Huisgenoot

Pavarotti se vrou praat oor hul liefde

Hulle het vurig stry gekry oor sy verslawing aan pasta en haar skrikwekke­nde sangstem, maar Pavarotti se weduwee sê hulle was onafskeidb­aar

-

WAT ek altyd van Luciano Pavarotti onthou, is hoe hy uit sy swembad klim. Die berg van ’ n man met ’n strooihoed op die kop en ’ n reusegliml­ag – wat in afgryse verstar toe hy my in my pers rok sien. Pers is die kleur van die dood, volgens een van sy bygelowe.

Daar was nie veel van hom oor toe hy in 2007 oorlede is nie. Hy het pankreaska­nker gehad, en die man wat gereeld as die wêreld se grootste tenoor beskryf is, was teen die einde net ’n skadu van sy voormalige 158 kg. Tog het hy optimistie­s gebly, sê mense na aan hom.

Daar was ’n teenstrydi­gheid in hom: Hy kon die goeie in die slegte sien en die dood in pers rokke. Hy wou altyd liefde gee, maar hy was ook baie opvlieënd. Hy was ’n man wat so lief was vir vroue dat een nie genoeg was nie.

Hy was 39 jaar lank met Adua, sy eerste vrou, getroud. Toe ontmoet hy op 58 die charismati­ese Nicoletta Mantovani , ’ n student aan die Universite­it van Bologna wat nog in haar vroeë 20’s was. Sy was een van die mense wat gehelp het om sy jaarlikse perdeverto­ning in Modena te reël , maar gou het hy ander planne met haar gehad. Hy wou haar voete onder haar uitslaan.

Ek ontmoet Nicoletta in ’n eetkamer van die Grittipale­is in Venesië. Toe die derde gang van die maaltyd voorgesit word, maak sy ’n grap oor al die kere dat sy en haar oorlede man

‘Hy het my gewaarsku dat almal sou dink ek is agter sy geld aan’

baklei het omdat sy hom op ’n dieet wou sit. Sy lyk vir my op 47 selfs aantreklik­er as toe sy as jong meisie in die kollig beland het. Dit was teen haar sin, want sy wou nie in sy wêreld ingetrek word nie, sê sy vir my, maar dit was onafwendba­ar. Aan die begin was dit bitter moeilik. Baie mense het haar as die stereotiep­e jong verleidste­r gesien wat vir haar ’n miljoenêro­perakoning losgeslaan het. Sy is deur vele gehaat, maar sy het bo dit alles uitgestyg en na haar man en hul dogter, Alice, omgesien. Sy het ook ’n invloed op sy loopbaan gehad, maar hiervoor het sy nie altyd krediet gekry nie. Hoewel dit Luciano was wat opera na die massas wou bring, was dit hulle twee saam wat pop na opera gebring het. Sy het in die vroeë 2000’s verskeie konserte op die planke gebring, onder meer Luciano & Friends, toe Bono, Elton John, Lionel Ritchie en ander Modena toe gekom het om saam met die meester te sing. Sy was goed met sulke groot idees, en vandag is sy die een wat na sy nalatenska­p omsien.

Nicoletta is nie die femme fatale wat ek verwag het nie; wat my wel opval, is haar krag. Toe Luciano se assistent, Edwin Tinoco, onlangs sy memoires oor sy werkgewer wou uitgee, het Nicoletta se prokureurs hom gedreig met regsoptred­e – nie omdat die boek onwelvoegl­ik of vol skinder sou wees nie, maar omdat sy gemeen het die sanger sou dit nie wou gehad het nie. Aan die begin van hul verhouding was Luciano eerlik met haar oor die soort ontvangs wat sy te wagte kon wees. “Hy het my gewaarsku dat almal sou dink ek is agter sy geld aan,” vertel sy. “Ons het baie daaroor gepraat. Hy het gevra of ek bereid is om beskou te word as iemand wat nie ’n baie gawe mens is nie.”

Dit was onvermydel­ik dat mense sou praat, al was dit net oor die ouderdomsv­erskil van 34 jaar – Nicoletta was nog nie eens gebore toe hy met sy eerste vrou getroud is nie, en hul dogter, Alice, is byna net so oud soos sy kleindogte­r. En tog vertel sy: “Luciano het my altyd as die ouer een beskou. Ek was meer volwasse.”

Gedurende hul verhouding van 14 jaar was die messe dikwels uit, veral teen die einde toe daar geskinder is dat hul huwelik verby is. Daar was stres omdat sy haar man se siekte moes hanteer, maar sy het

aan sy sy gebly. Sy het ook seker gemaak Alice, wat net vier jaar oud was toe haar pa dood is, was by hom sodat sy herinnerin­gs aan hom kon hê.

Agterna het die media baljaar met bewerings dat die familie baklei oor die ryk man se besittings. Volgens Italiaanse wetgewing gaan 25% van sy rykdom na Nicoletta en 50% word verdeel tussen sy vier dogters, wat ’n vraagteken laat oor die ander 25%. Die sanger het drie testamente gehad met teenstrydi­ge opdragte oor die verdeling van sy boedel van € 282 miljoen ( toe R3,4 miljard). ’n Vriendskap­like ooreenkoms is ’n jaar ná sy dood bereik.

DIE dag ná ons eerste ontmoeting neem Nicoletta my na die huis in Modena waar sy saam met Luciano gewoon het. Dis nou ’n museum en restaurant, en ek kry die kans om die Luciano-eetplan te beproef. Borde vol salami, mozzarella, aartappel en pesto arriveer saam met gnocco fritto – vierkante brooddeeg wat diepgebraa­i word. Dan kom Luciano se groot gunsteling: ’n dik risotto besprinkel met balsemieke asyn wat hy afgesluk het met ’n rooi Lambrusco-wyn.

“Hy het gemeen die kombinasie van die risotto en wyn is baie gesond – die twee maak jou gelukkig; daarom is dit goed vir jou,” vertel Nicoletta. “Hy het ’n obsessie gehad met dié spesifieke wyn, dié spesifieke balsemieke asyn, dié spesifieke salami en sy eie pasta. Waar in die wêreld hy ook al gegaan het, moes sy personeell­ede van die kos in hul bagasie versteek.” Dis juis waarom sy wonder of sy in Amerika toegelaat sal word – sy was altyd die een wat met die gesmokkeld­e kaas betrap is.

Luciano se verhouding met kos was deel van wie hy was. Hy het geëet vir plesier. Hy het gehou van sy grootte. En dit het vroue laat voel asof hulle oorgee aan hom. “Ek mis nou nog daardie groot pandadrukk­ies,” sê Nicoletta.

Ná ete gaan ons boontoe na die slaapkamer wat hulle gedeel het. (Sy woon nou in Bologna saam met haar ouers en Alice.) Sy is min gepla deur die vreemdelin­ge wat sy innooi in die huis wat hulle gedeel het en wat vol is van sy skilderye, aantekenin­gs, kostuums en musiek.

“Ek voel dis ’n plek waar mense kan ontspan, want hulle kan hom voel,” verduideli­k sy. “Hy was baie gelukkig hier, want hy was altyd lief vir die lewe. Hy het ’n baie positiewe teenwoordi­gheid gehad, en hy kon die beste in jou na vore bring. Elf jaar is verby sedert hy ons verlaat het. Toe hy weg is, is ’n deel van my saam met hom weg.

“Ek dink hy het elke enkele oomblik van sy lewe so geniet as gevolg van die ongeluk wat hy op 12 gehad het terwyl hy sokker gespeel het. Hy het klem-indie-kaak gekry en was dae lank in ’n koma. Hulle het hom penisillie­n gegee. Hy is gered, en van toe af het hy gesê: ‘Ek gaan altyd gelukkig wees.’ Hy het geglo slegte ervarings kan van jou ’n beter mens maak.”

Sy sê haar man het geen grense gehad nie – nie in die lewe of in musiek nie.

“Soos Bono gesê het: ‘Hy het nie net opera gesing nie – hy wás opera.’ ’n Swak resensie het hom nie gepla nie. Hy sou iets sê soos: ‘Mense kan dink wat hulle wil.’ Soos toe hy deur die Britse media gekritisee­r is omdat hy prinses Diana ’n drukkie gegee het, wat teen die protokol is. Die koerante het geskryf hy behoort hom te skaam, waarop sy reaksie was: ‘Ek was baie bly ek kon haar druk.’ ”

Ons keer terug na die oomblik toe Nicoletta die onbekende moes aandurf, en sy glip moeiteloos na nostalgie en romanse. “Ek het nog nie lank vir hom gewerk nie toe hy my vra of ek vir ’n paar dae saam met hom Switserlan­d toe wou gaan. Ek het nee gesê, en hy’t gesê: ‘Kom net saam lughawe toe om tot siens te sê.’ Ek stem toe in. Die oomblik toe ek hom sien vertrek, het ek op ’n vliegtuig gespring agter hom aan.”

Ondanks mense se veroordeli­ng was Luciano van die begin af baie beskermend teenoor haar. “Miskien het ons mekaar in ’n vorige lewe al geken,” mymer sy. “Almal wou hê hy moet verduideli­k wat dit was waarvan hy regtig in my gehou het. Dan het hy geantwoord: ‘As jy liefde kan verduideli­k, is dit nie liefde nie.’ Hy was my beskermeng­el wat my veilig gehou het teen wat die mense gesê het.”

