Huisgenoot

TATTA, TITEL – VIR DIE LIEFDE

Prinses Ayako van Japan het haar plek in die koninklike familie prysgegee sodat sy met t ’n nieadellik­e skeepswerk­er kon trou

- Saamgestel deur KIRSTIN BUICK

HOE diep moet die liefde fde lê dat jy bereid is om jou titel as prinses en jou status as lid van n ’n koningsges­in te versaak sodat jy verloof kan raak aan ’n man wat jy net sewe maande tevore ontmoet het?

Vra die gewese prinses Ayako van Japan, wat alles op die spel geplaas het om met ’n “gewone” – lees bloubloedl­ose – skeepswerk­er te kan trou. Sy het onlangs haar titel, toelae en plek in die koninklike familie vir Kei Moriya prysgegee nadat sy in Desember aan hom voorgestel is.

Ayako is die jongste kind van prinses Hisako en wyle prins Norihito, die neef van keiser Akihito, en volgens Japannese koninklike wetgewing verbeur sy haar koninklike status omdat sy met ’n nieadellik­e getrou het. Dié wet geld natuurlik nie vir die manlike lede van die koninklike familie nie.

Maar op haar troudag op 29 Oktober het Ayako (28) by die tradisies gehou waarmee sy grootgewor­d het. As trourok het sy ’n pragtige liggeel kimono gedra waarop die fynste blomme geborduur was, en haar hare is in die osuberakas­hi

styl van Japannese adellike vroue gestileer. Vir dié haarstyl word die hare middelpaad­jie gekam en dan alkante hoog gepof en in ’n lae poniestert of vlegsel vasgebind.

Ayako het soos ’n ware prinses stadig langs haar bruidegom gestap op pad na die Meiji-tempel in Tokio. Toe sy weer daar uitstap, was sy ’n getroude vrou, maar nie meer ’n prinses nie.

Ayako het goed geweet wat sy sal verloor as sy met haar geliefde Kei (32) trou, maar was tog bereid om dié prys te betaal.

Die seremonie in die heilige tempel, wat aan haar oupagrootj­ie keiser Meiji toegewy is, was ’n intieme Sjintopleg­tigheid met net sowat 30 gaste. Shinto is ’n Japannese godsdiens vol ryk rituele. Buite het honderde mense saamgedrom, en toe die bruidspaar uitstap, is hulle begroet met vrolike uitroepe van “banzai!” – die ekwivalent van ons “hoera!”

Van die rituele tydens die seremonie het behels dat Ayako en Kei koppies sake drink as deel van die san-san-kudo- ritueel wat mense aan mekaar verbind. Hulle het ook ’n tradisione­le tamagushi- tak as ’n offerhande aan die gode geskenk.

Ayako het gestraal toe sy en Kei, geklee in ’n swart oggendpak met ’n grys strepiesbr­oek, ná die seremonie met verslaggew­ers praat.

Al beteken die huwelik Ayako is nie meer ’n lid van die adelstand nie, is sy op haar troudag nes ’n prinses behandel.

Ná die Shintosere­monie was dit tyd vir ’n spoggerige feesmaal waarvoor die pasgetroud­es hul deftige klere aangetrek het – ’n swaelstert­pak en strikdas vir hom en ’n sagpienk tabberd met klein wit satynblomm­etjies vir haar. In die bruid se hare het ’n tiara gepryk.

Die nuwe egpaar het alte liefies na mekaar geloer terwyl hulle met hul gaste gesels en aan glasies vonkelwyn geteug het. Van die vername gaste was kroonprins Naruhito en Japan se premier, Shinzo Abe, en sy vrou, Akie.

“Dit was wonderlik om die bruid saam met haar bruidegom te sien terwyl ek aan ons tye saam met die prinses teruggedin­k het,” het een van Ayako se skoolmaats, Hanake Takeda, gesê. “Ek hoop sy begin ’n gesin wat almal laat glimlag.”

’n Vriend van die bruidegom, Yasuyuki Goto, het die gevoel van talle ander oor Japan heen verwoord: “Ek hoop hulle is baie gelukkig saam.”

DIE Moriya-egpaar het mekaar eers in Desember verlede jaar ontmoet – en dit nogal deur die bruid se ma. Prinses Hisako (65) ken Kei se ouers en het dié aantreklik­e jong man ontmoet by ’n foto-uitstal-

‘Ek loop oor van geluk. My pa sou baie bly gewees het oor my huwelik’

ling waar geld vir kinders in ontwikkele­nde lande ingesamel is.

Volgens The Japan Times wou Hisako hê haar jongste dogter, wat navorsing oor maatskapli­ke werk doen, moet by Kei se liefdadigh­eidsorgani­sasie, Kinders sonder Grense, betrokke raak.

En daar deel die twee toe meer as net ’n belangstel­ling in filantropi­e . . .

“Dit het nie gevoel asof dit die eerste keer was dat ons mekaar ontmoet nie,” het Ayako vertel toe hulle hul verlowing in Julie bekendmaak. “Ek onthou ons gesprek was so lewendig, ek het skoon van die tyd vergeet.”

“Ek loop oor van geluk,” het sy ná haar trouseremo­nie gesê.

“My pa sou baie bly gewees het oor my huwelik,” het sy gesê van prins Norihito, wat in 2002 skielik aan hartversak­ing oorlede is. Sy het bygevoeg haar bruidegom se keil het aan haar pa behoort.

Die ewe verliefde Kei, wat werk by Nippon Yusen, een van die grootste en oudste skeepsmaat­skappye ter wêreld, het beloof hy sal sy vrou help om by die lewe van ’n gewone mens aan te pas. “Ek wil hê ons moet saamwerk om ’n gesin vol glimlagte te bou.”

Kei, wat effens ongemaklik gelyk het tussen al die prag en praal by die troue, het vertel hy was aangetrokk­e tot Ayako se sagtheid. “Ek het geweet ek wil die res van my lewe saam met haar deurbring,” het hy dit eenvoudig gestel.

Prinses Hisako het geen beswaar teen die huwelik nie. Sy het ook twee ouer dogters, Tsuguko (32) en Noriko (30) – en Noriko het ook reeds haar status verbeur toe sy in 2014 met ’n Sjintoprie­ster, Kunimaro Senge, getroud is.

In ’n verklaring wat ná die troue uitgereik is, sê Hisako sy het Ayako grootgemaa­k om “haar voor te berei vir die dag wanneer sy haarself onderhou”, en sy hoop die paartjie “bou ’n goeie gesin vol geluk” .

AL HET Ayako baie dinge prysgegee, is dit darem nou ook nie soveel dat ’n mens haar hoef jammer te kry nie.

Volgens die Japannese media het die gewese prinses ’n eenmalige uitbetalin­g van sowat R14 miljoen ontvang om “haar hoë lewen- standaard vol te hou nadat sy haar koninklike status verloor het”.

Ná haar vertrek uit die koninklike kring bestaan die Japannese koninklike familie nou uit net 18 lede. Boonop is die meeste van hulle vroue en kan hulle dus nie op die troon aanspraak maak nie.

’n Niggie van Ayako en haar susters, prinses Mako (27), loop binnekort dieselfde paadjie. Dié oudste kleindogte­r van die keiser trou in 2020 met ’n regsassist­ent, Kei Komuro (25).

In nog ’n afwyking van tradisie abdikeer keiser Akihito (84) in April 2019 sodat kroonprins Naruhito (58) Japan se Krisantetr­oon kan bestyg.

Naruhito het net een seun, prins Hisahito (12). Vanweë Japan se wet dat geen vrou ’n aanspraakm­aker op die troon kan wees nie, is die 12-jarige nou alleen vir die oorlewing van die koninklike bloedlyn verantwoor­delik.

Volgens prof. Jeff Kingston, direkteur van Asiese studies aan die Amerikaans­e Temple-universite­it se Japannese kampus, bestaan groot steun van die publiek in Japan vir die idee dat die outydse koninklike wette hersien word.

“Dit sal sinvol wees en ook belangrik om risiko te bestuur, maar die konserwati­ewes onder die elite skop teë ondanks openbare steun vir vernuwing,” het hy aan CNN gesê.

“Hulle word duidelik hoegenaamd nie deur koningin Elizabeth geïnspiree­r nie. Pleks daarvan skuil hulle agter onnosele, patriargal­e regverdigi­ng vir waarom hulle dit nie wil toelaat nie,” sê Jeff.

“Die wet sal net verander as dit absoluut moet.”

BRONNE: CNN, THE JAPANESE TIMES, PEOPLE, VOUGUE, HARPER’S BAZAAR, THE EXPRESS, AL JAZEERA, THE MAINICHI

 ??  ?? HOOFFOTO: Kei en AyakoMoriy­a Ayako Moriya het op 29 Oktober getrou. BO: Die pasgetroud­es het hul tradisione­le kleredrag vir ’n aandpak en -rok verruil vir hul luukse onthaal.
HOOFFOTO: Kei en AyakoMoriy­a Ayako Moriya het op 29 Oktober getrou. BO: Die pasgetroud­es het hul tradisione­le kleredrag vir ’n aandpak en -rok verruil vir hul luukse onthaal.
 ??  ?? REGS: Die bruid en bruidegom groet die skare voor hulle die Meiji-tempel in Tokio binnegaan vir die tradisione­le Sjintosere­monie. ONDER: Ayako kom byy die tempelp aan.
REGS: Die bruid en bruidegom groet die skare voor hulle die Meiji-tempel in Tokio binnegaan vir die tradisione­le Sjintosere­monie. ONDER: Ayako kom byy die tempelp aan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa