Moenie oordeel wanneer iemand met ’n geestesteuring worstel nie
OM lid van ’n gesin te wees waar iemand elke dag die stryd teen ’n geestesteuring voer, is moeilik. Elke dag hou nuwe uitdagings in.
Om jou bejaarde ouers te sien wat daagliks antwoorde soek en om wonderwerke bid vir hul kind, breek ’n mens se hart.
Ja, kundiges is wel beskikbaar. Vir talle gee suksesvolle behandeling die geleentheid om hul plek in die samelewing vol te staan.
Maar vir baie, soos ons geliefde, beleef jy elke dag saam met hulle die pyn van elke keer se terugslag en die geduldige gewag op beter dae.
Jou emosies ry wipplank, want jy weet nie hoe om jou geliefde te help nie. Al wat jy weet, is jou beste is al wat jy het om te gee.
Niks wat hulle doen, mag of kan jy persoonlik opneem nie. Want jy weet wat hulle doen, is nie in hul beheer nie. Jy weet diep binne-in jou hulle sou dit ook anders wou hê.
Ons kyk van buite na jou en beleef saam met jou al die af dae. Ons beleef saam met jou die weke wat verbygaan waarin die donkerte jou in sy greep het.
Dis seer om te weet dit is net jy en jy alleen wat elke dag met jou innerlike worstelings moet stoei.
Jy weet môre gaan daardie worstelings steeds daar wees. En elke dag gaan daardie worstelings met onsekerhede en onvoorspelbaarheid gepaard.
Dit alles moet jy op jou eie hanteer. Al het ons jou ook hoe lief, kan ons niks vir jou doen nie.
Vir mense wat nie so iemand in hul familie of lewe het nie: Moenie te gou oordeel nie. Die enigste manier hoe jy dit ooit sal kan verstaan, is wanneer jy weet waardeur so iemand gaan. Ons weet. En ons word elke dag daaraan herinner.
ANONIEM