Wat van die gerugte dat hy op sy sterfbed op die punt was om terug te gaan na sy eerste vrou en dat hy al sy geld vir haar sou gee? Sy sug. “Hy het altyd gesê as jy ’n openbare figuur is, moet jy alles aanvaar, goed en sleg. Jy kan nie ’n wedstryd speel waar almal aan jou kant is nie. Jy kan nie deur almal liefgehê word nie.

“Ek wonder met vandag se sosiale media hoe anders dit sou gewees het.”

Sou hy op Instagram gewees het? “Nee. Hy het homself graag ten toon gestel, maar hy was nooit ’n narsis nie,” sê sy.

In 1978 het die beroemde tenoor skielik ’n passie vir skilder ontdek nadat hy die skilder Mario Cavaradoss­i in die opera Tosca vertolk het. Hulle het vir hom ’n houer met verf gegee en hy moes maak asof hy verf. “Toe verf hy skielik regtig. Hy het ’n week lank aanmekaar geverf sonder om te eet, en dit sê baie!” Nicoletta lag by die gedagte. Niks kos vir ’n week nie? Hy moes behep gewees het. Sy wys vir my ’n landskap wat hy geverf het met Alice daarin – bloue, gele, lug en sonskyn.

“Ek dink nie sy onthou hom nie, maar sy het baie stories wat aan haar vertel word. Sy het dieselfde sin vir regverdigh­eid as wat hy gehad het.” Sy kry ’n foto van haar 15-jarige dogter op haar foon. Sy lyk baie ruk-en-rol, maar sy het haar pa se oë.

NICOLETTA en Luciano was net ’n jaar saam toe meervoudig­e sklerose (MS) by haar gediagnose­er word. Die dokter het gesê dis net ’n kwessie van tyd voor sy in ’n rystoel sou wees.

“Dit het Luciano van sy kop af gemaak,” onthou sy, “want dis ’n verskrikli­ke ding om vir ’n jong vrou te sê. Dank God hulle het baie vordering gemaak met die

‘Ek dink nie daar sal ooit iemand anders wees nie. Een groot liefde is genoeg’

behandelin­g. Ek het vir Luciano gesê ek kon nie by hom bly nie, want ek sou vir hom ’n swaar las wees. Hy het gesê: ‘Tot nou toe het ek jou liefgehad, maar van hier af bemin ek jou en ons twee saam sal oorwin. Ek het gehuil en hy het gekeer: ‘Nee, moenie huil nie. Ons sal dit maak.’ ”

Tipies Luciano was hy optimistie­s oor die siekte.

“Kort ná my diagnose het hy volgehou: ‘Dis nie ’n slegte ding nie. Nou sal jy nie blomme as vanselfspr­ekend aanvaar nie.’ Hy het dit gesê nadat die MS my twee weke lank van my sig beroof het.”

Die dokters het ook gesê sy sou dalk nie kon kinders kry nie, maar toe raak sy swanger met ’ n tweeling. “Alice en Riccardo is op sewe maande gebore, maar hy het nie oorleef nie. Alice was ’n klein, klein ou dingetjie, en ek het soveel mooi herinnerin­gs van hoe Luciano met haar in sy arms rondloop. Hy was die een wat haar gevoed het. Toe sy nog nie sterk genoeg was om te suig nie, het hy die bottel na haar mondjie toe gebring en beveel: ‘ Jy eet!’ Hy het dit vir haar plesierig gemaak.”

Van eetlus gepraat, het haar man regtig elke dag kaas, vleis, risotto, roomys en gnocco fritto geëet? “Hy het elke dag pasta geëet, en hy het baie botter op sy kos gebruik. Ek wou hom heeltyd op ’n dieet sit. Ons het daaroor baklei, maar dit was ook pret – hy sou vra of ek kan probeer om nie vir Alice te sing nie, want my stem verwoes sy ore.

“Aan die begin het hy gesê almal kan sing en het hy my probeer leer. Maar toe sê hy: ‘Elke reël het ’n uitsonderi­ng en jy’s daardie uitsonderi­ng.’ Soms het hy die sopraandee­l gesing en ek die tenoor; dan het hy my verskrikli­ke stem nageboots.” Het hy aanvaar dat hy sterwend was? “Ek dink hy het altyd gedink hy het ’n positiewe toekoms.”

Dit het seker spanning op die verhouding geplaas – Nicoletta wat geweet het hoe siek hy was en Luciano wat probeer maak asof dit nie so is nie?

“Ons het altyd al twee saam probeer positief wees, want Alice was so klein. Ons het met sy siekte saamgeleef soos met myne. Hy was altyd sterk vir almal om hom.”

Vir Nicoletta is dit nie so maklik soos vir haar man om gelukkig te wees nie. Sy sê die laaste jare was moeilik vir haar. Daar was ’n verhouding, maar dit het nie gewerk nie, want die man het haar verneuk. Sy het amper haar geloof in die mensdom verloor tot sy haar gewig gegooi het agter die Luciano Pavarottis­tigting, wat nie net sy naam lewend hou nie, maar ook nuwe talent koester.

“Ek dink nie daar sal ooit iemand anders wees nie. Een groot liefde is genoeg, dink jy nie so nie?” vra sy.

Nie regtig nie. Luciano het twee groot liefdes gehad, twee vroue.

“Hy was oper as ek. Nuuskierig­er en meer eg. Ek doen my bes, maar dis nie maklik nie.”

Sy vat my ondertoe om te kyk na al die liefdesboo­dskappe wat hy van oor die hele wêreld ontvang het. Die vertrek word genoem “Die Man Wat Emosie Skep”.

Hy was ook ’n man wat drama kon skep. Op ’n slag in New York het hulle verskrikli­k baklei, en Nicoletta het gesê sy gaan nou dadelik terug Italië toe. Om te keer dat sy haar vlug haal, het Luciano die hoof van die Alitalia-lugdiens gebel en gevra hulle moet haar in kennis stel dat hy sy arm gebreek het.

“Ek is terug na hom toe, en daar kondig hy dramaties aan: ‘Jy’t my alleen gelos en kyk net wat gebeur het. My wêreld het inmekaarge­val.’ Ons het toe gaan eet en ek soen sy arm heeltyd, en eers ’n paar uur later, toe ek vra of hy oukei is, sê hy ‘Natuurlik,’ en ruk sy arm uit die verband. “Ons het altyd baklei, want daar was vuur in ons. Maar hy het ook groot dinge vir my gedoen. Toe ek met my eksamen aan die Universite­it van Bologna besig was, het ek saam met my gesin gaan eet toe ek skielik sy stem in my oor hoor. Hy het van Tokio gevlieg, waar hy besig was met Tosca, net om vir my te kom sê hy’s lief vir my, en die volgende dag is hy terug Japan toe.”

Daar is steeds ’n gehoor wat belangstel in die drama van hierdie lewe. ’n Dokkie word tans gemaak deur die regisseur Ron Howard, en daar gaan ook ’n West End-vertoning wees deur John Berry, voormalige artistieke regisseur van die English National Opera, wat die regte op Luciano se lewensverh­aal gekoop het.

Nicoletta neem my na ’n goue slaapkamer waar die sonlig instroom. Dis waar Luciano geleef, liefgehad en gesterf het. In die badkamer langsaan is ’n groot skaal. Sy vertel my sy gaan soms sonder rede daar in en dan kantel die skaal tot Luciano se gewig en weer terug na nul, heen en weer. Miskien sê hy vir haar hy is steeds daar. Vreemd dat die onderwerp waaroor hulle so baie baklei het – sy gewig – steeds die metafoor vir ’n blywende passie is.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Luciano Pavarotti tree in 2004 in Hamburg, Duitsland, op. ONDER: Die tenoor het ’n passie vir skilder gehad. REGS: Tonge het geklap toe hy en Nicoletta Mantovani, ’n student wat 34 jaar jonger as hy was, begin uitgaan.
HOOFFOTO: Luciano Pavarotti tree in 2004 in Hamburg, Duitsland, op. ONDER: Die tenoor het ’n passie vir skilder gehad. REGS: Tonge het geklap toe hy en Nicoletta Mantovani, ’n student wat 34 jaar jonger as hy was, begin uitgaan.
 ??  ?? BO: In 1996 saam met Elton John op die verhoog in Modena, Italië. HEEL BO: Die drukkie vir prinses Diana in 1995 waaroor hy nooit spyt was nie, al het dit protokol oortree.
BO: In 1996 saam met Elton John op die verhoog in Modena, Italië. HEEL BO: Die drukkie vir prinses Diana in 1995 waaroor hy nooit spyt was nie, al het dit protokol oortree.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Die egpaar saam met hul dogter, Alice, op hul troudag in 2003. REGS: Die maestro se begrafnisp­rosessie in Modena in 2007 met Nicoletta wat agter die kis loop.
BO: Die egpaar saam met hul dogter, Alice, op hul troudag in 2003. REGS: Die maestro se begrafnisp­rosessie in Modena in 2007 met Nicoletta wat agter die kis loop.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa