Huisgenoot

Henri se droewige 1ste tronk-Kersfees

Op die bylmoorden­aar se eerste Kersdag in die tronk gaan hy nie veel voorregte geniet nie

- Deur JOANIE BERGH en PIETER VAN ZYL

NSTUKKIE vleis vir Kersfees. Dít is al waarop Henri van Breda kan hoop. Op Kersdag vanjaar sal die berugte bylmoorden­aar uitvind dié dag verloop agter tralies feitlik nes enige ander dag van die jaar. Daar sal geen liggies of vrolike versiering­s met middagete wees nie; geen spesiale geregte vir die gevangenes in die Drankenste­ingevangen­is buite die Paarl nie.

Want op 25 Desember geld dieselfde reëls in die tronk as op enige ander dag van die jaar – ook wat die spyskaart betref.

Met Kersdag wat vanjaar op ’n Dinsdag val, sal die gewone spyskaart vir dié dag gevolg word, sê Lawrence Venter, streekhoof van korrektiew­e dienste in die Wes-Kaap.

“Ons het ’n standaards­pyskaart wat elke week gebruik word. As daar byvoorbeel­d elke Dinsdag vir die gevangenes eiers gegee word, sal ons probeer om daardie dag die spyskaart ’n bietjie op te knap en vir hulle ’n stukkie vleis vir Kersdag te gee,” sê hy.

“Verder is die gevangenis­se selfonderh­oudend; vrugte en groente wat daardie dag voorgesit word, sal uit hul eie tuin kom.”

Geen uitsonderi­ngs word op hierdie dag vir enige gevangene gemaak nie, beklemtoon hy.

Verlede jaar dié tyd was Henri (24) nog uit op borgtog en het hy die feesdag saam met familieled­e en sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg (23), deurgebrin­g. Hy en Daniellé het glo planne begin beraam om na Australië te emigreer.

Maar dit was voor Henri in Mei vanjaar in die hooggeregs­hof in Kaapstad tot drie keer lewenslang­e tronkstraf gevonnis is omdat hy byna drie jaar gelede sy ouers, Martin en Teresa, en ouer broer, Rudi, brutaal in die gesin se spoghuis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbos­ch met ’n byl doodgekap het.

Net ’n maand en twee dae voor die gruwelike moorde op 27 Januarie 2015 het die Van Breda’s saam Kers- fees gevier. Dit sou hul laaste wees.

Henri het sy jonger suster, Marli (nou 19), ook tydens die moordvlaag met die byl aangeval, maar sy het oorleef.

In die tronk mag Henri net twee besoeke per maand ontvang, sê sy prokureur, Lorinda van Niekerk. Hy mag dan twee besoekers op ’n slag kry.

Volgens ’n ingeligte bron is sy besoekers gewoonlik Daniellé en sy een oom, André du Toit, sy oorlede ma se broer wat in Kaapstad woon.

Hy mag een van sy toegelate besoeke op Kersdag ontvang, maar as hy teen daardie tyd reeds twee besoeke vir die

maand gehad het, sal hy Kersdag deurbring met net die ander gevangenes en sy herinnerin­gs aan die Kersfeeste wat eens was.

TERWYL ’n feestelike atmosfeer in die buitewêrel­d heers, met Kerslieder­e wat oral opklink en gekleurde liggies wat in Kersbome en winkelsent­rums knipoog, loop die spanning in gevangenis­se in dié tyd dikwels hoog.

Gedurende die Kerstyd is die risiko groter dat gevangenes kan probeer ontsnap omdat hulle dan selfs meer na hul familie en die buitewêrel­d verlang, verduideli­k prof. Lukas Muntingh, projekkoör­dineerder van die Civil Society Prison Reform Initiative, ’n navorsings­projek wat na die regte van gevangenes omsien.

In dié tyd – “lockdown”, soos dit genoem word – word gevangenes se bewegings in die 243 korrektiew­e sentrums in die land verder ingeperk en mag hulle nie in die buitelug aan sportaktiw­iteite deelneem nie. Hierdie nuwe veldtog met sy streng voorsorgma­atreëls staan bekend as Operasie Vala, oftewel “toemaak” in Xhosa.

Met die onlangse bekendstel­ling van die veldtog het Thabang Makwetla, adjunkmini­ster van justisie en korrektiew­e dienste, gesê dit is “noodsaakli­k dat ons niks aan die noodlot oorlaat nie en dit vir gevangenes onmoontlik maak om uit veiligheid­stelsels te breek in hul desperate pogings om Kersfees saam met hul geliefdes deur te bring”.

In hierdie tyd is die spanningsv­lakke tussen beamptes en gevangenes ook hoër en is daar nie soos elders ’n gemoedelik­e atmosfeer met die opbou na Kersfees nie.

Dit verskil van gevangene tot gevangene hoe hul werkskofte dan sal lyk. As ’n gevangene hom goed gedra, kan hy ’n meer gesogte opdrag – ’n sogenaamde D-opdrag” – kry, soos om te help om sekere maaltye te berei en die kos op te skep.

Met Kersfees kan gevangenes R75 betaal vir ’n konsessie om kos, snoeperye en toiletware te kry.

Geskenkte boeke word ook dan in die gevangenis uitgedeel, vertel Lukas.

Die gebruik van selfone word glad nie in die tronk toegelaat nie. As ’n gevangene gedurende die Kerstyd ’n geliefde wil bel, moet hulle van die munttelefo­ne in die gevangenis gebruik maak. Gevange- nes word glo een oproep per maand toegelaat en al hierdie gesprekke word blykbaar opgeneem.

Geen gevangene mag Kersboodsk­appe met e-pos stuur of ontvang nie en ook Facebook is agter tralies verbode. Net gevangenes wat studeer, mag aansoek doen om rekenaarto­egang, maar dit word beperk tot webtuistes met inligting wat met hul studie verband hou.

Op Kersdag bied verskeie kerke dienste in die gevangenis aan en die gevangenes het ’n keuse of hulle dit wil bywoon, sê Lawrence.

DIT gaan “baie goed met Henri en hy het goed aangepas in die gevangenis”, sê Lorinda.

Ook Henri se een tante, Leenta Nel, wat in Kanada woon, bevestig dit gaan “in die omstandigh­ede” goed met haar susterskin­d. Al het regter Siraj Desai Henri skuldig bevind aan drie moordklagt­e sowel as poging tot moord, weier Leenta om te glo haar susterskin­d het sy gesin uitgewis.

Sy glo vas hy is die slagoffer van iemand anders se dade. “Ek kan nie aan ’n groter psigiese trauma dink as dat jou ouers voor jou vermoor word en jy dan daarvan aangekla word nie . . . Is daar iets ergers?” het sy vanuit Kanada aan Huisgenoot gesê.

“Henri het oor ’n tydperk van drie jaar die speelbal geword vir enigiemand wat leke-regter oor ’n grusame moord wou speel. Gebeure en tonele wat hy graag sou wou vergeet, is oor en oor herhaal, ondersoek, vergroot en verdraai.”

Leenta sê Henri se naastes maak gebruik van die tyd wat hy in die tronk besoek mag word en dat hy ook die maandeliks­e telefoonop­roep benut wat hy mag maak.

Sy vertel hy pas aan in die gevangenis en is “hulpvaardi­g”.

Leenta glo ook hy kan nou met sy lewe aangaan ná die gebeure van die afgelope paar jaar. “Eindelik kan daardie rou emosionele wond met rus gelaat word. Die teruggetro­kke jong man kan leef en laat leef. Hy skop nie teen die prikkels van die lewe nie,” sê sy.

“’n Mens word nie deur die gebeure in jou lewe gedefiniee­r nie; jou karakter word bepaal deur hoe jy op daardie gebeure reageer.”

Dan voeg sy by: “Ons familie is deur diep waters, maar ons het staande gebly.”

En terwyl die Van Breda’s se geliefdes op Kersdag aan hulle sal terugdink, sal dit vir Henri die eerste van jare der jare se Kersfeeste in die tronk wees.

 ??  ?? HOOFFOTO: Die veroordeel­de moordenaar Henri van Breda gaan vanjaar sy eerste Kersfees agter tralies in die Drakenstei­ngevangeni­s buite die Paarl (REGS) in ’n oranje oorpak deurbring.
HOOFFOTO: Die veroordeel­de moordenaar Henri van Breda gaan vanjaar sy eerste Kersfees agter tralies in die Drakenstei­ngevangeni­s buite die Paarl (REGS) in ’n oranje oorpak deurbring.
 ??  ??
 ??  ?? Henri se meisie, Daniellé Janse van Rensburg, het hom deur die verhoor ondersteun. Sy besoek hom ook gereeld in die gevangenis.
Henri se meisie, Daniellé Janse van Rensburg, het hom deur die verhoor ondersteun. Sy besoek hom ook gereeld in die gevangenis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa