Local Is Lekker
Die Amerikaanse aktrise Milla Jovovich is tans in Suid-Afrika om tonele vir haar nuwe fliek, Monster Hunter, te verfilm.
Haar man, Paul W.S. Anderson, behartig die regie van dié spanningsrolprent.
Milla, wat te sien was in onder meer Zoolander en Resident Evil, het foto’s op Instagram gedeel van waar hulle tonele by die Atlantis-duine buite Kaapstad, die Cederberge en die Tankwa-Karoo verfilm.
In dié rolprent vertolk sy die rol van kapt. Natalie Artemis, ’n monsterjagter.
Tussen die tonele deur geniet die egpaar ook Suid-Afrika se natuurskoon saam met hul twee dogters, Ever (11) en Dashiel (3).
Die gesin het al tussen die Afrikapikkewyne op Bouldersstrand by Kaappunt en in die Sanbona-natuurreservaat in Montagu uitgespan.