Bibi deel haar liefde vir dig en skape
Die eiesoortige Bibi, wat in ’n nuwe internetboekreeks te sien is, gesels oor Afrikaans, poësie en haar skaaptatoes
EERS het sy boek in die hand saam met ’n klomp uiteenlopende mense in die bed geklim, toe skertsend met die “ware naarhede” van ons samelewing geworstel en nou is sy die ster van haar eie internetreeks.
Boonop is dié eiesoortige aanbieder ’n bekroonde digter met ’n hele troppie skape wat as tatoes aan haar arms boer. En sy is dol oor lees; sommer baie. Toe Huisgenoot Bibi Slippers, “iets-indie-30” jaar oud, op ’n sonnige Kaapse dag by ’n koffieplek in Bakoven ontmoet, trek sy al by haar 104de boek vir die jaar. Dis sommer ’n hele paar boeke per week.
Net drie minute se stap van die koffierestaurant is ’n versteekte strandinhammetjie – een van haar gunstelingplekke om met ’n boek in die son uit te span, en die plek waar sy soms selfs in die winter ondanks die ysige water swem.
Beatrice Barbara – die doopname wat nie eens haar naastes gebruik nie – volg nog al die jare haar eie kop, en dit maak haar straks vandag een van die interessantste stemme in Afrikaans.
Met haar jongste projek kan sy opnuut haar liefde vir boeke met ander deel. Bibi Se Boekrak, vertel sy geesdriftig, is ’n webreeks wat aanlyn op kykNET se webtuiste leef. Nuwe uitsendings van dié video’s waarin sy oor boeke gesels, word elke Donderdag om 12:00 uitgesaai.
Die episodes word ook – op nievasgestelde tye – op die TV-kanaal uitgesaai.
Die gespreksforum oor boeke sal nog tot Maart 2019 te sien wees – ’n soort aanlyn boekklub met Bibi aan die stuur. “Mense sal my sê hulle het van dié en daai boek gehou en my dan vra watter soortgelyke boeke ek kan aanbeveel.”
Bibi het altyd ’n mening; altyd ’n aanbeveling. Die kans is immers goed sy’t juis iewers in daardie week met ’n nuwe boek deurnag.
KYKERS ken haar reeds as die boekwurm van VIA se destydse boekeprogram In die Bed met Bibi waarin sy in die bed in haar eie woonstel in Johannesburg met skrywers en leesgieriges oor boekedinge gesels het.
Sy was ook vroeër een van die komediant Schalk Bezuidenhout se “veldaanbieders” in kykNET se satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid.
Maar haar nuutgevonde TV-roem is eintlik ’n meevaller, want Bibi het aanvanklik gedink sy sou net ’n skrywer wees.
“Ek het nie besef ek sal op televisie wees nie. Maar dit het toe so uitgewerk,” vertel sy geamuseerd.
“Ek was bang, want ek sal myself nie juis as ’n komediant voorhou nie. Ek moes ’n manier kry om getrou aan myself te bly, en ek gebruik toe my ingesteldheid vir poësie; dat jy fyn en stip na die wêreld kyk en so vreemde dinge raaksien.”
Dié plaaskind van Empangeni in Kwazulu-Natal het haar eerste salaris as kopieskrywer in Nieu-Seeland verdien; daarna het sy by die literêre webtuiste LitNet aangesluit en as kodeerder, poësieen fiksieredakteur en eindelik as inhoudsbestuurder daar gewerk. Sy was ook tot onlangs ’n inhoudsregisseur van die kykNET-kultuurprogram Flits.
Haar vlymskerp debuutdigbundel, Fotostaatmasjien, wat in 2016 uitgereik en in 2017 met die Eugène Marais-, Elisabeth Eybers- en UJ-prys bekroon is, het vir Bibi se deurbraak in skrywerskringe gesorg. ’n Gelyknamige teaterproduksie gegrond op dié gedigte was op die planke op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en sy het sommer
self daarin gespeel ook.
Fotostaatmasjien is in ’n mate ’n boek wat spot met die feit dat “alles al gesê is”, vertel sy. Tog het resensente haar as ’n vars, nuwe stem in Afrikaans beskryf.
Bibi het B.A.-grade in beeldende kuns en tale aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch, waar haar digbundel gestalte gekry het.
Die oortrektrui wat sy vandag dra, is so sonneblomgeel soos die omslag van Fotostaatmasjien, haar wit T-hemp wemel van groen dinosourusse, haar romp is met skaakstukke versier, en haar bruingebrande bene (sy was onlangs in Zanzibar en Mosambiek) eindig in gemaklike rooi Asics-tekkies.
Sy dra ’n geelraambril wat sy afhaal wanneer sy haar arms vou en vorentoe leun om ’n punt te benadruk, en sy het 10 skaaptatoes aan haar linkerarm.
Dis dié Bibi wat ’n mens op TV en die internet sien, maar sy is ook stiller, meer teruggetrokke en ernstiger as wat ’n mens sou verwag.
Vanwaar die skaaptatoes? Hulle is gegrond op die Suid- Afrikaanse kunstenaar Nina Torr se werk, vertel sy. “Ek het met hanslammers grootgeword en was nog altyd baie lief vir skape. Ek het ’n troetelskaap, Wolraad, op my ouers se plaas – ook ’n hanslam, slim en die leier van my ma se troppie dorpers,” vertel sy. “My ma was vies oor die eerste tatoe, maar ek het binne drie weke nog een gekry, en toe kon ek nie ophou nie.”
Sy is bly In die Bed met Bibi trek nou met die heruitsending op VIA opnuut aandag. Heelparty mense het dit nou eers ontdek. Die titel gaan hoofsaaklik daaroor dat dit so lekker is om met ’n goeie boek in die bed te klim. “Dit was ook ’n grappie omdat my van regtig Slippers is.”
Dit was ’n “groot voorreg” om tussen die lakens met skrywers soos Deon Meyer en Marita van der Vyver te gesels, maar ’n onderhoud wat haar veral geroer het, was met Schalkie van Wyk (78), die diva van Afrikaanse liefdesromans.
“Sy’t met haar hondjie by my opgedaag en joga op my vloer gedoen en ons gewys hoeveel push-ups sy nog kan doen. Ek hoop om op haar ouderdom ook nog so vol lewe te wees!” NTUSSEN het sy weer aan gedigte begin werk. “Eintlik werk ek aan ’ n paar goed tegelyk – ’n mens kyk maar watter een vat.”
In van haar digwerk spot Bibi met sommige Afrikaanse hoofstroommusiek, maar sy is self “nogal erg oor ’n poptreffertjie” en skoffel heerlik saam op Kurt Darren se Kaptein. “Daar moet hier en daar net ’n bietjie aan die lirieke van Afrikaanse treffers gewerk word,” meen sy.
“Maar dit moenie al wees waarmee ons volkie vereenselwig word nie; ons moet ook ruimte maak vir ander soorte musiek.”
Oor sake van die hart is Bibi ’ n toe boek.
Om in die son te sit is vir haar die toppunt van saligheid. “En as dit naby die see kan wees, is dit ’n bonus. Ek’s ’n baie
low-maintenance- mens. Gee my net ’n boek en ’n sonkolletjie.
Hoe voel ’n gerekende lid van die nuwe geslag skrywers oor waarheen Afrikaans op pad is?
“Ek sê altyd: Moenie worry nie; skep net iets. Jy dra niks by deur net te wroeg oor die voortbestaan van die taal nie. Ek sien te veel goeie Afrikaanse stof . . . jong mense wat regtig nuwe grense verken.
“Ek kan verstaan dat mense bekommerd raak as ’n akademiese taal bedreig word, maar laer trek is nie die antwoord nie. Ons moet ook uitreik na al die ander landstale wat ook onder druk verkeer.”
‘Ek sê altyd: Skep net iets. Jy dra niks by deur net te wroeg nie’