Huisgenoot

Maak 2019 betekenisv­ol

Sien jy ná die vakansie op teen die nuwe jaar en al sy eise? Hier’s raad om elke dag vervullend en betekenisv­ol te maak

- Deur MARELIZE POTGIETER

DIE oujaar is op sy einde en 2019 is hier – dis tyd vir ’n skoon begin. Maar die gedagte dat daar weer ’n hele jaar voor jou uitstrek voor jou volgende behoorlike blaaskans, laat jou keel sommer toetrek.

Dan voel jy skuldig: Dit kan tog nie wees dat jy net vir die einde van die jaar lewe en die maande verbywens nie? Hoe kan jy elke dag aangryp eerder as om nou al die slapies te tel tot jou volgende lang vakansie?

“Die geheim is balans,” sê Cornelia Swart, ’n sielkundig­e van Pretoria. “Die lewe is nie 350 dae van uithou en aanhou tot Kersfees nie. Dit moet elke dag betekenisv­ol wees.” Om dit reg te kry, moet jy weet wat vir jou belangrik is en wat jou gelukkig maak, sê sy. Wees eerlik teenoor jouself, en besluit wat jou doel op aarde is en waaroor jy passievol is.

“Daar moet ’n balans wees tussen dit waarvoor jy lief is, waarin jy goed is, waarvoor jy betaal word en wat die wêreld nodig het.”

Almal het ’ n behoefte daaraan om soms van die hede se onaangenaa­mhede af te skakel en te ontsnap, sê Chris Prins, ’n sielkundig­e van Kaapstad. “Maar daar is dinge in die lewe wat deurlopend aandag moet kry. Ons moet meer in die hede lewe en aandag gee aan dinge wat werklik saak maak, onder meer jou verhouding­s met mense,” sê hy.

Kenners gee raad oor hoe jy kan maak om heeljaar lewensvreu­gde te ervaar noudat jy jou afgelope vakansie groet en terugkeer na die werklikhei­d van ’n nuwe jaar.

BLY DOELGERIG EN DANKBAAR

“Nuwejaarsv­oornemens kan jou gemotiveer­d en doelgerig hou en jou help om uit te sien na nuwe uitdagings,” sê Gerrie Pretorius, ’n berader van Pretoria. Maar jy moet eers selfonders­oek doen sodat jy verstaan wat vir jou belangrik is en hoekom jy sekere dinge wil bereik.

“Wanneer jy jouself verstaan, sal jou voornemens sterker en baie meer die moeite werd wees. Deurdink dit goed en hersien dit gereeld om vordering te behou. Gee jouself ook ruimte vir mislukking­s en teleurstel­lings.”

Hy stel voor jy skryf jou doelstelli­ngs en voornemens neer en kyk gereeld daarna om jou daaraan te herinner. So kan jy seker maak jy bly op koers.

Moenie net jou oë op jou doelwitte hou nie – erken ook die dinge wat jy bereik het en waarvoor jy dankbaar is. Skryf elke dag minstens drie dinge wat jy waardeer in ’n dankbaarhe­idsdagboek neer, beveel Gerrie aan. “Dit is ’n goeie oefening om jouself te herinner aan dié dinge waarvoor jy dankbaar moet wees, en dit help jou om perspektie­f te behou.”

ONTWIKKEL JOU BELANGSTEL­LINGS

Cornelia sê met al ons verpligtin­gs en verantwoor­delikhede vergeet ons dikwels van die dinge wat ons gelukkig maak en kleur aan die lewe gee. “Ons moet hierdie dinge herontdek en sorg dat ons tyd daaraan bestee.

“As jy nie weet wat jou passie is nie, dink ’n bietjie terug aan jou kinder- jare. jare Dit kan wees om iets kreatiefs te doen soos om stories te skryf, probleme op te los of enig iets te doen wat jou gelukkig maak.”

Chris beaam jou werklewe kan dikwels nie al jou belangstel­lings en talente bevredig nie.

“Daarom is stokperdji­es belangrik vir selfverwes­enliking. Jy ontspan en ervaar terselfder­tyd die bevredigin­g om iets skeppends te doen.”

Susan maan jy moet eers navorsing doen voor jy geld uitgee om die toerusting vir ’n stokperdji­e te koop. “Dikwels lyk iets van ’n afstand af maklik, maar as jy dit eers self doen, besef jy dis glad nie so maklik en lekker nie. Kies iets wat jou inspireer.”

BRING TYD IN DIE NATUUR DEUR

“As jy gereeld tyd in die natuur kan deurbring, sal dit jou help om te ontsnap en rustig te word,” sê Gerrie.

Susan sê dit is belangrik om jou bat- terye gereeld te herlaai in ’n omgewing weg van die stad se gewoel. “’n Plek waar jy kaalvoet in kontak kan kom met dit wat jy deur jou sintuie ervaar. As dit nie moontlik is nie, gaan stap net ná ’n reënbui kaalvoet op die gras en kyk wat dit vir jou gemoed doen.”

BELÊ IN JOU GESONDHEID

’n Mens besef eers hoe belangrik jou gesondheid is wanneer jy siek raak, sê Gerrie. “Dit is belangrik om ’ n gesonde leefstyl te handhaaf. Kyk na jou dieet, oefenplan en slaappatro­on, en bestuur jou stres.”

Cornelia sê dit is belangrik om deur die loop van die jaar ruskanse te neem. “Jy moet op ’n daaglikse, weeklikse en jaarlikse basis blaaskanse neem sodat jy nie teen die einde van die jaar halfpad dood is nie. Dit sal jou help om balans tussen werk en ontspannin­g te kry sodat jy emosioneel en fisiek doeltreffe­nd kan funksionee­r.”

En voor jy jou oë kan uitvee, het jy weer ’n goeie, gelukkige en suksesvoll­e jaar agter die blad.

Ons moet meer in die hede lewe en aandag gee aan dinge wat werklik saak maak

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa