Huisgenoot

Respek, lojaliteit help jou oorleef – William Endley

Ná twee jaar in aanhouding met ’n doodsvonni­s wat oor sy kop gehang het, is William Endley terug in Suid-Afrika. Hy vertel van sy verskrikli­ke beproewing

- Deur RICHARD VAN RENSBURG

TERWYL hy twee jaar en twee maande lank in haglike omstandigh­ede in Juba in Suid-Soedan aangehou is met die swaard van doodstraf oor sy kop, het hy donker tye beleef toe wanhoop en doodsgedag­tes by hom gespook het.

Despair en Death is immers die titels van twee gedigte wat William Endley in ’n notaboek geskryf het terwyl hy van bone en pap geleef het met van sy medegevang­enes sterwend om hom, sonder mediese sorg.

Die onsekerhei­d het aan hom geknaag oor of hy ooit weer die blye dag sou beleef dat hy na Suid-Afrika sou terugkeer en met sy geliefdes herenig sou word.

Noudat hy eindelik vry is, voel dit daarom vir die voormalige kolonel in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag “half soos ’n droom’’.

Hier laatmiddag op ’n Sondag by sy suster, Charmaine Quinn, en haar man, Andrew, se huis in Table View, Kaapstad, is William, of Will vir sy familie en vriende, brandmaer ná sy beproewing, maar hy lyk reeds weer netjies ná sy uitputtend­e terugreis via Kenia en Johannesbu­rg. Sy hare is kortgeskee­r; sy geruite kortmouhem­p glad gestryk.

“Die gevoel van vryheid sink nog in,” sê William (57) drie dae ná sy vrylating uit Suid-Soedan, waar hy in Februarie vanjaar ter dood veroordeel is omdat hy na bewering saamgeswee­r het om pres. Salva Kiir van Suid-Soedan se bewind omver te gooi. William het daar as die opposisiel­eier, Riek Machar, se veiligheid­sraadgewer gewerk.

Verlede maand is aangekondi­g William en James Gatdet, ’n woordvoerd­er van Machar, sal vrygelaat word as deel van die vredesonde­rhandeling­s in die land. Die huidige vredesoore­enkoms volg nadat bloedige konflikte, dikwels weens etniese verskille, derduisend­e lewens geëis en groot getalle mense ontwortel het sedert 2013, twee jaar nadat die land van Soedan onafhankli­k geword het.

Nadat Kiir en Machar se mense weer in 2016 slaags geraak het, moes Machar vir sy lewe vlug, eers na die Kongo en later Suid-Afrika. William is in Augustus daardie jaar in Suid-Soedan in hegtenis geneem. Hy is eers 18 maande lank in die berugte Blue House van Suid-Soedan se intelligen­siediens aangehou en toe na die sentrale gevangenis verskuif.

“Ná meer as twee jaar, waarvan sewe maande in eensame aanhouding waar ek dalk een keer per dag ’n mens sou sien

wanneer ek badkamer toe geneem is, is dié vir my steeds half soos ’n droom,’’ sê hy enkele ure ná sy aankoms in Kaapstad by sy geliefdes wat onvermoeid vanuit Suid-Afrika vir sy vrylating geveg het.

Charmaine het getwyfel of sy “die oomblik sou sien aanbreek’’, erken sy. In die dae voor haar broer se vrylating het hulle gerugte gehoor, maar sy wou ná ’n paar vorige teleurstel­lings nie te gou bly word nie. Toe sy ’n oproep kry “dat hy in die lug is”, het sy nog haar emosies probeer beteuel “tot hy in Nairobi geland het”.

Weens die onsekerhei­d oor die finale reisreëlin­gs moes sy haar Johannesbu­rg toe haas om hom teen eenuur op Saterdagog­gend 3 November daar op die lughawe in te wag. Charmaine soek-soek na woorde: “Om hom te sien uitkom was so ’n emosionele oomblik.”

By haar was William se dogter Gwynneth, wat in die Goudstad woon en die kommunikas­ie vir die Free Will-veldtog help behartig het, en haar seun, Meagel.

“Dit was onbeskryfl­ik,’’ vertel William, “jy kom deur ’n stryd waar jy nie geweet het of jy gaan oorleef nie, en hier is jy skielik by jou vierjarige kleinseun wat jy nog nooit gesien het nie.”

Op 77 kon sy ma, Myrtle, nie Johannesbu­rg toe vlieg vir die herontmoet­ing nie. Maar sy was op die lughawe in Kaapstad toe hy die volgende dag hier land.

Trane blink in haar oë: “Ek het nie gedink ek sou hom weer sien nie. Dit was verskrikli­k; dinge het gebeur wat jou hoop gegee het, maar dan sou alles skielik weer wees soos dit was.”

Toe hy eindelik voor haar staan, was sy oorstelp. “Ek het geweet my seun het ge- weldige deursettin­gsvermoë, maar dit was soos ’n nimmereind­igende storie.”

Huisgenoot het vroeër vanjaar vertel van die hartroeren­de videoboods­kap wat William se 11-jarige dogter, Janice, die jongste van sy vyf kinders, aan hom gestuur het kort nadat hy ter dood veroordeel is. “Ek mis pa. Ek is lief vir jou. Ek huil vir pappa. Maar ek is seker pa huil vir my ook,” het sy laat weet.

Oor haar en haar ma, Sana, sy vrou van wie hy die afgelope ses jaar vervreem is, wou hy nie in dié stadium met Huisgenoot praat nie, maar hy sê hy het die vorige dag met Sana gepraat.

IN AANHOUDING het hy harde bene gekou. In die Blue House het hulle “my eenkant in ’n kamer op ’n vloer gesit. Dit is soos die Gestapo, ’ n kombinasie van Vlakplaas en John Vorsterple­in,’’ sê hy. “Die nasionale intelligen­sie steur hulle aan geen wet nie. Jy is aan hulle uitgelewer, magteloos. Hul ondervragi­ngs metode sis pateties, maar wreed, good c op, bad c op. Hulle sal jou klap en skop.”

Hulle wou hom ’n bekentenis laat onderteken waarin hy die vinger wys na Machar en het hom met geld probeer omkoop, beweer William, maar hy wou hom nie in die rug steek nie.

“Ek is opgelei om sekere dinge te hanteer, maar jy kan nooit regtig vir die werklikhei­d opgelei word nie.”

Omdat die Blue House ’ n “aanhouding­splek” is en nie ’n tronk nie, word niks aan gevangenes verskaf nie. “As jy nie mense het wat jou van buite af ondersteun nie, het jy niks.”

Sy familie het deur die Suid-Afrikaanse ambassade vir hom geld gestuur vir kos en ’n paar ander basiese lewensmidd­els.

“Die toestand in die sentrale gevangenis was basies. Dit was nie mishandeli­ng nie, maar die hulpbronne was uiters beperk,” vertel hy. Hy het meer as 20 kg in aanhouding verloor. “Jou daaglikse dieet was byvoorbeel­d ’n beker rooi bone en pap. Ek het soos ’n besemstok gelyk.”

Malaria het hom meer as een keer platgetrek. Eenkeer het hy regtig gedink “dis verby” toe hy in ’n waas van malaria met komplikasi­es op ’n tronkdokte­r se vloer lê. Dié het die tronkhoof gebel en gesê William is sterwend. Die hoof se reaksie was: “Los hom dat hy doodgaan.”

Sy bene het in ’n stadium so opgeswel dat hy nie kon loop nie. “Die reaksie wat ek gekry het: ‘Soms is pyn goed vir jou.’ ”

Tydens ’n hepatitis-uitbraak is hy en ’n paar ander gevangenes aangehou saam met iemand wat MIV, sifilis en hepatitis B het. Die man het “bloed op die badkamervl­oer opgegooi. Ek het weens insekbyte wonde aan my voete gehad, maar moes kaalvoet op die vloer loop.”

Hoe het hy staande gebly? Geloof in homself, respek en lojaliteit, beginsels waaraan hy deur die jare as soldaat getrou gebly het, het help keer dat sy aanhouding hom knak. “Wat ook al met jou gebeur, jy moet altyd weer jou mense in die oë kan kyk.” Die steun van sy mense hier het hom deurgedra. Sy familie het onder meer toegesien dat hy regsvertee­nwoordigin­g het.

William meen op politieke vlak was Machar, wat nou as waarskynli­ke adjunkpres­ident na Suid-Soedan teruggekee­r het, die sleutelfig­uur agter sy vrylating. Hy het geweier om Suid-Soedan se groot vredesvier­ing by te woon voor William en James vrygelaat is.

William is steeds positief teenoor Suid-Soedan en sy gasvrye mense. Machar het hom reeds gebel en gesê hy het hom nodig, vertel William. As sy raadgewer sal hy onder meer met planne vir die integrasie van die rebellemag­te by die Suid-Soedanse weermag moet help.

“Nou geniet ek die buitelug en om ontspanne en normaal te wees.”

Met ’n kykie in ma Myrtle se rigting sê hy: “Iets wat ek veral daar anderkant gemis het, was my ma se braaiboud.”

‘Die tronkhoof se reaksie was: Los hom dat hy doodgaan’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Veilig terug. ’n Opgeruimde oudkol. William Endley tuis by sy familie in Kaapstad. HEEL BO: In die hooggeregs­hof in Juba tydens sy verhoor, wat skerp kritiek ontlok het. BO: In die berugte Blue House-aanhouding­splek in Suid-Soedan.
HOOFFOTO: Veilig terug. ’n Opgeruimde oudkol. William Endley tuis by sy familie in Kaapstad. HEEL BO: In die hooggeregs­hof in Juba tydens sy verhoor, wat skerp kritiek ontlok het. BO: In die berugte Blue House-aanhouding­splek in Suid-Soedan.
 ??  ??
 ??  ?? William by sy ma, Myrtle, en suster, Charmaine Quinn, by Charmaine se huis.
William by sy ma, Myrtle, en suster, Charmaine Quinn, by Charmaine se huis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa