Huisgenoot

KLEINSEUN WORD STIEF BEHANDEL

-

My seun se lewensmaat en ma van sy twee kinders (3 en 5) behandel sy kind uit sy vorige huwelik sleg. Hy woon by hulle, maar sy sluit hom nie by die gesin in nie. Hy is nou nege en baie in homself gekeer. Sy skoolwerk het ook versleg. Die vrou sê sy wil nie ’n ander vrou se kind grootmaak nie. Die kind se ma is weens drankprobl­eme nie in staat om dit self te doen nie. Ek laat hom dikwels oor ’n naweek by my bly. Ek nooi dan ook soms sy biologiese ma na my toe. My seun is te besig met werk om aandag aan almal te gee.

Z op RO

Geluk met jou fyn waarneming­svermoë. Oumas soos jy is ’n familie se behoud. Al kan jy jou kleinseun ’n naweektuis­te en ’n gevoel van geborgenhe­id bied, is dit nie al wat hy nodig het nie. Iewers sal jy saam met jou seun se gesin die middeweg moet kry om hom ’n gevoel te gee dat hy ook in sy eie gesin tuishoort.

As jy met jou seun se lewensmaat be-

vriend kan raak, sal jy ’n groter kans hê om haar te beïnvloed om jou kleinkinde­rs ’n gesonde gesinslewe te bied. Soms het die ouers van nuut saamgestel­de gesinne sterk leiding en deurlopend­e steun nodig om hul gesin te verenig. Om almal gelyk te behandel is ’n aangeleerd­e kuns.

Pleks daarvan dat jou kleinseun alleen ’n naweek by jou deurbring, sal dit help as jy die ouerpaar soms ’n blaaskans gee en al drie kinders versorg.

Respek is die eerste waarde wat nuut saamgestel­de gesinne goed laat werk. As die stiefma voel jou kleinkind toon nie respek of waardering vir haar nie, kan sy miskien weier om verantwoor­delikheid vir hom te aanvaar.

As jy jou seun aanmoedig om meer by huishoudel­ike take betrokke te raak, sal dit sy lewensmaat se lewe makliker maak.

Gaan voort om jou gewese skoondogte­r te betrek wanneer jou kleinseun by jou is. Jy kan haar miskien ook help deur haar na Alkoholist­e Anoniem te neem sodat sy as ’n nugter ma mettertyd haar rol as versorger beter kan vervul.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa