Huisgenoot

’n Kortverhaa­l elk deur Marita van der Vyver

Die beskuitkon­ingin van die Karoo raak van haar beskuitlyf ontslae en gaan gedra haar soos Shirley Valentine

- Deur MARITA VAN DER VYVER Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

DIE oomblik toe sy in daardie olyfswart oë vaskyk, onthou sy weer wat sy eintlik op ’n Griekse eiland kom soek het. En die aanloklike oopmondgli­mlag onder die oë laat haar sowaar vermoed sy het dit gevind.

Hier waar sy op ’n houtbalkon­netjie van ’n restaurant hoog bo die glansende blou Egeïese See sit en wyn drink.

Want die glimlag word vir háár oopgesprei, besef sy ietwat oorbluf. Sy is die enigste klant hier buite op die balkon.

Die winderige herfsweer het die ander toeriste almal binnentoe laat vlug, maar Sanet Venter van Loxton was voorheen ’n nooi Smit wat in die skaduwee van Tafelberg grootgewor­d het. As jy kleintyd die Kaapse Dokter leer ken het, skrik jy mos nie sommer vir ’n bietjie wind nie. Inteendeel.

’n Week voor haar Griekse vakansie het sy vir die eerste keer sedert haar skooldae haar donker skouerleng­tehare kort geknip, so ’n stomp, snipperige seunstyl – ’n nuwe voorkoms vir die nuwe Sanet, het sy haarself moed ingepraat – en nou geniet sy dit nogal wanneer die wind so oor haar kop streel sonder dat sy hoef te stres dat haar netjiese kapsel dalk bederf sal word.

Bevryding. Dis hoe die kort hare voel. En dié nuwe klant wat skaamteloo­s na haar staar, laat haar skoon lighoofdig van vryheid voel. Dalk is dit net die flessie witwyn wat sy helder oordag sit en drink wat haar kop laat draai, maar sy staar vreesloos terug. Terwyl sy onwillekeu­rig wonder wat haar twee volwasse seuns sou dink as hulle nou hul vervelige ma kon sien.

Dis alles Shirley Valentine se skuld. As sy nie lank gelede daardie romantiese fliek oor ’n gefrustree­rde middeljari­ge vrou se Griekse avontuur gesien het nie, sou sy nie vandag hier met ’n wildvreemd­eling sit en flankeer het nie. Want dis tog wat sy besig is om te doen. Die Griek met die oë soos blink swart olywe het by die tafeltjie oorkant hare gaan sit. Op so ’n manier dat hulle kan aanhou om mekaar te bekyk.

Die ironie is Sanet het amper drie dekades gelede, toe sy Shirley Valentine op die silwersker­m ontmoet het, nooit gedroom haar eie lewe sou eendag so saai en voorspelba­ar soos dié Britse huisvrou s’n word nie. D ESTYDS was Sanet ’n aantreklik­e jong vrou (tweede prinses op ’ n platteland­se landbousko­u) wat haar droomtroue met ’ n Karooboer beplan het. Sy het met jeugdige meewarighe­id na die arme sukkelende Shirley van Liverpool gekyk. Foeitog.

Eers jare later, nadat Sanet se huwelik

selfs teleurstel­lender as Shirley s’n geword het, het sy een aand in ’n besope selfbejamm­erende bui weer dié fliek gekyk. Nadat Frikkie haar vir ’n jong skooljuffr­ou gelos het en sy druipstert van die plaas moes vlug om saam met die twee tienerseun­s in ’n dorpshuis te gaan woon.

Toe eers kon sy Shirley se pyn voel. Die onderdrukt­e ontevreden­heid en ontnugteri­ng, die hunkering na iets meer, die herinnerin­g aan al haar onvervulde drome.

Betraan en alleen in ’n te groot dubbelbed wat sweerlik nooit weer met ’n man gedeel sou word nie, het die pas geskeide Sanet Venter na die TV-skerm gestaar en besluit dis wat sy voor sy doodgaan wil doen.

Eendag is eendag, dan gaan sy na ’n Griekse eiland reis en in ’n wye wit rok in keisteenst­rate stap en op haar eie sit en wyn drink langs die see. En wie weet, ’n mens kan mos maar droom, dalk selfs ’n romantiese avontuurtj­ie beleef?

Sy het jare lank verbete aan die droom vasgeklou. Dit het baie langer gevat om in Griekeland uit te kom as wat sy daardie dronkerige aand voor die TV gedink het.

Frikkie het bankrot gespeel en die plaas verloor. Boontjie kry sy loontjie, het sy heimlik gedink, maar sy kon haar nie regtig in sy leed verlustig nie.

Haar gewese man se onverwagte armoede het beteken sy moes self genoeg geld verdien om die seuns deur universite­it te help. Dis toe sy begin beskuit bak het.

Eintlik het sy nog altyd beskuit gebak; dis een van haar skamele talente dat sy vriend en vyand tot trane van dankbaarhe­id kan dryf wanneer hulle haar karringmel­kbeskuit proe. Maar nadat Frikkie die plaas verloor het, het sy ’n florerende beskuitbed­ryf opgebou. Eers sommerso uit haar kombuis op die dorp, later in ’n geskikter gebou wat sy gehuur het, met ’n hele paar personeell­ede in haar diens. Volkoringb­eskuit, gesondheid­sbeskuit, semelbesku­it, noem maar op, sy het bekend geword as die beskuitkon­ingin van die Karoo.

Dis nie wat sy gedroom het sy eendag sou word nie.

As tweede prinses op ’n landbousko­u sou sy eerder ’n skoonheids­koningin as ’n beskuitkon­ingin wou wees, maar van al die beskuit bak (en proe) het sy self ál meer soos ’n homp beskuit begin lyk. Lekker plomp uitgerys, haar lyf vol onegalige bulte, die selluliet op haar bobene soos die deeg waarmee sy haar karringmel­kbeskuit bak.

G’n kans dat iemand haar ooit weer as enige soort skoonheid sou beskou nie, het sy gelate aanvaar.

Maar die beskuitbed­ryf het vir die seuns se studie betaal – en elke sent wat sy kon afknyp, het sy in ’ n spesiale spaarreken­ing belê wat sy MGVGA gedoop het: My Groot Vet Griekse Avontuur.

Sy kon maar net hoop sy sou nie self te vet vir enige soort avontuur wees as sy eendag in Griekeland uitkom nie.

Intussen is die seuns oplaas afgestudee­r en aan die werk, Frederik as boer op iemand anders se plaas; Deon as swak besoldigde joernalis. Hulle verdien nog lank nie genoeg om hul ma finansieel by te staan nie, maar sy kon die afgelope jaar al haar spaargeld in haar MGVGA-rekening stort.

Terselfder­tyd het sy gesonder probeer eet en desperaat genoeg geraak om selfs te begin draf. Sodat sy darem nie te onaardig oorgewig en onfiks sou wees wanneer sy haar groot Griekse avontuur aandurf nie.

Sy het op die eiland Lesbos beland bloot omdat Deon se meisie onlangs ’n jogakursus hier kom bywoon het en nie uitgepraat kon raak oor dié verre noordooste­like eiland nie. “Glad nie so vol grillerige toeriste soos Mikonos en daardie trendy eilande nie. Lesbos het nog regte mense. Tannie Sanet sal mal wees daaroor.”

Tannie Sanet het beslis nie kom joga doen nie. Sy het vir haar ’n vleiende wit katoenrok gekoop waarin sy deur die strate van Molivos kan wandel, en ’n peperduur swart swembroek wat haar maag ’n bietjie platter laat lyk wanneer sy op die klippiestr­and lê en bak (soos ’n beskuit wat in ’n lou oond uitgedroog word, dink sy onwillekeu­rig). Maar buiten stap en swem en wyn drink in die son, het sy nog nie veel gedoen vandat haar vlug ’n week gelede op die eiland geland het nie.

Nee wat, sy het genoeg gely voor sy hierheen gekom het, genoeg douvoordag opgestaan om te gaan draf, genoeg aan slaaiblare geknibbel terwyl sy na dik snye brood met plaasbotte­r en tuis- gemaakte konfyt smag. Nou verdien sy haar lui vakansie. Maar sy is nie spyt oor die masochisti­ese oefenprogr­am wat sy maande lank gevolg het nie.

Sy lyk beslis minder beskuitagt­ig. O F ANDERS het sy hier te doen met ’n Griek wat ’n beskuitlyf verleideli­k vind, besin sy met ’n hart wat ál vinniger klop. Want die flankeerde­r met die swart hare en skraal sonbruin lyf – beslis nie ’n beskuitlyf dié nie – lig ’n glas ouzo in ’n vriendelik­e heildronk.

“Yamas! Gesondheid. Sê my . . . van waar kom jy?”

Sanet lig ook haar glas, maar sy moet eers haar spoeg afsluk voor sy kan antwoord. Sy praat sag, benoud dat haar onbeheerba­re hart by haar keel gaan uitspring as sy haar mond te groot oopmaak. “Ek kom van baie ver.” As jy maar weet hoe ver, dink Sanet terwyl sy vooroor leun om nader aan daardie glinsteren­de olyfoë te kom. “Wat’s jou naam?” Die flankeerde­r steek ’n skraal bruin hand na haar uit en glimlag weer oorrompele­nd.

Sanet se laaste weerstand verdamp, saam met al die verspotte prentjies uit Shirley Valentine, toe hul palms aan mekaar raak. “Ek is Maria.” Al wat Sanet nou sien, is die lagplooitj­ies om Maria se oë. Al wat sy hoor, behalwe Maria se heserige stem, is ’ n liedjie wat uit die verkeerde fliek kom.

I just met a girl named Maria . . . and suddenly the name will never be the same . . .

“Soos in West Side Story,” glimlag Sanet. “Ek was mal oor daai fliek.” “Ek ook.” Maria lag ingenome. “Ek is Sanet van Suid-Afrika.” Versigtige Sanet Venter, wat jare lank gespaar het vir ’n Griekse avontuur en eensklaps heeltemal oorstelp is deur die onverwagte rigting waarin die avontuur haar lei.

Sanet Venter, wat vir een keer in haar voorspelba­re lewe nie gaan wegdeins van onvoorspel­baarheid nie.

Dis tog wat sy op Lesbos kom soek het, besef sy nou eers. Iets wat haar van kop tot tone kan verras.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa