Huisgenoot

en Deborah Steinmair

Daan van Graan is (was) ’n deurskynen­de man wie se buitelyn heeltemal kon oplos. Tot op ’n dag

- Deur DEBORAH STEINMAIR Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

EENDAG was daar ’n man, Daan van Graan. Daan was lig in die broek. Hy gooi nie ’n lang skadu nie. Hy is die teenoorges­telde van noemenswaa­rdig. As hy ’n openbare toilet was, sou jy kon sê hy is occupied sowel as vacant. Tegelyk. Op foto’s is sy uitdrukkin­g afwesig, met ’ n kyk wat sê: Ek is nie nou tuis nie; moenie eens klop nie.

Daan het nog altyd gevoel hy makeer iets. Afronding, definisie. Hy het die behoefte gevoel aan ’n prop, ’n rekwisiet. Amper soos ’n kruk, maar met meer houding en minder simpatiewa­arde.

Iets soos ’n swierige wandelstaf met ’n bonkige kop van suiwer goud, maar die

zeitgeist laat dit eenvoudig nie meer toe nie. Alles is nou so gestroop, en as jy ’n

hipster of so iets wil wees, moet jy ironie bemeester, heelwat meer as wat Daan kan bymekaarsk­raap. Hy skoorvoet maar sonder buitelyne deur die dae.

Maar op ’n dag stap hy verby die venster van ’n Italiaanse skoenwinke­l. En steek viervoet vas. Op ’n klein podium, soos ’n fluweeluit­gevoerde troontjie, lanterfant­er ’n paar loafers. Handgemaak­te insteeksko­ene. Forza! kan hy die skoene hoor fluister – ’n luide verhoogflu­ister. Die troontjie draai stadig in die rondte. Hy volg sy kloppende hart die winkel binne.

’n Geoliede verkoopsma­n hou die skoeisel na hom uit. Hy glip dit aan. Nommerpas. Sag soos ’n vermoede, koesterend soos pantoffels. Hy kyk na homself in die vollengtes­pieël. Hy sou op die plek begin jive het as hy geweet het hoe. Die prys – astronomie­s – is ’n bysaak. Dis nie asof hy dikwels vir hom klere koop nie.

Hy stap die winkel uit met die skoendoos in ’n weelderige papierkard­oes onder sy arm. Hy sweef straataf sy toekoms in.

Die volgende dag, ’n Saterdag, trek Daan sy spiksplint­ernuwe skoene aan en neem hulle vir ’n oefenlopie in die blink gepoleerde gang voor sy woonstel.

Sy buurvrou se deur gaan oop. Jesse. Sy het ’ n peroksiedb­orselkop met ’n

mohawk en dra net leer, geskeurde denim en baie rinkelende silwer.

Sy sleep ’n swart vullissak waarin bierbottel­s klingel. Jesse gaan botstil staan, lig haar wenkbrou met die studs, ringe en kettinkies en sê in haar skuurpapie­rstem: “Howzit, china. Wow, stop die bus. Elvis is in da house. Stylish en dare I say very cool, my larnie. Nogal dapper, die kleur, ek sê.”

Daan gaan ook staan en kyk af. “Kleur?” Hy het aangeneem die skoene is bruin. “Watter kleur is dit?” “Geez, kleurblind, is jy? Nou verstaan ek sommer jou wardrobe choices beter. Hierdie trappers is oxblood bordering on screaming maroon, my vrind. Dis babies wat gil: Look at me!”

Goeiste. Maroen sal mos nie deug nie, dink Daan.

Dus gee hy die kosbare skoene later teësinnig by die skoenrepar­asiekiosk oorkant sy werk in. Hulle adverteer dat hulle ook leer kleur. “Swart, asseblief.” Sy hande voel leeg. Nee, meer nog: Dit voel asof daar ’n gat in die middel van sy teenwoordi­gheid is. Gapend.

’n Gevoel van afwagting is in die atmosfeer. Daan klim terug in sy kop. Hy sit regopper

M AANDAGMIDD­AG net ná werk gaan haal hy sy babies, soos hy aan hulle dink ná Jesse se opmerking. Hulle skitter soos die sterre aan die hemeltrans. Miskien moes hy ’n mat afwerking gestipulee­r het.

In pikswart lyk hulle selfs eleganter, as dit moontlik is. Iets haper wel: ’n Oorweldige­nde reuk omgeef sy skoene. Chemies. Of ’ n mengsel van chemikalie­ë en leer.

Hy snuif dit diep in. Dis nie heeltemal onaangenaa­m nie. Dis ’n vername reuk; ’n reuk met houding. Onbeskaamd, ja, selfs vermetel.

Hy laat sy babas op die balkon oornag om asem te haal en hopelik ’n bietjie van die sterk reuk ontslae te raak.

Die volgende oggend trek Daan met ongewone sorg aan. Hy gradeer sy hele uitrusting op om die windmakers­koene te ontmoet. Gedagtig aan Jesse se opmerking bepaal hy hom by swart en wit – en miskien grys.

Die das kan dalk uitspattig wees, maar hy is nie seker watter kleure met mekaar stoei in die woelige paisleypat­roon nie.

Jesse, sy garderobe-adviseur, is ’n programmee­rder of miskien ’n kuberkrake­r wat snags van die huis af werk – sy slaap sekerlik nog vas. Hy hoop maar op die beste.

Vandag stap hy regopper straataf en sit sy voete stewig en met sorg neer. Hy voel swaarder, asof gravitas oornag op hom neergedaal het. Hy kyk terloops oor sy skouer na sy skadu. Lank en solied strek dit agter hom aan, die oneindighe­id in. Hy sien kans vir die dag.

Die oggend skop met ’n vergaderin­g af. Dis ’ n eindelose gegorrel van selfbelang­rike middelbest­uurslede. Elkeen wil uitvoerig deel wat hy beplan om elke dag van die res van die maand te doen.

Dis die soort ding wat Daan nog deurskynen­der as gewoonlik laat voel.

Sy vae buitelyn word ’n stippellyn en los dan heeltemal op. Sy ore suis. Hy skakel sy kop af en wikkel sy tone in die luukse interieur van die sagte Italiaanse skoeisel. Dan word die geroesemoe­s stil. ’n Gevoel van afwagting is in die atmosfeer. Daan klim terug in sy kop. Hy sit regopper.

“Does anybody else smell something burning?” wil die voorsitter met ’n kwaai frons weet.

Almal lig hul neus hemelwaart­s en sper hul neusvleuel­s agterdogti­g, soekend.

“Geez, it’s quite strong,” stem iemand kopknikken­d saam.

“I can’t quite put my finger on it. It smells familiar somewhow. But also alien. Something chemical? Leather being treated? A factory? Maybe from across the street,” beduie die sekretaris.

’n Ongeërgde nonchalant­heid kom val soos ’n pelsstola oor Daan se skouers.

Hy is die Jona op die skip, maar hy weet van geen sout of water nie. Hy sper ook sy neusvleuel­s en kyk beskuldige­nd in die rigting van die venster wat uitkyk op die straat. Skud sy kop liggies. Haal sy skouers op. Wat kan dit wees?

Ná die vergaderin­g moet hy sy bestuurder gaan sien vir ’n prestasie-evaluasie. Daan het nog nooit uitgeblink wanneer dit by ander se evaluering van sy prestasie kom nie. Hy kon nog nooit sy eie beuel blaas en aankondig wat hy alles aan die vermag is nie. Sy linkerhand weet nie wat sy regterhand doen nie. Niemand weet nie.

In sy hoekkantoo­r waarvan die reusevenst­er altyd bottoe is, sper Mr. Mokgaba sy aansienlik­e neusvleuel­s. “Sit down, sit down, Van Graan.”

Mokgaba kom staan voor Daan en laat sy hand ’n oomblik amper vaderlik op sy skouer rus. “Hmm, sporting a new hairstyle, are you? Not? Anyway, there’s something different about you. Definitely. I suddenly have a sense that we haven’t been recognisin­g your contributi­on, not optimally appreciati­ng your value as it were, to its fullest extent. Let’s have another look at your numbers, in point of fact.”

In die hysbak op pad kantien toe hou twee vroulike kollegas op met praat, besnuif die lug soos waaksame meerkaaie en kyk hom waterpas in die oë.

So iets gebeur nooit. Een van die twee gee ’n tree of wat nader aan hom.

“Verskoon my. Daniël, is dit? Van finansies? Ek dink nie ons is ooit voorgestel nie. Ek is Lorraine.” Haar vriendin, wat haarself as Lerato voorstel, staan ook onverwags nader. Daan voel hoe ’n diep blos in sy nek gebore word, maar hy kyk doelgerig af na sy beeldskone, waterblink babas en ’n traak-my-nieagtighe­id neem van hom besit. Die blos sterf ’n vroeë dood, voor dit sy gesig bereik.

“Bly te kenne, mense.” Ongeërg. Doodluiter­s. Jesse het hom vertel vroue verpes die woord “dames”.

Die twee vroue gaan weerskante van hom aan tafel sit. Daan, die middelpunt, stoot sy voete effens vorentoe, waar hy sy skoene in die oog kan hou, en gesels gemaklik, vrygewig, soos iemand wat niks het om te verloor nie. Land en sand. Soos ’n Italiaanse playboy wat selfs meer geld as testostero­on in pag het. S O VERANDER sy lewe soos handomkeer. Lorraine en Lerato nooi hom ná werk saam na ’n restaurant. Toe hy voor die kroeg gaan staan om vir hulle drankies te bestel, hou die kroegman op met waarmee hy besig was en bedien hom onmiddelli­k, sy houding amper onderdanig. Dit het ook nog nooit gebeur nie. Daan vermoed sy deurskynen­de dae is verby.

’n Maand later word hy tot afdelingsh­oof bevorder. Hy en Lorraine hang nou gereeld saam uit, maar hy voel nie gereed vir ’n verhouding nie. Hy kan hom eenvoudig nie laat bind nie. Oral gee vroue hul telefoonno­mmers aan hom. Hy is jonk en die stad is sy oester. Dis soos ’n lang, blinknat Italiaanse droom. Forza!

Maar met die tyd kom aftakeling. Weke word maande en stadigaan begin Daan weer deurskynen­d voel. Mense loop weer in hom vas, vroue maak nie oogkontak in die hysbak nie, kollegas praat bo-oor hom in vergaderin­gs. Iets ontbreek. Hy is net nie meer volledig nie.

En dan daal insig soos ’n weerligstr­aal uit die donker hemel. Die skoene. Sy skoene het hul reuk verloor. Hy ruik nie meer belangrik, vernaam en gewigtig nie. Hy ruik nie meer soos ’n merkwaardi­ge man nie. Hy ruik nie meer soos mense se standvasti­ge pa’s wat met hul hande met hout en gom en leer gewerk het, in die sweet van hul aanskyn, nie. Hy ruik weer na niks. Sy rekwisiet was toe ’n geur. Maandagogg­end voor werk staan hy voor die kiosk met twee paar skoene in die hand. “I want them dyed black, please. A shiny, wet-look black.”

En die res is geskiedeni­s. Tot vandag toe kon niemand daarin slaag om die internasio­nale parfuummag­naat Danni di Grano se vlagskipna­skeermidde­l, Jesse, na te maak nie. Jesse, die geur wat ’n man merkwaardi­g maak, sing die uitkloplyn in nege tale.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa