Huisgenoot

’N BLINKNUWE BEROEMDE ‘BENDE’

Die kinders van die 1990’s se wilde Primrose Hill Set volg in hul glansspore

- Saamgestel deur COLIN HENDRICKS

IN DIE 1990’s was hulle die room van die Britse vermaakbed­ryf – die akteurs, rocksterre en supermodel­le van wie almal alles wou weet.

Boonop het Londen se blinkste glansmense soos die akteurs Jude Law, Ewan McGregor en Sienna Miller, die rockerbroe­rs Liam en Noel Gallagher en die supermodel Kate Moss almal op dieselfde tyd in die spogbuurt Primrose Hill nesgeskop.

Dié A-lys-kliek was dan ook as die “Primrose Hill Set” (PHS) bekend. En natuurlik het hulle oor en weer gekuier en gekafoefel. Al het hulle hoe hard probeer om hul persoonlik­e lewe privaat te hou, het stories oor wilde partytjies agter geslote deure tog uitgelek.

Vandag, 20 jaar later, blyk dit dat die Britte se eertydse “Brit Pack” ’n nuwe blaadjie omgeslaan het. Hulle dra nou swaar aan hul verantwoor­delikhede as die ouers van ewe talentvoll­e spruite wat self flink naam maak.

Neem maar die wêreldbeke­nde supermodel Kate Moss (44) as voorbeeld. Dié is deesdae ’n vurige voorstande­r van alkoholvry­e dae en behoorlike nagrus pleks van laatnagpar­tytjies. Lila (16) volg reeds in Kate se spore in die modewêreld onder die wakende oog van haar ma, wat ook haar bestuurder is.

Ná ’n mislukte verhouding met Lila se pa, Jefferson Hack (47), ’n Britse mediabaas, en ’n verbrokkel­de huwelik met die Britse sanger Jamie Hince (50) het sy nou liefde gevind by ’ n katelknaap, graaf Nikolai von Bismarck (30), ’n fotograaf uit die Duitse adelstand.

Ook Kate se boesemvrie­ndin Meg Matthews (51) se dae as partytjiem­eisie is lank reeds verby. Luidens berigte is sy deesdae ’n geheelonth­ouer wat graag raad oor menopouse uitdeel.

Meg en die Oasis-rocker Noel Gallagher (51) se vier jaar lange huwelik het in 2001 op die rotse geloop. Hulle het toe hul huis verkoop en Primrose Hill vaarwel geroep.

Nog ’ n glanspaar wat deel van die PHS was, die aktrise Sadie Frost (53) en die Hollywoodh­artebreker Jude Law (46), is in 2003 geskei ná ’n huwelik van sewe jaar. Hulle het drie kinders saam.

Sadie is deesdae ’n groot joga-aanhanger. Haar eks, die pa van altesaam vyf kinders, is steeds in lokettreff­ers soos die Fantastic Beasts-fliekreeks te sien.

Toe die beroemde buurt se glanspare uitmekaar is, het party van hulle ook Primrose Hill se stof van hul voete geskud. Maar al het dit die einde van die oorspronkl­ike PHS beteken, is hul kinders deesdae ewe geheg aan mekaar en amper net so bekend soos hul ouers.

Anders as die ouer garde wat die paparazzi probeer ontwyk het, leef hul kinders in die era van die sosiale media en is hulle allesbehal­we publisitei­tsku. Soos Rafferty Law, Jude en Sadie se modelseun, dit stel: “Anders as met my pa, is roem iets waarmee ek grootgewor­d het. Almal vra altyd hoe dit voel, maar vir my is dit bloot normaal. Ek ken nie enigiets anders nie.”

Ontmoet die nuwe PHS.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa