Huisgenoot

WÁRE LIEFDE NÁ MY SEER

Zita Pretorius is weer verloof; sy vertel van haar swaar pad na genesing ná Burgerd en Gerrie

- Deur MICHELLE NORTJE Foto’s: ROWYN LOMBARD

WAT gebeur as jou “perfekte lewe” skielik in duie stort?

Jy tel jou kop op en jy groei daardeur.

So glo die sangeres Zita Pretorius, wat ná haar egskeiding in 2015 en ’n mislukte verhouding die jaar daarna besef het sy moet die lewe waterpas in die oë kyk as sy eindelik ware liefde wil vind. Dat albei dié hartseer verbrokkel­ings in die openbaar kommentaar uitgelok het, het sake vir haar nog moeiliker gemaak.

Haar eksman is die voormalige Romanz-sanger Burgerd Botha, en die verhouding wat beëindig is, was met die aanbieder van kykNET se program Leef Jou Reis, die sanger Gerrie Pretorius.

“Om die stukke op te tel en ’n nuwe toekoms te bou is makliker gesê as gedaan. Ek moes vrede maak met my verlede, en al was dit seker een van die moeilikste dinge wat ek al moes doen, is ek daardeur en het ek gegroei,” vertel die blondekops­angeres met die groot blou oë.

Die seer het nie haar geloof in die liefde geskend nie – en hier sit sy vandag in ’n tuinrestau­rant in Johannesbu­rg styf teen haar verloofde, die dirigent, komponis en musiekregi­sseur Eddie Clayton.

Zita vertel vandag vir die eerste keer van die seerkry waardeur sy moes werk terwyl sy in dieselfde eensame tyd ook die klippe van kritiek wat die publiek na haar kant toe gegooi het, moes afweer en verwerk.

Dit was voor Eddie haar voete onder haar kom uitslaan het.

Haar egskeiding ná ’n huwelik van net 19 maande met Burgerd het die tonge laat klap. Maar al het sy en Gerrie besluit om hul verhouding, wat kort ná die verbrokkel­de huwelik vlam gevat het, ná net meer as ’n jaar weens leefstylve­rskille te beëindig, was dit haar egskeiding wat haar lewe behoorlik tot in sy fondament geskud het.

“Daar was, en is steeds, baie eensydige menings oor my. Die media het my as ’n slegte mens uitgebeeld, en die publiek het ’n verwronge idee van my ontwikkel. Dit was ’n uiters traumaties­e en eensame tyd in my lewe. Ek het baie met die Here baklei; ek wou weet hoekom Hy dit aan my doen,” erken sy.

“Ek is tot op die grond afgebreek, maar eers toe ek klein en stukkend was en aan

Hom erken het ek kan niks op my eie doen nie, het Hy my begin opbou en ’n nuwe lewe gegee.”

Ná alles glo sy ware liefde het eindelik haar pad gekruis.

“Liefde beskerm waar jy beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Eddie het my sonder oordeel en sonder verwagting geleer liefde het geen perke nie. Hy het my weer laat voel.”

ZITA (26) en Eddie (44) het mekaar eintlik al 10 jaar gelede ontmoet toe sy in ’ n kerkkonser­t gesing het waarvan hy die dirigent was. Hulle was daarna jare lank kennisse voor hulle vir ’n tyd heeltemal kontak verloor het.

Hul paaie het weer gekruis toe hulle in 2016 saam aan die operaprodu­ksie Cula Mzansi vir Gauteng Opera gewerk het. Zita het gesing en Eddie het gedirigeer.

“Ons het van dag een af goed oor die weg gekom, maar was aanvanklik net vriende. Dit het my baie lank gevat om weer iemand te vertrou. Die vriendskap het eers heelwat later in liefde ontwikkel,” sê Zita.

Oor die ouderdomsv­erskil van 18 jaar lag hulle net. “Dit het ons nog nooit gepla nie,” sê Zita voor Eddie byvoeg: “Ons is albei volwassene­s, en saam het ons baie lewenserva­ring. Ervaring laat jou anders na die lewe kyk.”

Dit was juis Zita se volwassenh­eid en haar passie vir harde werk wat sy voete behoorlik onder hom uitgeslaan het. “Zita is ’n besonderse mens. Sy het ’n

inner glow, en haar werketiek is ongeloofli­k. Ek het baie respek vir mense wat hard werk. Zita is ambisieus, en dan is sy natuurlik ook drop-dead gorgeous,” sê die man met die Engelse aksent terwyl hy diep in sy verloofde se oë staar.

Al is hulle baie verlief, glo hulle dit is nie spookaseml­iefde nie.

“Ek en Eddie is albei al deur liefdestel­eurstellin­gs en dit was veral vir my ’n aanpassing om my emosies weer ten volle vir iemand anders oop te stel,” vertel Zita. “Ek moes van voor af leer om weerloos te wees; dit het tyd gekos. Ek dink ek het my onbewustel­ik daarteen verset, miskien om seerkry te vermy. My situasie het my gedwing om oor en oor met God te worstel. Ek glo dit het my genesing bespoedig.”

Eddie erken hy was ook aan die begin waaksaam, veral weens al die berigte oor Zita, maar hy glo sy is die liefde van sy lewe.

“Ek het my persepsies oor haar gehad, ja, maar ek is lief vir haar, en vandag roei ons die bootjie saam. Ek kan nie wag om ’n trouring aan haar vinger te steek nie.”

Oor dié sprokiesda­g wil hulle nie meer verklap nie, behalwe dat dit in die nabye toekoms is. “Dit is binnekort, maar ons gaan niks verder sê nie. Ons hou dit vir eers privaat,” sê Zita terwyl die twee geheimsinn­ig giggel.

ZITA is vir die eerste keer in ’n lang tyd gelukkig. Sy het pas ’n splinternu­we enkelsnit, Hoekom Maak Jou Soene Seer?, uitgereik.

Sy het vir byna vier jaar ’n blaaskans van die kommersiël­e musiekbedr­yf geneem om die storms in haar privaat lewe te verwerk en is opgewonde om weer die mark te betree.

“Ná my egskeiding het ek besluit om vir ’n ruk uit die bedryf te tree. Ek het tyd nodig gehad om te herfokus en te besluit wat regtig vir my belangrik is om weer sterk te kan word.”

Dit het sy saam met haar “steunpilaa­r” gedoen. Vir haar nuwe liedjie het Eddie al die stryk- en orkesverwe­rkings geskryf. Zita sê dit gee aan die liedjie ’n “klassieke, kontemporê­re varsheid.

“Buiten die orkesverwe­rkings het hy ook self die Franse horing bespeel – hierdie man het baie talent! Hy het my deurentyd ondersteun terwyl ek opgeneem het; hy is my heel grootste aanhanger en ook my klankbord. Alles gaan eers deur hom.”

Dié liedjie beteken vir haar hoop en ’n nuwe begin. “Baie mense sien die seerkry van verhouding­s as die einde van iets, maar nou, ná alles wat gebeur het, is dit vir my die begin van my storie. Ek sien die nuwe begin as ’n seëning, nie as ’n fout nie.”

Die liedjie is die eerste in ’n reeks van vyf enkelsnitt­e wat gemaak is om haar storie te vertel. “Elke snit is deel van my reis. Dit vertel die verhaal van liefde wat eindeloos is, die soort liefde wat ’n steunpilaa­r is, wat hoop gee en elke dag groei.”

Zita besit sedert 2013 ’n musiekskoo­l, Songbird Music, in Pretoria-Noord, waar sy haar studente meer oor die teoretiese aspekte van musiek leer. “Ek was nog altyd akademies gedrewe en geniet dit om my musiekkenn­is oor te dra.”

Terwyl sy en Eddie albei met hul werk die land vol reis, is dit vir hulle belangrik om soveel moontlik tyd saam deur te bring, maar dis soms ’n uitdaging.

“Ons woon nie saam nie. Eddie is in Centurion en ek in Montana (Pretoria); daarom is kommunikas­ie vir ons baie belangrik. Ons albei lei ’n vol lewe en ons moet soms kreatief wees om by mekaar uit te kom. Wanneer ons nie kan nie, praat ons baie oor die foon!”

Maar eersdaags, wanneer die twee afhaak, sal hulle mekaar gereelder kan sien. Dít is die soort samesyn waarop die sangeres al so lank wag en waarvan sy so lank gedroom het.

 ??  ?? Die sangeres Zita Pretorius se voete is onder haar uitgeslaan deur die dirigent Eddie Clayton.
Die sangeres Zita Pretorius se voete is onder haar uitgeslaan deur die dirigent Eddie Clayton.
 ??  ?? Zita vertel van haar seer ná haar egskeiding en ’n mislukte verhouding. Sy sê Eddie was haar steunpilaa­r in ’n moeilike tyd. Hulle is verloof en haak binnekort af.
Zita vertel van haar seer ná haar egskeiding en ’n mislukte verhouding. Sy sê Eddie was haar steunpilaa­r in ’n moeilike tyd. Hulle is verloof en haak binnekort af.
 ??  ?? Zita het onlangs ’n nuwe enkelsnit uitgereik nadat sy vir vier jaar ’n blaaskans van die musiekbedr­yf geneem het.
Zita het onlangs ’n nuwe enkelsnit uitgereik nadat sy vir vier jaar ’n blaaskans van die musiekbedr­yf geneem het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa