Huisgenoot

’ N UITTREKSEL UIT TEBATSO GAAN SEE TOE

-

“Maar kyk nog die son, ’ Batso,” kla klein Lennie toe sy hom uit die bad het. Die groot blou oë is nog baie wakker. Hoe gaan sy maak? Sy kry hom in sy slaapklere in en dra hom sitkamer toe, waar sy voor badtyd die slaapsakke oopgerol het sodat dié wat kom slaap darem nog naby aan die geselskap kan wees. Daar gekom, trek sy die stokies van die pienk voetjies af en sit hulle netjies eenkant.

“Hoekom net ek slapies?” vra hy terwyl sy hom in die slaapsak neerlê. “Is nie reg nie!”

Sy stem saam, want gewoonlik is dit hy en kleinmies Engela al twee wat vroeg moet slaap, maar dié het heeltemal te lank geslaap vanmiddag – en klein Lennie glad nie. Sy sê maar net “Ai, ou klein seuntjie”, rits die slaapsak toe en plaas die teddie wat Vader Krismis gebring het in sy arms. Dan streel sy oor die kind se voorkop en die bruin haartjies, en dit laat darem die oë knip, daardie welige wimpers, so donker en lank, dis eintlik ’ n vermorsing aan ’n seunskind.

Sy sal ’n storie vertel. “Luister,” sê sy, en bly die haartjies streel. Sy maak haar oë toe en verbeel haar dis ’n ander kindjie, die een met die gladste velletjie in die hele wêreld, die een wat soos kaneel en seep ruik. Wat maak sy vanaand? Is sy ook al in die bed? En wat gaan Phuleng maak met die malvalekke­rs en panties wat mies Sandra toegedraai het: Vanaand laat oopmaak of môreoggend? En sy begin: “Ver, ver van hier, in die ou Vrystaat, is daar ’n klein huisietjie met ’n strooidak.” “Die Vrystaat,” herhaal hy. “Die drie kindertjie­s wat daar woon, is twee seuntjies en ’n klein ou dogtertjie. En hulle name is Sidi en Nkwenkwe en Momo. En hulle was baie gelukkige kindertjie­s, en nooit alleen nie.”

Die kind se asemhaling is al klaar langer en stadiger. Hy knip sy oë.

“Maar eendag, toe kom daar ’n baie sterk wind, en die wind wil hulle mamma sommer wegblaas. En toe sê hulle mamma ’nee, Wind, nee, vir my moet jy nie skep nie!’ En die mamma het gehuil, en klein Momo het gehuil. Maar Sidi en Nkwenkwe, hulle was al amper groot seuns, en hulle was baie slim.” Knip-knip die ogies. “Die wind het bly trek, en hulle mamma het bly vasklou: aan die bome en die deurkosyn en die hoenderhok. Hulle het geweet hulle moet wag vir die aand. Daardie hele dag lank het hulle ’n tou gevleg. Dit was ’n towertou, die langste tou in die hele wêreld, lank genoeg om in die hemel in te gaan.” Sy skep asem. Die kind lê stil. “En toe hulle hom lank genoeg het om twee keer om die maan te gaan, toe weet hulle die tou is reg. En daardie aand, toe die sterre uitkom, kies hulle die mooiste en die blinkste een vir hulle mamma. En toe gooi Nkwenkwe die tou, want hy het ’n baie lekker krieketarm, en die tou toor homself vas aan die ster, nes hulle hom gesê het hy moet. En toe gaan kry hulle hulle mamma waar sy aan ’n hek vasklou teen die nare wind, en die towertou bind hulle aan haar hart vas.”

So vinnig. Die ogies is nou heel toe, maar sy gaan voort.

“En van daardie dag af weet hulle, al skep die wind hulle mamma en neem haar waar ook al, haar hart is altyd by hulle, want hy is vas aan daardie ster bokant hulle drie kinders se koppe.”

’n Hele paar minute sit sy daar. Klein Lennie se arm hang al lankal slap langs die beertjie, maar sy bly sit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa