel Michelle oor haar man. “Ek het nog altyd geweet Emo is geduldig, maar sedert ons kinders het, het ek gesien hoe baie geduld hy het.” Emo bewonder Michelle se vermoë om so gemaklik tussen haar rolle as sakevrou, ma en versorger te beweeg. Hulle het nie ’n geheime resep wat hul verhouding laat werk nie. “Dit vat maar net tyd en werk,” sê Emo. “Dit help as julle darem nog van mekaar hou. Ek sê nog dikwels vir haar sy is heavy sexy.” “En hy is vir my nog aantreklik,” sê sy. Hulle probeer om altyd mooi met mekaar te praat, vertel sy. “Wanneer ’n mens lelike goed vir mekaar sê, kan julle dit nie terugvat nie. Ek het ’n vurige persoonlik­heid. Emo herinner my gedurig daaraan ons kan ons standpunt met respek oordra.”

“Ons probeer ook om moeite te doen en mooi aan te trek, al bly ons net by die huis,” sê Emo.

Die twee pak graag selfdoenpr­ojekte aan en het onlangs ’n stel stoepbanke gemaak. “Hy het die banke gemaak en ek die oortreksel­s,” vertel Michelle.

Dan skerts Emo: “Ons is eintlik self verras wanneer die eindproduk goed lyk.”

“Selfdoen hou jou voete plat op die aarde en dis vet pret,” sê Michelle.

Beteken dit dié stylvolle paartjie loop ook soms met sweetpakke by die huis rond? “Ja, natuurlik!” antwoord hulle gelyk. “Maar dis mooi sweetpakke, hoor,” sê Michelle beslis. Dan lag hulle weer, dié twee beste pelle.

 ??  ?? Die sanger Emo Adams en sy vrou, Michelle Gildenhuys, het die afgelope jaar talle hoogtepunt­e gehad – en nou is sy weer swanger!
Die sanger Emo Adams en sy vrou, Michelle Gildenhuys, het die afgelope jaar talle hoogtepunt­e gehad – en nou is sy weer swanger!
 ??  ?? Die egpaar se twee seuntjies, Kadar Zayn (links) en Ziah Malik, word volgende jaar ’n boetie of sussie ryker. Die twee is al 10 jaar ’n paartjie. Emo sê dit help dat hulle mekaar nog aantreklik vind.
Die egpaar se twee seuntjies, Kadar Zayn (links) en Ziah Malik, word volgende jaar ’n boetie of sussie ryker. Die twee is al 10 jaar ’n paartjie. Emo sê dit help dat hulle mekaar nog aantreklik vind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa