Huisgenoot

EN TOE WORD HY ’N EMPIRE

-

Toe Mickey eers Amerika en toe die wêreld oorrompel, het die “ware vernuf van Walt Disney ingeskop”, het die tydskrif Time al berig. Walt het die bemarkings­mag van sy muis besef en binne enkele maande vir Mickey sy eie reeks handelswar­e uitgereik en sy eie klub, The Mickey Mouse Club, begin.

Die rolprente het vinnig op mekaar gevolg. Teen 1937 het Disney 12 Mickey-kortflieks per jaar vervaardig, en die muis het álles beleef: Hy het by die leër aangesluit, ’n simfonieor­kes gedirigeer en was ’n voetbalhel­d; hy het sy hond, Pluto, van ’n hondevange­r gered en sy meisie, Minnie, aan verskeie gespierde stoutseuns afgestaan . . . maar darem altyd weer teruggewen.

Teen die 1950’s was Mickey die ster van sy eie koerantstr­okiesverha­al, die Mickey Mouse Club is in ’n televisiep­rogram omskep en die temapark Disneyland in Kalifornië het sy deure in 1955 oopgegooi.

Maar teen dié tyd het die Disney-ateljee ook sy spiere gebult met vollengter­olprente, en die sukses van flieks soos Snow White, Bambi en Sleeping Beauty het beteken Mickey, wat toe al amper 30 jaar oud was, kon ’n blaaskans neem.

Al het hy in twee rolprente ’n hoofrol gespeel – Mickey’s Christmas Carol in 1983 en The Prince and the Pauper in 1990 – was dit op die kassie waar hy sy tuiste gevind het.

Programme soos Mickey Mouse Works, Disney’s House of Mouse en Mickey and the Roadster Racers was treffers.

En 90 jaar ná sy debuut is hy steeds ’n ikoon op wie se muisskouer­tjies ’n megahandel­snaam gebou is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa