Huisgenoot

Boer Cassie praat oor kassie-ervaring

Die dolverlief­de boer Cassie praat oor Alyssa, die kritiek teen hom en sy skuheid vir mense

- Deur PIETER VAN ZYL Foto’s: FANI MAHUNTSI

ANDERKANT die Nkunzirivi­er lê die heuwels en dale van KwaZuluNat­al soos groen moeselien in die son oopgesprei. Van ver sien ’n mens blinkvet beeste op boer Cassie se plaas in Elandslaag­te wei.

Elandslaag­te . . . Dit is ’n naam wat jou uit die geskiedeni­sboeke bybly; waar die Britte in 1899 tydens die Tweede AngloBoere­oorlog een van hul weinige veldslae gewen het, maar gou weer teruggeval het.

Meer as 100 jaar later het Cassie (29) ook ’n slag hier geslaan danksy die kykNET-maatsoekre­eks Boer Soek ’n Vrou. Hy het die skoot hoog deur nadat hy Alyssa (26) uit Rutan in Limpopo gekies het uit die drie vroue wat hier op die plaas by hom kom kuier het.

“Alyssa is ’n ongeloofli­ke mens,” gesels die donkerkopb­oer wat soos ’n liggaamsbo­uer lyk. “Sy is easy-going. Sy het nie

issues nie. Ek is lief vir wie sy is.” Dit is duidelik ’n verliefde man wat so praat. Maar gaan hy besluit om die trouklokke te laat lui of hom soos die Britse magte destyds in dié wêreld onttrek?

Dit is waaroor kykers van die gewilde e werklikhei­dsreeks nou wonder. Party y vra sommer reguit – ook vir Cassie se e pa, Alex (58), ’n tandarts met ’n praktyk k op Ladysmith, en dit terwyl hy aan hul l tande werk.

Hy kan nie kla oor enige van die drie i vroue, Alyssa, Linnae en Natasha, wat hy plaas toe genooi het nie, sê Cassie. “Ek het die room geskep.”

Vir die kuier op die plaas het hy vir elkeen ’n onesy gekoop. “Dis ongemaklik,” sê hy oor dié kledingstu­k wat hy self dra “net wanneer ek slaap”. Dan verduideli­k hy: Dit was vir die pret en het die ys gebreek. “Ek wou hê hulle moes die plaas geniet en onthou.”

Maar die week saam met die drie vroue voor die TV-kameras op die plaas was nie net pret en plesier nie, veral nie vir Cassie nie.

“Dit was baie emosioneel. Dit krap aan jou. Jy word ondervra; dinge word uit jou getrek. Ek hou nie daarvan om uit te praat nie,” erken hy.

Tog was dit alles die moeite werd. Dit het hy nou die dag in die Wimpy op Ladysmith besef. ’n Meisietjie in ’n rolstoel wat saam met haar ma daar was, het vir hom ’n briefie kom gee om te vertel hoe sy dit geniet het om hom in die TV-reeks te sien.

“Dis die beste van die hele ervaring,” sê Cassie, “daardie tannie en dogtertjie . . .”

NIE al die kykers het ewe mooi dinge oor hom te sê gehad nie. Party het hom as afsydig, koud, arrogant en selfgesent­reerd beskou. ’n Paar het gereken hy is te verfynd. Een se kommentaar op Facebook was selfs: “Cassie moet uit die kas klim.”

Dit pla hom min. By ’n laning roos-

bome in volle blom langs die oprit na die opstal vra hy tong in die kies of ons hom daar wil afneem met dié dat hy kwansuis so “verfynd” is. “Die meeste van die kommentaar was nie so giftig nie,” voeg hy by.

Ook uit sy eie geweste was daar kritiek. “Hulle het my gas gegee dat daar mos genoeg girls in die omgewing is – van Bergville tot Dundee. Die vroue op die plase kla: ‘Jy sien ons nie raak nie.’ ”

Dan verklap Cassie: “Ék het nie besluit om deel te neem nie.” Dit was sy beste vriend, Alex Opperman, en dié se vrou, Lizé, wat besluit het hy moet vir Boer Soek ’n Vrou inskryf.

“Hulle was moeg daarvan dat ek altyd die vyfde wiel aan die wa is. Ek was te lank single. Ons het saam die vorms ingevul,” vertel hy op die stoep van die imposante plaashuis waar ’n mosaïek van die son teen ’n buitemuur naby die voordeur jou verwelkom.

Binne maak dik Persiese matte die voetval sag. Vertoonkas­te met oudhede verras jou in die reuseleefv­ertrek. Uit die eetkamerve­nster kan jy oorkant die pad, in Fort Mistake se rigting, ses grafte van Britse soldate sien. Hier leef Cassie en sy mense met die geskiedeni­s saam.

Oral teen die mure hang kunswerke van sy ma, Lisa (52), en suster, Thea (28), wat ’ n B.A.-graad van die Universite­it van Pretoria en ’n nagraadse onderwysdi­ploma het.

Ma en dogter is juis op pad na ’n kunsklas toe, maar die twee, glo sy “grootste

fans”, kom eers vir Cassie karnuffel. “Moenie so aan my vat nie,” raas hy kamma-kwaai. Is hy ook kunssinnig? “Ek kan nie eens ’ n stokmannet­jie teken nie,” sê die sportiewe Cassie, wat in sy skooldae op Ladysmith as flank en agtsteman op die rugbyveld uitgedraf het.

Nadat hy in 2007 gematrikul­eer het, het hy aan Tukkies regte gaan studeer, maar in die middel van sy eerste jaar die kursus opgeskop.

“Ek het dit gehaat, al die mense. Dit t was ’n klein bubble- tjie,” sê hy van die kampuslewe. Dan erken hy doodeerlik: “Ek is nie ’n groot mense- fan nie.”

Vra jy hom na sy beste en slegste eienskap, sê hy dan ook: “Ek is stupid eerlik. Ek terg graag en dit kan dalk sarkasties oorkom. Ek is ook baie sleg met t name. My sussie moes vir my foto’s wys en sê wie’s wie in die program.”

Die afgelope 10 jaar behartig hy saam met pa Alex die boerdery en boer vorentoe met sy simbrabees­te, ’n kruis tussen simmentale­rs en brahmane.

Tussendeur studeer Cassie vir sy LL.B.graad deur Unisa, waar hy reeds ’n B.A.graad in omgewingsb­estuur in 2013 verwerf het. “Dis vir my makliker,” sê hy oor die privaat studie. “Ek kan dan ook konsentree­r op dinge wat hier op die plaas aan die gang is.”

As hy sy LL.B. kan voltooi, wil hy in omgewingsr­eg spesialise­er, maar hy is onseker of hy vir nog vier of vyf jaar se studie kans sien.

“In Oktober en November moes ons mielies en soja plant. Dit was ’n besige tyd en dit was toe ook eksamentyd. Ek moes die balans regkry,” gesels hy hartlik sonder ’n sweempie van die arrogansie g en afsydighei­d y g waar- van party kykers hom beskuldig het.

Dié spiertier het sy eie gimnasium in die rondawel waar hy buite die plaashuis bly. Dit was vroeër MaThombi Ntamane (57) se blyplek. Baba Casper – Cassie se doopnaam – het as’t ware op haar rug grootgewor­d. Sy het nou in die gastekamer in die huis ingetrek.

“Ek sien op die TV hy soek vrou,” sê MaThombi, wat al 29 jaar lank vir die gesin werk, en skud haar kop. Tog is sy opgewonde om te sien of hulle een van die dae op die plaas gaan bruilof hou.

Cassie laai ons op ’n bakkie en gaan wys vir ons die indrukwekk­ende pekanneutl­anings wat hulle op die plaas aangeplant het. Op pad is daar ’n verskuifba­re deel van ’n reusedorin­gdraadhein­ing wat hy eers met moeite moet oopmaak. Dis om die koedoes in die omgewing uit te hou, verduideli­k hy.

Poue se skril geskree klink nou en dan deur die middagloom op. “Dis irriterend, maar dis broeityd. ’n Mens moet seker hul soekende harte verstaan,” skerts Cassie, wat nou self ondervindi­ng van ’n soekende hart het.

Sy soektog na ’n vrou so reg na sy hart het TV-kykers van heinde en ver se verbeeldin­g aangegryp. By ’n braai op die dorp het ’n omie selfs vir sy suster gevra: “Wat gaan Cassie wen?” So asof Boer Soek ’n Vrou ’n kompetisie met ’n aanloklike prys is.

“Hopelik ’n vrou,” was Thea se gevatte antwoord.

Maar of daar ’n gelukkige einde vir Cassie en Alyssa se liefdesver­haal sal wees, is nog ’n geheim wat hier tussen die groen heuwels van Elandslaag­te versteek lê.

Die reünie-episode, die laaste in die huidige seisoen van Boer Soek ’n Vrou, word op Donderdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

‘Sy is easygoing. Sy het nie issues nie. Ek is lief vir wie sy is’

 ??  ?? HOOFFOTO: Boer Cassie tussen sy beeste op die plaas in Elandslaag­te, KwaZuluNat­al. BO: In Boer Soek ’n Vrou op kykNET saam met twee van die vroue wat hy plaas toe genooi het, Linnae (links) en Alyssa.
HOOFFOTO: Boer Cassie tussen sy beeste op die plaas in Elandslaag­te, KwaZuluNat­al. BO: In Boer Soek ’n Vrou op kykNET saam met twee van die vroue wat hy plaas toe genooi het, Linnae (links) en Alyssa.
 ??  ?? Saam met sy ma, Lisa (links), en sussie, Thea. Hulle is sy grootste aanhangers en hul skilderye hang die opstal vol.
Saam met sy ma, Lisa (links), en sussie, Thea. Hulle is sy grootste aanhangers en hul skilderye hang die opstal vol.
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: LIN MaThombi Ntamane het Cassie op haar rug help grootmaak. BO: Die sonmosaïek by die voordeu deur van die huis.
LINKS: LIN MaThombi Ntamane het Cassie op haar rug help grootmaak. BO: Die sonmosaïek by die voordeu deur van die huis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa