Huisgenoot

HOE GEMAAK MET DIE ALEWIGE PYN?

Toe ’n moedelose leser hart uitstort oor haar chroniese pyn, het ander lesers se raad en steun haar las verlig – en kenners beaam: Jy kán jou kwaal emosioneel bestuur

- Deur PIETER VAN ZYL

DIT het haar sommer “stukke beter” laat voel om te weet ander het haar noodkreet gehoor en sy is nie die enigste een wat elke dag met chroniese pyn saamleef nie, sê die briefskryw­er “Ou Krok” van Bloemfonte­in.

Dit is die veelseggen­de skuilnaam wat sy gekies het vir haar brief aan Huisgenoot, want in haar laat 40’s het sy oud en afgeleef gevoel, uitgemerge­l deur die ewigdurend­e pyn waarteen sy al 30 jaar lank stry.

“Ek voel soos ’n jong vrou vasgevang in ’n ou lyf. ’n Ou lyf wat dagin en daguit seer het. ’n Seer wat ek nie kan beskryf nie,” skryf sy in die brief wat in ons uitgawe van 18 Oktober verskyn het.

“Elke dag bestaan uit verskrikli­ke spierpyn, teerheid en styfheid. Van my kroontjie tot my toontjie. Dokters het my al van bakboord na stuurboord gestuur. Hulle beweer dit is in my kop. My familie sê weer ek moet ophou kla.”

Nadat sy haar lot in Huisgenoot bekla het, het die oorweldige­nde reaksie van ons lesers meer getroos as talle doktersbes­oeke en pyndoepas.

Sommige lesers het haar waardevoll­e raad gegee, terwyl ander hul eie ervaring van chroniese pyn met haar gedeel het.

In ’n opvolgbrie­f aan Huisgenoot het Ou Krok geskryf: “Deur dié brief het die Here mense op my pad geplaas om my met die probleem te help. Ek voel beter omdat mense gewys het hulle gee om.”

En nou vertel sy oor die foon: “Ek het goeie vriende gemaak met wie ek weekliks ’n gesprek het.”

In haar brief wat lesers so ontroer het, het Ou Krok geskryf: “Ek weet in my binneste dié beker sal die een of ander tyd by my verbygaan – wanneer ek die ewige slaap sal binnegaan en die pynlike liggaam sal agterlaat.”

Maar aan Huisgenoot sê sy ná dese: “Ek wil nou bly leef, my kinders sien grootword en self kinders kry. Die selfdoodge­dagtes was vreeslik, maar nou, met al die steun, leef ek vir elke oomblik ondanks die pyn.”

Vir Ou Krok het die begrip en trooswoord­e van ander ’n groot verskil gemaak en selfs ’n bietjie verligting teen die chroniese pyn gebring.

Dit is nie ’n ongewone verskynsel nie, meen kenners. Trouens, hulle reken die

‘Met al die steun leef ek vir elke oomblik ondanks die pyn’

toestand van die gemoed en die psige speel ’n beduidende rol in pynbestuur.

“Die belangrike rol wat die gees by chroniese pyn speel, word duidelik in die mediese literatuur erken,” skryf die Amerikaans­e kliniese sielkundig­e dr. Andrew R. Block in sy boek Presurgica­l Psychologi­cal Screening: Understand­ing Patients, Improving Outcomes. “Pyn is altyd subjektief en word bepaal deur die mens wat dit ondervind.”

Om dié rede moet mense wat met chroniese pyn saamleef nie net op pynstiller­s staatmaak nie, sê Hermann Liebenberg, ’n sielkundig­e van Centurion. Vra jou dokter oor ander behandelin­gsmetodes soos fisio-, arbeids- en kognitiewe gedragster­apie wat jou kan leer om dinge anders te sien en aan te pak. Nog ’n opsie is antidepres­sante as die saamleef met pyn jou depressief stem.

Ook veranderin­gs in jou leefstyl, soos gesonder eetgewoont­es en gereelde oefening, kan ’n verskil maak, het Ou Krok besef toe sy die raad volg van mense wat na haar uitgereik het.

“Ek het weer begin oefen en op my dieet gelet. Ek sê nou nee vir sjokolade en drink net skoon water,” vertel sy. Voorheen het sy graag haar dors met koeldrank geles.

’n Pastoor van Bloemfonte­in het vir haar kom bid, en nadat hulle “diep gepraat het”, glo sy trauma uit haar kinderjare “maak gif en skade” in haar lyf. Nou het sy eindelik haar pa vergewe omdat hy van haar ma geskei het toe sy nog klein was.

“Ek het gebreek met die bose, met haat en verwyt,’’ sê Ou Krok oor dié nuwe begin in haar lewe. “Dit maak my positiewer om die pyn op ’n konstrukti­ewe manier aan te pak.”

Uit lesers se reaksie op haar brief is dit duidelik pyn is deel van talle Suid-Afrikaners se daaglikse lewe. Dit word natuurlik deur uiteenlope­nde toestande veroorsaak; net een mediese oplossing is nie vir elke unieke geval geskik nie.

Maar is daar dalk ander stappe wat jy kan doen om chroniese pyn vanuit ’n emosionele oogpunt te bestuur sodat dit nie jou hele lewe heeltemal versuur nie?

Huisgenoot het by kenners om raad gaan aanklop.

WAT IS CHRONIESE PYN?

Chroniese pyn is pyn wat jou gewrigte, spiere, senings en senuwees aantas en langer as 12 weke voortduur – dus langer as die verwagte genesingst­yd vir beserings aan dié liggaamsde­le, sê dr. Dawn Ernstzen van die afdeling fisioterap­ie aan die Universite­it Stellenbos­ch se fakulteit geneeskund­e.

Sulke chroniese pyn van die skelet en spiere kan met die ouderdom vererger. Dit kan ’n simptoom van verskeie toestande wees, onder meer osteoartri­tis, gewrigsont­steking, ruggraatpy­n, seningbese­rings en hoofpyn.

Die eerste stap is om die rede vir die pyn te probeer vind, maar chroniese pyn het nie altyd ’n duidelike oorsaak nie, sê Hermann.

Soms stuur die senustelse­l pynboodska­ppe uit sonder dat daar ’n bepaalde besering is of nadat die besering lankal genees het.

Daar bestaan ook iets soos “terugvalpy­n”, sê Hermann, wanneer pyn jou opnuut beetpak nadat jy al goed op die herstelpad gevorder het. Dit kom soms voor wanneer dokters te veel pynmedikas­ie voorskryf en jy ’n weerstand daarteen opbou.

Fibromialg­ie, ’ n toestand wat deur chroniese, wydverspre­ide spierpyn en uitputting gekenmerk word, laat medici ook kopkrap. Hulle bespiegel dit kan verband hou met ’n besering, ’n virusinfek­sie of veranderin­gs in die spiermetab­olisme, maar die presiese oorsaak bly steeds onduidelik.

Sommige vorme van chroniese pyn hou ook verband met onafgehand­elde trauma uit ’n persoon se verlede, meen Hermann, soos wat Ou Krok dan ook ondervind het.

“Die liggaam vertel die storie wat die brein nie kan vertel nie. As die onafgehand­elde trauma eers hanteer is, bring dit ’n radikale verligting van die pyn mee,” glo Hermann.

HOE HANTEER JY CHRONIESE PYN?

Die eerste stap is altyd om by ’n mediese spesialis aan te klop en medikasie te gebruik as dit noodsaakli­k is en voorgeskry­f word.

In jou daaglikse stryd teen pyn hoef pynstiller­s egter nie al wapen in jou arsenaal te wees nie. Jy kan jou brein en emosies ook inspan om die pynsensasi­e te help bestuur, glo Hermann.

Hy en die Bloemfonte­inse sielkundig­e Esté Pistorius deel dié raad om chroniese pyn uit ’n emosionele oogpunt te bestuur, soos Ou Krok nou probeer doen: S Gee jou pyn ’n kleur,

vorm of naam. Stel vir jou in jou geestesoog voor hoe jou pyn lyk.

“Pyn het vir verskillen­de mense verskillen­de sensoriese eienskappe. Daar is mense wat ’n sekere smaak, kleur, geur, klank en selfs beeld van die pyn vorm,” sê Hermann.

Jy kan byvoorbeel­d jou oë sluit en ’n kleur aan jou pyn gee, dalk bloedrooi vir ’n brandpyn.

Verander die kleur van jou pyn dan in jou geestesoog na ’ n kleur wat ’ n positiewer uitwerking op die gemoed het, soos ’n rustige groen.

Jy kan jou pyn ook ’n naam gee, want chroniese pyn raak soos ’n persoon in jou lewe, sê Esté. “As jy daarteen baklei, maak jy dit net erger. Omarm dit; gee dit selfs ’n naam.

“Beskou dit as ’n maatjie saam met wie jy moet werk om jou ervaring draagliker te maak.” S Hou ’n pyndagboek. Hermann beveel aan dat jy elke dag rekord hou van jou pynvlak en aktiwiteit­e.

Teken aan hoeveel pyn jy volgens ’n 1-tot-10-pynskaal verduur het terwyl jy met verskillen­de bedrywighe­de

In jou stryd teen pyn hoef pynstiller­s nie al wapen te wees nie

besig was (1 is pynvry en 10 die ergste pyn moontlik).

Om jou pyn doeltreffe­nd te kan behandel, moet jou dokter, fisioterap­eut en/of sielkundig­e weet hoe jy tussen besoeke gevoel het. Gee uiting aan jou frustrasie of woede. Jy mag maar partykeer kwaad word vir die pyn. Hermann stel voor dat jy dan selfs jou vuiste bal en skree: “Jy gaan nie wen nie!”

Beveg depressie. Angs en depressie kan die spiere laat saamtrek en chroniese pyn vererger.

“Chroniese pyn veroorsaak vrees en kan ’n monster raak wat jou opvreet. Jy is heeltyd paniekerig soos ’n soldaat wat net op die slagveld wag om geskiet te word,” sê Esté.

Konsentree­r daarop om positiewe energie en gedagtes van hoop te koester.

Esté se raad is dat jy neerskryf of hardop sê: “Ek is gesond. Ek is gelukkig.” Span dan al jou sintuie in om daardie salige gevoel te ervaar.

Vir lyers aan chroniese pyn wat ook met depressie en angs worstel, beveel Hermann kognitiewe gedragster­apie aan. Dit behels dat die pasiënt en terapeut ’n uur of twee per week saam daaraan bestee om vas te stel watter gedagtes en gevoelens die depressiew­e gedagtes of angs voorafgaan.

Pasiënte word dan geleer om hierdie denke en gevoelens in hul spoor te pro- beer stuit voor dit buite beheer raak.

Leer stres beheer. Hoe meer ontspanne jy is, hoe beter kan jy pyn hanteer. Ontspannin­gstegnieke soos diep asemhaling en meditasie help daarmee, sê Hermann. Nog’ n tegniek is geeste s beeldontsp­anning, waardeur jy rustige, kalmerende beelde in jou gedagtes skep. Jy maak jou oë toe en roep ’n plek op soos iewers langs die see of op ’n staproete in die woud waar jy ontspanne en gelukkig gevoel het. Sorg vir jou liggaam. Enige oefening en beweging help spanning ontlaai en kan die pyn minder maak, sê Esté. “Moenie gaan sit of lê nie. Dit gaan die spanning net laat opbou,” waarsku sy.

Wanneer jy oefen – al is dit met ’n seer lyf – word endorfiene afgeskei, ’n natuurlike pynstiller. Hierdie breinchemi­kalieë help jou gemoed verlig terwyl dit ook pynseine kan blokkeer, sê Hermann.

Jy hoef nie ’n vreeslik uitmergele­nde oefenroeti­ne te volg om die voordele daarvan te smaak nie; ’n vinnige stappie van 20 tot 30 minute net twee of drie keer per week sal die wa deur die drif trek.

Let ook op jou postuur, want ’n slegte postuur kan die vloei van bloed en senu-impulse belemmer en jou algehele pyn vererger, waarsku Hermann.

Hou jou kop regop en reg bo jou uitgestrek­te, reguit ruggraat om spanning in jou rug- en nekspiere te voorkom, pleks daarvan om vooroor te sit of agteroor te leun.

Skryf neer en sê hardop: ‘Ek is gesond. Ek is gelukkig’

 ??  ?? Chroniese pyn kan help bestuur word deur jou brein en emosies in te span; maar ’n besoek aan ’n mediese spesialis is onontbeerl­ik.
Chroniese pyn kan help bestuur word deur jou brein en emosies in te span; maar ’n besoek aan ’n mediese spesialis is onontbeerl­ik.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Behandelin­gsmetodes soos fisio- en arbeidster­apiee asook ’ ’n n gesonde fokus op liggamlike sorg, oefening en gesonde eetgewoont­es kan die nodige verskil maak om jou ervaring van chroniese pyn te bestuur en te verlig.
Behandelin­gsmetodes soos fisio- en arbeidster­apiee asook ’ ’n n gesonde fokus op liggamlike sorg, oefening en gesonde eetgewoont­es kan die nodige verskil maak om jou ervaring van chroniese pyn te bestuur en te verlig.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa