Nuwe longe haar groot Kersgeskenk
Sy was ‘op geleende tyd’ weens ’n siekte wat haar longe afgetakel het, maar het net betyds ’n oorplanting gekry
DIT was ’n wedloop teen tyd. Terwyl talle SuidAfrikaners opgewonde begin planne beraam het vir ’n vreugdevolle Kersviering saam met familie, het Lisa Marie Beyers se dokters oop kaarte gespeel met haar ouers. As sy nie gou ’n dubbele longoorplanting kry nie, sou sy waarskynlik nie Kersfees haal nie, het hulle gewaarsku.
Die oorerflike siekte sistiese fibrose het haar longe so afgetakel dat die eens sportiewe 18-jarige donkerkop die afgelope jaar voortdurend aan ’n suurstoftenk gekluister was. Dit was soos om die hele tyd met jou neus toegeknyp deur ’n dun strooitjie asem te haal, beskryf sy die “voortdurende benoude, drukkende gevoel” waarmee sy moes saamleef.
Maar waar Lisa ’n paar maande gelede skaars kon beweeg, kan sy vandag skaars stilsit. Op ’n sonnige Vrydagmiddag by haar ouerhuis op Robertson spring sy kort-kort op om vir jou ’n kiekie of videogreep op haar foon te wys. Soos die een waar sy net ’n paar dae ná haar groot operasie met die drup-op-wiele en al in ’n hospitaalgang afhardloop.
Want einde September het Lisa ’n vroeë Kersgeskenk gekry, die kosbaarste een ooit: ’n nuwe paar longe.
Een van haar wonderlikste gewaarwordings ná haar suksesvolle dubbele longoorplanting in die Groote Schuurhospitaal in Kaapstad was toe sy haar eie bors kon “sien styg en daal”, vertel sy. “Wanneer ek voorheen asemgehaal het, het my bors nooit beweeg nie. Ek kon nooit diep asemhaal nie. Alles is nou vir my anders, maar dis ’n goeie anders.”
Ma Lana (41) raak aangedaan toe sy vertel hoe sy en haar man, Pieter (47), vroeër vanjaar moes hoor ’n geskikte longskenker vir hul dogter kon bitter skaars wees. “Ons het geweet sy moes voor Desember nuwe longe kry. Dit was ’n saak van gebed.” Ná vier maande op die waglys vir orgaanskenkings het hulle die oproep uit Kaapstad ontvang waarop hulle gehoop het: Daar is ’n geskikte skenker vir Lisa. Wie die skenker was, mag hulle nie weet nie, maar hulle weet wel die persoon was baie fiks en die longe die regte grootte vir haar. “Dit was die beste Kersgeskenk,” sê Lana bewoë. En haar dogter beaam: “Die grootste geskenk waarop ’n mens kon hoop . . .”
LISA was twee en half jaar oud toe sistiese fibrose by haar gediagnoseer is nadat sy kortkort bronchitis en longontsteking gekry het. Die siekte word deur die afskeiding van dik, klewerige mukus gekenmerk.
“Destyds is vir ons gesê kinders met sistiese fibrose raak nie baie oud nie,” onthou Lana. “Dit het ons ’n ruk gevat om dit te verwerk, maar ons het ook besluit om haar nie in ’n borrel groot te maak nie, maar so normaal moontlik.”
Lisa was lief vir sport en het aan van tennis en atletiek tot toutrek deelgeneem. Dit het haar baie in haar oorlewingstryd gehelp. “SF-lyers moet juis soveel moontlik oefening kry om hul longe te probeer skoon hou,” verduidelik Lana.
Lisa het dit verpes wanneer mense haar anders behandel het. “Ek het vir hulle gesê daar’s niks fout met my nie.” Maar dit was ’n verbete stryd teen ’n meedoënlose toestand wat lyers mettertyd ál meer aftakel en selfs die moedigstes kan uitmergel.
“My pankreas skei nie ensieme af nie; daarom moet ek ná elke ete ensiemmiddels drink om die voedingstowwe op te neem. Mettertyd word ook nie genoeg insulien afgeskei nie;
dus is ek ’n diabeet. Dit raak later te moeilik om sport te doen; jy kry nie asem nie.”
Haar laerskooljare was nog “sê maar normaal”, soos sy dit stel. Toe sy hoërskool toe is, het sy ál meer infeksies opgedoen en ál langer geneem om te herstel. In haar gr. 10-jaar het sy so verswak, sy kon glad nie meer aan sport deelneem nie. Dit het Lisa swaar getref, veral aangesien sy nasionale kleure in karate verwerf het en na wêreldbyeenkomste in Kanada en Indië genooi is, maar te siek was om te gaan meeding.
Haar behandelingsroetine het soggens voor skool ’n uur in beslag geneem en saans voor slaaptyd nog ’n uur. Die mukus is deur middel van dampbehandeling met ’n soutoplossing en antibiotikum verdun, gevolg deur ’n halfuur se fisioterapie om die mukus te help los kry.
Sy beskryf die afgelope twee jaar in haar lewe as “’n riller”. Verlede jaar, toe sy in gr. 11 was, het haar toestand so verswak, sy kon nie verder skoolgaan nie. En die afgelope jaar moes sy permanent suurstof kry en gereeld hospitaal toe gaan vir binneaarse behandeling.
Tog kon sy “nie net stilsit nie”. Sy het skoonheidsterapiekursusse begin volg en ’n salon tuis geopen.
In die jaar voor die operasie het sy met ’n sogenaamde BiPAP-masjien geslaap. “Ek het snags net ophou asemhaal, dan merk die masjien dit op en blaas ’n klomp lug in jou longe in . . . Dis asof jou liggaam
reboot; dan haal jy weer asem.” Sy wys vir ons ’n foto van nog ’n konstante metgesel in daardie donker tye – haar mopshondjie, Popcorn. “Wanneer ek met my suurstof geslaap het, het hy ook by my gelê.” En wanneer sy erg gehoes het, “het hy sy kop op my bors gesit tot dit bedaar het”.
Sy is ongelooflike dank verskuldig aan die anonieme skenker en dié se familie, sê Lisa. Sy kan ook skaars uitgepraat raak oor haar dankbaarheid teenoor die oorplantingspan by Groote Schuur.
Later het sy gehoor hulle moes haar longe tydens die nege uur lange operasie baie versigtig verwyder, want hulle was so erg beskadig, hulle het al “amper gedisintegreer”, vertel Lisa. “Ek was letterlik op geleende tyd.”
Daarna het sy vinnig aangesterk, en ná sowat twee weke is sy uit die hospitaal ontslaan. Haar longfunksie staan nou reeds op sowat 84%, teenoor die 19% kort voor die operasie. Dit kan tot ’n jaar duur voor haar nuwe longe hul maksimum vermoë bereik.
Dit is vir haar onbe- skryflik wonderlik om m normaal asem te haal, , “om nie meer snags s wakker te skrik omdat t ek nie asem kan kry y nie”. Sy sal vir die res s van haar lewe middels s moet neem om te keer er da dat haar liggaam die nu nuwe longe verwerp. Ma Maar vergeleke met ha haar veeleisende beha handelingsregime van vroeër, is dit vir ha haar min gevra. As dia diabeet moet sy ook st steeds e insul ienins inspuit i ngs kr y.
B Binne twee maande ná haar h operasie is sy toeg toegelaat om te draf, en s sy het kort daarna ’n Parkrun van 5 km d deur Robertson se wingerde gaan aflê om mense bewus te maak van orgaanskenking.
Sy is vol planne vir die nuwe jaar. Sy wil haar matriek deur ’n korrespondensiekursus voltooi en sien baie daarna uit om in Januarie weer met karate te begin en later in die jaar haar swart gordel in Tokio te gaan verwerf.
Toe ons groet, rits sy nog ’n paar drome af wat nou binne haar bereik is: “Ek wil gaan hokduik tussen die haaie; in ’n lugballon gaan ry; gaan valduik. My pa vra juis hoekom ek uit ’n vliegtuig wil loop spring noudat ek ’n nuwe lewe gekry het. Dan sê ek net: ‘ Omdat ek nou kan!’ ” Een orgaanskenker kan tot sewe mense se lewe red, benadruk Lisa. Gaan na die Orgaanskenkers t i g t ing se webtuiste by www.odf.org.za vir nog inligting.