Huisgenoot

Brinkgesin se lewe ná gru-ongeluk

Al is die hartseer oor sy twee oorlede kinders groter oor die Kerstyd, hou hy en sy gesin hul oë op die ewigheid, skryf Solidarite­it se Danie Brink

- Deur CYRIL BLACKBURN

VANJAAR ry die Brinks van Pretoria weer dieselfde pad deur die Vrystaat wanneer hulle met vakansie gaan; die pad waar hul lewe twee jaar gelede in ’n oogwink verander het. Anderkant Theunissen sal pa Danie stop of stadiger ry. Daar is ’n kruis langs die pad – dis op die plek geplant waar klein André (toe 13) en Rachel (toe 8) gesterf het toe die uitvoerend­e hoof van Solidarite­it Helpende Hand en sy gesin kort ná negeuur die oggend op 16 Desember 2016 op pad na Kaap St. Francis in die Suid-Kaap in ’n ongeluk was.

“Daar is maar altyd trane, maar dis menslik . . . Ons weet ons lewe het op daardie plek onherroepl­ik verander,” sê Danie aan Huisgenoot. “Tog wil ons niks spesifieks met die plek verbind nie. Ons kinders is nie daar nie. Daar is ’n kruis – en ons wil altyd onthou waar dit gebeur het – maar ons kinders is in die hemel.”

Danie se vrou, Lise, is ernstig beseer in die ongeluk waarin die oudste seun en jongste dogter van hul vyf kinders oorlede is. Sy was weke lank in ’n koma in ’n hospitaal in Pretoria en haar linkerbeen moes geamputeer word.

Danie en die ouerpaar se ander kinders, Mieke (17), Johann (11) en Daniël (4), het ligte beserings opgedoen, maar moes maande lank sonder Lise tuis die groot verlies van hul geliefde André en Rachel verwerk. Lise kon eers in Februarie 2017 weer tuis by die gesin aansluit, en hoewel die Brinks se seer nog vlak sit, moes hulle mettertyd vrede maak en aanpas by hul lewe ná die ongeluk.

Kerstyd sit die onthou van die verlies weer vlak, vertel Danie. “Die knop in ’n mens se keel raak oor Kersfees groter. Die hartseer sit vlakker as op ander dae. Maar ons troos mekaar deur te sê elke jaar is nog ’n treetjie nader daaraan om ons kinders weer te sien.”

Soos soveel ander mense wat op Kersdag gemengde gevoelens ervaar, erken hy met rou eerlikheid: “Ons gaan Kersfees nes voorheen vier en fokus op die groot geskenk: Jesus. Ons sal stil-stil elkeen opnuut dankbaar wees dat ons kinders by God is, maar op so ’n dag fokus ons op die vreugde van ons kinders wat ons nog by ons het. Ons wil nie net treur nie.”

Hier skryf Danie oor die pad wat hy en sy gesin ná die ongeluk moes stap en oor sy gevoelens en gedagtes kort voor die Kerstyd presies twee jaar later.

 ??  ?? Die Brinkgesin voor die Desember 2016-tragedie waarin twee van hul kinders dood is. Van links is ma Lise, Rachel, Daniël, pa Danie, André, Mieke en Johann.
Die Brinkgesin voor die Desember 2016-tragedie waarin twee van hul kinders dood is. Van links is ma Lise, Rachel, Daniël, pa Danie, André, Mieke en Johann.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa