Huisgenoot

KOM LAAT ONS PRÁÁT!

Digitale kommunikas­ie bedreig gewone gesprekvoe­ring en dus verhouding­s. Kenners gee raad

- Saamgestel deur CYRIL BLACKBURN & KIM ABRAHAMS

NET voor die hoogtepunt van die dramatiese storie wat jy vertel, val die bliep jou in die rede. En die volgende oomblik verskyn die selfoon. “Asseblief, vertel verder, ek luister,” probeer jou gespreksma­at jou gerusstel terwyl sy oë strak op sy foonskerm fokus. Maar jy het nie meer lus vir praat nie; die gesprek is pas in die wiele gery.

Al leef ons in die era van kommunikas­ie, raak dit ál moeiliker om ’n gewone gesprek met iemand te voer. Buiten dat die alomteenwo­ordige selfoon gesprekke onderbreek, meen kenners dit bedreig ook die kuns van gesels.

Dis ook nou, in dié tyd van feestelike samesyn, dat mense voel hulle kompeteer met digitale skerms om die persoonlik­e aandag van familie en vriende.

Want al kommunikee­r ons danksy slimfone en sosiale media meer met mekaar as ooit tevore, is dit nie noodwendig goeie interaksie nie. “Dis makliker om ’n teksboodsk­ap te stuur as om ’n tweerigtin­ggesprek te voer,” sê Juanita Vorster, ’n kommunikas­iestrateeg van die agentskap At That Point.

“Ons gesels makliker met behulp van tegnologie, want dit laat ons ontsnap van gesprekke met moeilike vrae en konfrontas­ie,” beaam dr. Thalyta Swanepoel, verbonde aan die Noordwes-universite­it se Skool vir Kommunikas­iestudies.

Die prys wat ons vir dié gerief betaal, is dat mense nie meer weet hoe om oor ditjies en datjies met mekaar te gesels nie, meen Sherry Turkle, ’n sielkundig­e en die skrywer van Alone Together: Why We Expect More from Technology and Less from Each Other. Dieper gesprekke bly dan ook in die slag.

“Die verlies aan persoonlik­e gesprekke hou gevare in,” maan ook prof. Kobus du Plooy, ’n kliniese sielkundig­e verbonde aan die Noordwes-universite­it se Instituut vir Sielkunde en Welstand.

“Ons kry ons erkenning, ondersteun­ing en empatie uit dieper verhouding­s en die gesprekke wat daarmee saamgaan. Wanneer ons hierdie gesprekke met blitskommu­nikasie vervang, raak die subtiele aspekte van gesprekvoe­ring, soos lyftaal en stemtoon, verlore en dit skep ruimte vir misinterpr­etasie.”

“In gesprekvoe­ring is wat gesê word dikwels nie so belangrik soos hóé dit gesê word nie: jou stemtoon, jou woordkeuse­s en ook nieverbale kommunikas­ie,” beaam Juanita. Benewens moontlike misverstan­de maak die alewige onderbreki­ngs deur slimfone ons ongesellig in geselskap en dís sleg vir intieme verhouding­s.

Die negatiewe invloed van te veel skermtyd op ons verhouding­s, geestesges­ondheid en karakteron­twikkeling pla ook die gedragswet­enskaplike dr. Denise Bjorkman. Al is dit makliker om deur digitale media bande te smee, waarsku sy teen die gevare van ’n oorblootst­elling daaraan: “Navorsing toon mense verloor emosionele diepte.”

Ons het die kenners gevra hoe ons die kuns van doodgewone gesprekvoe­ring, en daarmee gesonde menslike verhouding­s, kan bewaar te midde van toenemende digitale kommunikas­ie.

LEER JOU KINDERS VAN KLEINS AF GESPREKKE VOER

Kinders moet weet reëls oor basiese hoflikheid geld ook vir gesprekke: Leer hulle om op ander se lyftaal ingestel te wees, om nie iemand in die rede te val nie, mense in die oë te kyk en interaksie te

sien as ’n geleenthei­d om te groei en nie net om ’n eie mening te hê nie.

Gesels van jongs af met jou kinders en leer hulle ’n gesprek verg inspanning om ook te luister, want dit is baie belangrik in verhouding­s.

Gee jou kinders ruimte om net kind te wees; laat hulle speel en maats maak. Gesprekvoe­ring sal vanself hieruit spruit.

Leer jou kinders oor die uitwerking van nieverbale kommunikas­ie en watter vaardighed­e hulle nodig het om aan te pas by sosiale situasies waaraan hulle nie gewoond is nie. dis nie nodig om in jou dop te kruip nie; verander liewer jou ingesteldh­eid. Hier is ’n paar wenke om dit vir jou makliker te maak: Beskou dit as ’n geleenthei­d om meer oor ander mense te leer. Vra hulle uit, luister na hul antwoorde en gebruik dit om jou gesprek in ’n rigting te stuur. Moenie geslote vrae stel wat net met ’n bot “ja” of “nee” beantwoord kan word nie. Ope vrae wat ’n vollediger antwoord vereis, moedig gesprek aan. Vra die ander mens se mening oor dinge. Weet jy skielik nie meer wat om te sê om die gesprek aan die gang te hou nie? Vra jou gespreksge­noot uit oor iets wat hy of sy vroeër genoem het. Let op jou liggaamsta­al. Behou oogkontak, knik wanneer toepaslik, moenie jou arms kruis nie en leun vorentoe om te wys jy stel belang, sê Courtenay Klue van The School of Etiquette in Johannesbu­rg Hoe gemaak as jy nie weet hoe om die gesprek af te sluit by ’n samekoms met mense wat jy nie goed ken nie? Die Britse etiketkenn­er Diana Mather gee dié raad: “Sê iets soos: ‘Dit was lekker om jou te ontmoet, maar ek is seker daar is nog baie ander mense met wie jy wil praat.’ ”

EN HOE GEMAAK AS IEMAND DIE GESPREK OORHEERS?

Een van die grootste geheime van gesels is dat jy moet weet wanneer om stil te bly en die ander een te laat praat.

Die Amerikaans­e psigiater dr. Mark Goulston stel in sy boek Just Listen: Discover the Secret to Getting Through to Absolutely Anyone ’n 20-sekondes-reël voor: Gedurende die eerste 20 sekondes wat jy praat, is jou lig groen. As jy aanhou praat, raak jou lig oranje, en as jy ná 40 sekondes nog altyd aan die praat is, raak dit rooi.

Die boodskap? Moenie te lank aanhou babbel nie.

Die meeste praters besef gewoonlik die een of ander tyd hulle oorheers ’n gesprek. Bewaar jou verhouding deur eerder op ’n natuurlike pouse te wag as om die ander persoon in die rede te val, is Kobus se raad.

Wanneer jy wel die kwessie takel, is dit belangrik om jou sinne te begin met “ek hoor wat jy sê” of “ek voel eerder” pleks daarvan om aanvallend te wees.

As jy self die skuldige party is, ondersoek hoekom jy so baie praat, sê Juanita. Vir baie mense gaan dit oor spanning of om ander te beïndruk.

Onthou dat jy juis nié beïndruk wanneer niemand anders ’n kans kry om te praat nie.

‘Alewige onderbreki­ngs deur slimfone maak ons ongesellig in geselskap’

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa