Huisgenoot

Voorneme laat egpaar se vet smelt

’n Nuwejaarsv­oorneme het daartoe gelei dat dié egpaar saam 185 kg afgeskud het

- Saamgestel deur SHANAAZ PRINCE

DIS byna onmoontlik om te glo die twee mense wat vandag op foto’s glimlag, is dieselfde mense op die troufoto van drie jaar gelede. Op die troukiekie kyk die bruid en bruidegom liefdevol na mekaar, twee jong mense aan die vooraand van ’n lewe saam. Maar dit was ook dié nuwe lewe wat tot ’n groot ommekeer gelei het. Lexi en Danny Reed het hul leefstyl kort ná hul troudag heeltemal verander – en kyk net hoe lyk hulle nou!

Saam weeg die twee nou ’n verstommen­de 185 kg minder. Voorwaar ’n huwe- lik liksreis deur dik en dun.

Die egpaar van Te Terre Haute, Ind diana, het ’n int ternetsens­asie g geword nadat hulle d die verhaal van hul verslankin­gsreis aan aanlyn gedeel het. Deesdae het hulle meer as ’n miljoen volgelinge op Instagram.

Die foto’s van hul reis sedert Januarie 2016 is inspireren­d vir verslanker­s. Op een onlangse foto wys die egpaar selfs hoe hulle nou albei pas in een van die rokke wat Lexi destyds gedra het.

Lexi (27) het 142 kg verloor en daarna die skaal op 78 kg getrek. Sy mik steeds na haar doelgewig van 70 kg of minder.

Manlief Danny (30) het 43 kg verloor en sy doelgewig van 84 kg behaal; hy sorg nou dat hy dit so hou.

Boonop het hul prestasie aan elkeen ’n nuwe loopbaan besorg. Lexi het voorheen ’n administra­tiewe pos by ’n regsfirma beklee en Danny het gewerk by ’n firma wat optiese instrument­e maak, maar nou is albei bloggers wat ook aanlyn klere verkoop. Hul storie het al in koerante, tydskrifte en op TV verskyn, en hulle het oornag rolmodelle geword vir almal wat die kilo’s wil afskud.

Die twee is verwonderd oor hoe baie mense in hul storie belangstel. “Dis mal,” sê Lexi. “Ons het nie verwag om so raakgesien te word nie, maar dis regtig koel vir my en Danny om ons storie te kan deel.

“As ons iemand kan help, dan is dit wat ons wil doen.”

Lexi vertel haar lewe is makliker noudat sy byna twee derdes van haar destydse gewig afgeskud het. “Ek kan nou op ’n vliegtuig klim en my soos almal anders in ’n sitplek vasgespe.

“Ek kan bestuur sonder dat my maag aan die stuurwiel raak, my skoene en sokkies aantrek sonder om te sukkel, en saam met my man in sy kano vaar.

“Voorheen het ons net op die rusbank gesit. Ek kon skaars ’n blok stap of ’n trap

klim sonder om uitasem te wees. Nou ervaar ons al hierdie alledaagse dinge. Dis ’n nuwe lewe.”

DIE twee het mekaar in 2007 deur vriende ontmoet. Lexi was dadelik tot Danny aangetrokk­e. Sy was toe 16 jaar oud, maar het reeds 136 kg geweeg. Sy was selfbewus oor haar gewig en onseker of Danny ook aangetrokk­e tot haar sou wees.

“Ek het nooit verwag hy sou dieselfde voel nie, want ek was so swaar en lomp,” sê sy op Instagram. “Maar baie kuiers later het hy my gevra om sy meisie te wees, en hy het my nooit anders behandel nie.”

Lexi se grootte het nie vir Danny saak gemaak nie – haar innerlike skoonheid het hom so bekoor, hy het dit nie eens raakgesien nie, sê hy.

“Ek was toe net so gelukkig soos wat ek nou is,” voeg hy by.

Maar hul leefstyl was allermins gesond. Hulle het bedags gaan werk, huis toe gekom, die TV aangeskake­l en skaars die rusbank verlaat buiten om nog kos en koeldrank te gaan haal.

“Ons het basies elke aand omgeëet,” erken Lexi.

Toe hulle in Oktober 2015 trou, het Lexi 220 kg geweeg terwyl Danny die skaal op 127 kg laat trek het. Toe, kort ná hul troudag, kom die skok. Met hul wittebrood in Florida het die twee besluit om ’n entjie op die strand te gaan stap, maar Lexi kon beswaarlik ’n tree gee sonder om eers te gaan staan om asem te skep.

“Ek kon skaars saam met my man teen die strand afstap,” vertel sy.

Skielik het sy begin besef haar gewig kan ’n impak op hul lewe saam hê. “Ek het nie besef hoe baie my gewig ons as ’n paartjie teruggehou het nie,” sê sy.

Lexi se werk by die regsfirma het behels dat sy gestremde mense help om maatskapli­ke toelaes te kry, en sy het skielik besef as sy nie haar gewig onder beheer kry nie, kon sy een van hulle word.

“Ek sou die gestremde een wees wat van ander afhanklik is,” sê sy. “Dit het my oë laat oopgaan.”

Die egpaar het besluit hul voorneme vir 2016 sou wees om gewig te verloor.

Dié keer was Lexi vasbeslote. “My gewig was ’n lewenslang­e stryd,” sê sy. “Ek het alles probeer, maar wanneer ek gewig verloor het, het ek dit net weer aangesit.”

Danny was op skool aktief en het aan sport deelgeneem en skaatsplan­k gery, maar: “Toe ek eers met dié dinge ophou, het ek begin gewig aansit. En toe ek en Lexi in ons verhouding gemaklik raak, het ek nog vet aangesit.”

Die twee het mekaar belowe hulle sou binne ’n jaar saam 180 kg verloor en hul doelgewig teen Januarie 2017 bereik.

Hulle het op ’n vyfpuntpla­n ooreengeko­m: geen uiteet, kulkos, gaskoeldra­nk of alkohol nie – en vyf halfuur lange oefensessi­es per week.

“Ons het op die MyFitnessP­al-app van ons kos begin tred hou, vyf keer per week 30 minute lank op die elliptiese oefenmasji­en geoefen, ons porsies dopgehou en meer beweeg. Ons het ook ophou koeldrank drink en mikpunte gestel,” sê Lexi.

Toe die twee hul doelwit ’n jaar later bereik – en boonop 5 kg meer verloor het as wat hulle aanvanklik ooreengeko­m het – was hulle ekstaties gelukkig. Maar toe kom die vrees: Sal hulle dit kan volhou of gaan die kilo’s maar net weer aanpak?

Die twee was vasbeslote om met hul nuwe leefstyl te volhard. Deesdae sluit ’n dag se eetplan eier met ’n worsie of spek vir ontbyt in, hoender en broccoli vir middagete, salm, patat en maaskaas vir aandete, en piesang met grondboont­jiebotter of vrugte en neute om aan te peusel. Hulle voel beter as ooit.

Wat as ’n Nuwejaarsv­oorneme begin het, het toe ’n nuwe lewe geword – en gebly

LEXI en Danny is toegewy aan hul oefensessi­es. Hulle oefen tot ses keer per week saam in die gim. Danny doen kardioen gewigoefen­inge en Lexi hou van die elliptiese masjien en Zumba-klasse. Hulle gaan stap ook met hul honde, Oliver, Olivia en Octavia.

Maar hulle sou nie kon deurdruk sonder mekaar se steun nie. “Elke liewe dag van my reis was hy daar vir die bloed, sweet en trane,” sê Lexi. “Jy verdien iemand wat jou doelwitte ondersteun en jou liefhet ongeag jou grootte.”

Danny sê dit is maklik om Lexi lief te hê. “Sy was altyd ’n sterk, pragtige vrou aan die binnekant en ’n lig vir almal. Ek het op haar swaarste op haar verlief geraak en ek het haar nie op haar kleinste enigsins anders lief nie.”

Lexi het onlangs chirurgie ondergaan om 3 kg oortollige vel te laat verwyder wat ná haar gewigsverl­ies oorgebly het en weeg nou 75 kg.

“Ek het baie nekpyn van my vel gehad,” sê sy. “Ek moes dit laat verwyder, nie om kosmetiese redes nie, maar vir my gesondheid.”

Nou wil die egpaar die volgende stap van hul reis aanpak: met ’n gesin begin. Ouerskap was juis deel van hul motivering om gewig te verloor en hul leefstyl te verander, sê Danny. “Dit gaan nie oor die gewig wat jy verloor nie,” sê Lexi. “Dit gaan oor die lewe wat jy bykry.”

 ??  ?? LINKS: Lexi en Danny Reed toe hulle onderskeid­elik 220 en 127 kg geweeg het. ONDER: Die twee in die gim. LINKS ONDER: Van troudag tot nou die dag.
LINKS: Lexi en Danny Reed toe hulle onderskeid­elik 220 en 127 kg geweeg het. ONDER: Die twee in die gim. LINKS ONDER: Van troudag tot nou die dag.
 ??  ??
 ??  ?? ONDER: Gereelde oefening hou hulle op koers. LINKS ONDONDER: Hulle deel foto’s van hul gesgesonde maaltye aanlyn.
ONDER: Gereelde oefening hou hulle op koers. LINKS ONDONDER: Hulle deel foto’s van hul gesgesonde maaltye aanlyn.
 ??  ?? Danny en Lexi pas nou saam in een van Lexi se rokke. Hulle deel hul inspireren­de storie met hul meer as ’n miljoen Instagram-volgelinge.
Danny en Lexi pas nou saam in een van Lexi se rokke. Hulle deel hul inspireren­de storie met hul meer as ’n miljoen Instagram-volgelinge.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa