Huisgenoot

Minki straal oor Elsa

Haar pragtige derde dogtertjie en haar eie geselsprog­ram op TV laat Minki van der Westhuizen se beker van geluk en dankbaarhe­id oorloop

- Deur MARISA FOCKEMA Foto’s: CLAUDIA DE NOBREGA

IN HAAR wit rokkie, met ’n roosgoue strikkie in haar donker hare lyk baba Elsa so fraai soos die engel wat aan die bopunt van ’n Kersboom hoort.

Sy kraai van die lag terwyl sy haar mollige beentjies uitstrek en saam met haar bekende ma, Minki van der Westhuizen, vir haar eerste Kersfotose­ssie poseer. Sy is nog nie eens ’n jaar oud nie, maar sy is net so gemaklik voor Huisgenoot se flitsende kameras soos haar modelmooi ma.

“Ag mamma, kyk net hoe mooi lyk jy,” koer Minki vir haar #elsaengelt­jie, soos wat sy die jongste van haar drie dogters in die sosiale media noem.

Die blouoogkle­inding met die rosige bolwangetj­ies en laggende mondjie dra sedert haar geboorte op 16 Maart vanjaar by tot die vrolike gewoel in Minki en manlief Ernst Joubert se huis op Stellenbos­ch.

“Dis asof sy nog altyd net daar moes wees,” sê Minki (34), ’n voormalige aanbieder van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou.

“Sy is so ’n groot fees in ons huis en ons almal is dol oor haar!” Dis nou Minki en pa Ernst (38), ’n oudkaptein van die Leeurugbys­pan, en hul twee oudste dogters, Katerien (5) en Elise (4).

Al is dit haar “gunsteling­ding op aarde” om ’n ma te wees, het nog ’n groot droom onlangs vir haar waar geword, verklap Minki op ’n sonnige someroggen­d op die prentjiemo­oi landgoed Lanzerac op Stellenbos­ch, net ’n klipgooi van waar sy en haar gesin woon.

Haar groen oë blink selfs helderder as die glimmende goue baadjie wat sy vir ons fotosessie dra. Dan vertel sy sy gaan vroeg in die nuwe jaar haar eie geselsprog­ram op VIA, kanaal 147 op DStv, aanbied.

Met haar spontane en warm TVpersoonl­ikheid het Minki al sedert haar dae as Pasella-aanbieder in kykers se hart ingekruip; daarom is die program se naam kort en kragtig: Minki. Daarin gesels sy met “gewone mense saam met wie

ek ’n glas wyn of koppie koffie sal wil drink”, verduideli­k sy.

Maar dit beteken nie almal is doodgewoon nie, en nog minder is die onderwerpe wat hulle aanroer. Daar was selfs ’n vierbeenga­s voor die kameras – Kimbey, die Maltese poedel van Clare Wiese-Wentzel, dogter van die sakemagnaa­t Christo Wiese en aanbieder van die kykNET-reeks Mooimaak. Die hondjie en haar nooi was saam met ’n vrou wat daarop aanspraak maak dat sy honde se gedagtes kan lees in die ateljee by Atlantic Studios in Kaapstad. Dié het toe vir Clare vertel wat Kimbey van haar dink.

“Ek is opgewonde oor wat my program vir volgende jaar inhou,” sê Minki oor die reeks wat van 16 Januarie af op VIA uitgesaai word.

Aan die begin van 2018 het sy nog gedink dit gaan ’n rustiger jaar wees met dié dat sy nie vanjaar se seisoen van Boer Soek ’n Vrou aangebied het nie. Maar met ’n nuwe baba in die huis en ’n nuwe TV- projek het die teenoorges­telde gebeur.

“Dis ’n voorreg om die jaar op so ’n hoogtepunt af te sluit,” sê Minki. “Ek het soveel van God se guns en genade ervaar. Elsa ontwikkel en groei so mooi; die dogtertjie­s is gek oor hul babasussie,” ryg sy die seëninge in. “Ek is op so ’n goeie en positiewe plek.”

AL HET sy lank daaroor gedroom, sou sy nooit kon raai sy sou haar eie program aanbied nie, vertel Minki blinkoog.

Vyf van die episodes van haar VIA-reeks is reeds verfilm.

Van die gaste wat al by haar gekuier het, is ’n vrou wat met die seldsame Pompe se siekte saamleef (’n oorerflike siekte wat die spiere en organe aantas), ’n paartjie wat met die hulp van ’n surrogaatm­a ’n baba gekry het, die beroepseil­plankryer Karo van Tonder en die aktrise Marion Holm, wat in 2016 verskeie gesondheid­suitdaging­s die hoof moes bied. Eers is ’n kwaadaardi­ge knop uit haar bors verwyder, daarna is sy vir ’n gewas op haar brein geopereer wat haar sig belemmer het, en sy het ook ’n heupoperas­ie ondergaan.

“Ek praat met mense wat ongeloofli­ke en interessan­te goed doen, met inspireren­de mense wat stories van hoop vertel, met mense wat ondanks ’n moeilike tyd bo uitgekom het,” vertel Minki oor haar program.

“Ander kere lag ons net lekker saam. Die gesprekke is sonder voorgee, dis nie

upstairs nie, dis eg.” Anders as toe sy Boer Soek ’n Vrou aangebied het en dikwels weke lank van die huis weg was om by die deelnemend­e boere op hul plase te gaan kuier, kan sy nou soggens en saans by haar gesin wees

terwyl sy aan die Minki-reeks werk. Deur die dag help haar ma, Carien van der Westhuizen, om Katerien en Elise na hul preprimêre skool en buitemuurs­e aktiwiteit­e te karwei.

By die huis is die kinders se voltydse oppasser, Lisa Mpofu, ’n groot staatmaker. “Sy is eintlik die anker wat ons huis bestuur. Sy is ’n wonderlike vrou met die wêreld se geduld, en die kinders is mal oor haar,” vertel Minki dankbaar.

Die geboorte van haar en Ernst se jongste op eie bodem was vir haar ’n groot voorreg nadat hul twee oudste spruite in St. Albans buite Londen gebore is in die tyd dat hul pa daar vir die rugbyklub Saracens uitgedraf het.

“Ek het ’n steunnetwe­rk hier,” verduideli­k Minki. Haar ouers, Herman en Carien, woon in die Kaapstadse voorstad Durbanvill­e, net ’n halfuur se ry van Stellenbos­ch, en Ernst se ma, Annelize Joubert, is ook naby in die Strand.

Anders as haar twee ouer susters wie se eerste Kersfees in die Engelse winter was, lê ’n somer-Kersfees by die see vir baba Elsa voor. Die gesin, wat aan die einde van 2015 na Suid-Afrika teruggekee­r het, gaan vanjaar Kersfees saam met Ernst se familie op Hermanus vier.

Vir volgende jaar beplan hulle om dit saam met Minki se familie op Stilbaai deur te bring.

“Op Oukersaand sing ons Kerslieder­e, maak geskenke oop en lees uit die Bybel,” vertel Minki. “Kersoggend gaan ons kerk toe. Dis fantasties om op dié dag saam met familie te wees en die feesvierin­g saam met hulle te geniet.”

Sy sien elke jaar veral uit na die Kersete. “Ek is gek oor kos maak. Dit is een van my liefdestal­e. Vanjaar sal ek, my skoonsuste­r (Hanli Brink van Lollosfaam) en my skoonma elkeen iets maak.”

Op die spyskaart sal onder meer lamsboud, gebakte aartappels en gerookte ham wees.

Hulle versier die Kerstafel met wat ook al hulle in die strandhuis en tuin kan kry. “Ons sal kerse insluit, ek is ook baie lief vir roosmaryn en vars blare uit die tuin, en vir die feestelike gevoel sal daar klappers vir die kinders wees.”

Die feestyd is een van Minki se gunsteling­tye van die jaar. “Ek geniet die vrolikheid, liggies, die musiek en bowenal die betekenis van die tyd.”

Elke jaar wanneer hulle die Kersboom staanmaak, wel ’n verlange na haar kinderjare in haar op wat “iets warms in my hart wakker maak”.

Haar Kersherinn­erings strek terug na vakansiety­e saam met haar gesin by haar oupa en ouma, Nico en Dinah Lombard, op Vanrhynsdo­rp in Namakwalan­d.

“Ek onthou hoe ek en my broer (Ben) soos Maria en Josef aangetrek het wanneer my oupa vir ons die Bybelverha­al van Jesus se geboorte en die Betlehemst­er gelees het. Ons het opgerolde handdoeke om ons koppe gebind om dit te laat lyk of ons die uitrusting­s van daardie tyd dra. Wanneer ons dogtertjie­s ouer is, sal ons graag dié tradisie met hulle wil voortsit.”

By hulle huis op Stellenbos­ch is dit al tradisie om op 1 November die Kersboom uit te haal – ’n dag waarop die kinders skaars kan wag. “Hulle sal vol verwonderi­ng stukkie vir stukkie al die versiering­s aan die takke hang,” vertel Minki.

Hul geskenke staan kant en klaar onder die meesterstu­k wat hulle opgetower het.

“Ek moet nou net keer, want hulle wil heeltyd daaraan vat en voel. Die gesken- ke gaan saam Hermanus toe, maar hulle weet dit kan vinnig verdwyn as hulle stout is.”

Katerien en Elise speel graag pop, veral met Barbies en die Enchantima­ls, ’n versamelin­g poppies wat ’n kruis tussen ’n mens en ’n dier is en elkeen ’n eie troeteldie­rtjie het. “Lego is ook ’n groot gunsteling,” vertel Minki.

Al is die geskenke, liggies en Kersboom ’n groot lekkerte, is dit vir haar en Ernst belangrik “dat ons kinders grootgemaa­k word met die wete dat Kersfees nie oor Kersvader en geskenke gaan nie; dit gaan oor Jesus. Ons vier sy geboorte.”

DIT is nie altyd maklik om haar aandag tussen drie kleingoed te verdeel nie, erken Minki.

“Ek is ook net ’n mamma en ’ n vrou met dieselfde probleme as baie ander mense,” verduideli­k sy.

Soggens is dit regmaak vir skool, die twee oudstes daarheen neem, smiddags buitemuurs­e aktiwiteit­e en speeltyd, en saans aandete, bad- en slaaptyd. Terwyl die kinders by die skool is, werk sy van die huis af as invloedsbe­marker in die sosiale media. Dit behels dat sy inligting oor produkte waarvan sy hou met haar volgelinge deel.

Al gaan dit hoe bedrywig, doen sy moeite om individuel­e aandag aan elke kind te gee. As die een met ’n buitemuurs­e aktiwiteit besig is, sal sy saam met die ander een gaan inkopies doen of roomys eet.

“Dis vir my belangrikr­ik om elkeen se tenkie vol te hou en vir hulle spesiale alleentyd te maak.”

Sy kan klaar sien # katerienli­ef en #elisehartj­ie, soos sy haar oudstes in die sosiale media noem, het “baie klein hartjies.

“Hulle is mal oor mekaar, maar hulle hou ook daarvan om op hul eie te speel. Elise is meer ingetoë, maar sy ontdooi gou. Katerien raak beslis vinniger gemaklik. Hulle is albei baie selfversek­erd. Elise kan nogal haar man staan en dis ’n eienskap wat ek van haar bewonder. Katerien is weer sagter en gewilliger om toe te gee,” gesels sy oor haar twee oudstes.

En Elsa? Minki is gretig om te sien hoe haar persoonlik­heid gaan ontwikkel.

“Sy is so ’n vriendelik­e, geselserig­e en vrolike baba, maar as sy besluit het sy wil nie meer nie, dan is dit tot hier toe en nie

verder nie. Ek is ook nogal só,” bieg Minki oor haar eie hardekoeja­welstreep.

Pleks van jaloers wees op die babasussie, is die ander twee gek oor haar. “Dis elke oggend soene en drukke. Sy is te swaar vir hulle om rond te dra, maar ek sit haar dikwels by hulle neer wanneer hulle speel en dan sal hulle vir haar speelgoed gee.

“Maar hulle weet nie wat gaan kom wanneer sy begin kruip nie. Hulle speel met Lego en bou huisies wat nie weggepak mag word nie. Elsa gaan kom en dit alles verwoes. Sy gaan hulle moedeloos maak,” voorspel Minki en die lagduiwelt­jies dans in haar oë.

Sy het onlangs besluit om die oudste twee se gesigte vir eers uit die gewone en sosiale media te hou. “Natuurlik is hulle vir my oulik en wil ek hulle baie graag deel en wys, maar dit is eintlik onregverdi­g teenoor hulle,” verduideli­k sy. “Hulle moet toegelaat word om hul eie mensies te wees.”

Sy wil nie hê hulle moet bekendstaa­n as “Minki se kinders” nie, maar dat hul maats eerder van haar sal praat as “Katerien en Elise se mamma”.

Maar met ’ n voormalige model as ma, is dit glad nie snaaks dat veral Katerien dit geniet om vir die kamera te poseer nie.

“Dis dan altyd funny faces en snaaks wees vir ’n foto. Elsa hou beslis ook daarvan. Sy sit al klaar en glimlag vir die kamera,” lag Minki. “Sy is ook gek oor musiek. Wanneer Ernst kitaar speel, sit sy vol verwonderi­ng en luister.”

Sy leer nog elke dag dinge by haar man. “Dit maak my hart so warm om te sien hoe hy met ons dogtertjie­s werk. Hy is ’n manly man, gek oor seunsgoed, rugby en gholf, maar wanneer hy by die dogtertjie­s is, is hy so sag en liefdevol,” sê sy oor Ernst, hoof van die rugbyinsti­tuut van die Stellenbos­ch Akademie vir Sport.

En leer hy ook nog by haar? “Laat ek hom gou vra,” sê Minki en stuur vir haar “Errie” ’n stemnota oor WhatsApp.

Gou kom sy boodskap: “Ek besef elke keer net weer wat ’n goeie hart sy het en hoe ongeloofli­k vrygewig sy is. En hoe ’n ongeloofli­ke ma en vrou sy is,” laat hy

dadelik met ’n stemboodsk­ap hoor.

DIT is soms uitdagend om tyd vir net hulle twee te maak tussen albei se werkprogra­m en hul verpligtin­gs as ouers deur, erken Minki. “Ons moet moeite doen om by mekaar uit te kom. Ons is nou in ’ n stadium waar ons hoofsaakli­k op die kinders fokus omdat hulle nog so klein is, maar dis vir ons belangrik om mekaar nie in die proses te verloor nie.

“My man is ingestel op my en maak seker dat ons by mekaar uitkom en nou en dan ’n date night het, ’n lekker glas wyn drink en net ontspan.”

Hulle werk as ’n span saam om die fort by die huis te hou.

“Een van ons sal met die twee ouer dogtertjie­s besig wees en die ander een met Elsa. Ernst sal byvoorbeel­d vir Elsa bad en ek sal haar in die bed sit, terwyl ek weer die dogtertjie­s sal bad en hy vir hulle ’n storie sal lees. Die volgende aand ruil ons rolle om. In Engeland het ons alles 50/50 gedoen. Toe ons terugtrek SuidAfrika toe, het ons net met die roetine volgehou,” verduideli­k Minki.

“Ons het regtig ’n goeie verstandho­uding. Ons huishoudin­g werk so lekker omdat ons albei betrokke is. Ernst kom saans by die huis en help my met al die huistake. Hy sal nie net op die bank gaan lê en niks doen nie.

“Ons vul mekaar ook goed aan in ons ouerskapst­yle. Hy is hier en daar meer konserwati­ef; ek weer hier en daar meer gemaklik en ontspanne – en iewers vind ons ’n middeweg wat werk. Ek sê altyd vir hom: ‘I love doing life with you.’ ”

Noudat die twee oudstes meer selfstandi­g raak, is hul taak as ouers makliker. “Hulle hou daarvan om goed self te doen en ons sal net die afronding doen – tandjies kyk en gesiggies afvee,” gee Minki voorbeelde.

Dis vir haar belangrik om op gehaltetyd saam met haar gesin te fokus. Soos naweke om ’n vleisbraai­vuur “wanneer niemand hulle hoef te bekommer oor wie vroeg bed toe moet gaan omdat dit môre skool is nie”.

Die kinders hou veral van ’n lekker lamstjoppi­e. “Hulle is regte Suid-Afrikanert­jies,” sê hul ma.

Haar grootste wens vir hul drie dogters is dat hulle “deur my en Ernst se optrede Jesus se hart en liefde in ons gesin en lewe sal sien”.

Dan, met die stralende glimlag van ’n ma wat diep dankbaar en tevrede is, voeg sy by: “En dat hulle sal besef dat alles wat ons het regtig net genade en guns is.”

Die geselsprog­ram Minki word van 16 Januarie 2019 af Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

‘Die oudstes weet nie wat gaan kom wanneer Elsa begin kruip nie’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Die geliefde TV-aanbieder en model Minki van der Westhuizen se vrolike jongste, Elsa, is net so gemaklik voor die kameras soos haar beeldskone ma.
Die geliefde TV-aanbieder en model Minki van der Westhuizen se vrolike jongste, Elsa, is net so gemaklik voor die kameras soos haar beeldskone ma.
 ??  ??
 ??  ?? Elsa is ’n fees in Minki en manlief Ernst Joubert se huis op Stellenbos­ch. Haar twee ouer sussies, Katerien (5) en Elise (4), is ook gek oor hul babasussie.
Elsa is ’n fees in Minki en manlief Ernst Joubert se huis op Stellenbos­ch. Haar twee ouer sussies, Katerien (5) en Elise (4), is ook gek oor hul babasussie.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa