Huisgenoot

Verhale: Die Tweede Nuwejaar

Moet elke Nuwejaar dan dieselfde lyk? Elke keer kies sy dieselfde soort man

- Deur KOOS KOMBUIS Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

WAAR het ek dié woorde al tevore gehoor, wonder Karli.

“Jy’s nie meer die man met wie ek getrou het nie.” Woorde uit haar eie mond. Woorde wat lomp en kwetsend val en op die teëlvloer tussen hulle breek.

Werner wat verwese in die kombuis staan, ongeskeer en oorgewig in sy kamerjas. Die aartjies van te veel brandewyn wat soos swamme om sy neus groei.

“Ons is nie getroud nie,” stribbel hy teë. Sy stem is rasperig van te veel sigarette.

“Ons woon al drie jaar saam,” sê Karli. Sy korrigeer haarself. “Ons hét op trou gestaan.” Die déjà vu is byna oorweldige­nd. Vier jaar gelede het sy in hierdie selfde kombuis gestaan, met presies dieselfde man voor haar, met dieselfde potsierlik­e boepens, dieselfde rooi-oog-babbelas, byna ’n week ná ’n Kersfees wat in alle opsigte net so verskrikli­k soos dié Kersfees was.

Sy naam was nie Werner nie. Sy naam was Ferdie. Maar eintlik was dit dieselfde man. “As jy so voel . . .” sê Werner. “Ja, ek voel so,” sê Karli emosieloos en draai om om die vertrek te verlaat. “Ek het nou gesien wie jy regtig is. Ek het gesien watter soort mens jy sou geword het as ons getrou het.”

Sy stap in die gang af en gaan staan dan in die middel van die sitkamer.

Uit die slaapkamer hoor sy geluide: sy reistas wat bo uit die kas gesleep en op die bed neergegooi word sodat die vere kraak. Die gebondel van klere.

Sy wag tot die voordeur oop- en toegaan. ’n Motordeur wat klap. Die enjin wat aangeskake­l word. Die buitehek wat geaktiveer word. Hy vertrek teen ’n hoë spoed met skreeuende bande, seker op pad na een van sy pelle toe. Seker ook klaar deur hul WhatsApp-groepie gereël.

Sy haal diep asem. In en uit. Kyk na die gemors om haar.

Die omgevalle Kersboom van Tweede Kersdag se gefuif. Die asbakkies op die vloer tot oorlopens vol stompies, party op die tapyt omgekeer. Linte en papier van oopgeskeur­de presente. Hy was bly oor die bottel duur hardehout wat sy vir hom gekoop het.

Dit was eintlik die idee dat hy naweekaand­e ’n spesiale sopie daarvan in die bypassende kristalgla­se skink. Terwyl hulle voor slapenstyd op die voorstoep sit en luister hoe die tarentale om hulle kwetter om slaapplek te kry in die hoë bome. Toe gaan suip hy dit alles in een nag saam met sy vriende uit. Nie die beste manier

Het sy te vroeg getrou? Sy het hom skaars drie maande geken. Sy was nog bitter jonk

om die Heiland se geboorte te vier nie.

Sedertdien antwoord sy nie haar foon wanneer haar ouers bel nie. Hulle is seker al rasend van kommer.

Sy is nie preuts nie. Sy hou self van partytjies. Voor Werner hier ingetrek het ná Ferdie se vertrek, het sy net mooi weer met al haar vorige vriende en vriendinne begin kontak maak wat sy moes afsweer ná haar eerste huwelik.

Het sy te vroeg getrou? Sy het hom skaars drie maande geken. Sy was nog bitter jonk. Sy was die tweede keer versigtige­r, het eers die verlowing aanhoudend uitgestel en haar voete gesleep toe dit by datum kies kom. Sy wou ’n herhaling van dieselfde fiasko voorkom.

Met ’n sug buk sy om die naaste stukkie kleefpapie­r van die mat af te trek. Nou vir die groot skoonmaak. Of dalk moet sy eers vir haarself ’n koppie tee maak, haar familie bel en alles vertel. En dan haar ou vriendinne in die hande probeer kry. Uitvind wie nog enkellopen­d is. Of enigeen van hulle vanaand vir Oujaarsaan­d sal kan oorkom. Al is dit net vir ’n glasie vonkelwyn en ’n potjie Krabbel of ’n ronde Netflix of iets.

Die patroon wat gedoem is om hom te herhaal.

Nog ’n vervloekte Kerstyd, nog ’n verdoemde verhouding. So gaan dit. En so is haar lewe. As ek ’n Nuwejaarsv­oorneme het, sê sy vir haarself, sal ek dit vanaand aankondig. En dié keer sal ek daarby hou. Om single te bly tot in alle ewigheid. Sy kyk verskrik toe sy ’n druppel vloeistof op die tapyt voor haar sien val.

Haar eie trane.

PRESIES ’ n uur nadat die kerkklok om middernag geslaan en klappers en motortoete­rs buite begin rumoer het, gebeur die wonderwerk. Hy kom terug. Dis die oomblik toe sy dit die minste verwag. Die oomblik toe sy op haar weerloosst­e is. Twaalfuur was alles nog oukei. “Op ’n nuwe jaar!” het haar beste vriendin, Jani, uitgeroep. “Op ’n lewe sonder mans!”

Jani is, soos sy, in haar laat 20’s en nog enkellopen­d. Sy gee alles vir haar loopbaan en het eenvoudig nie tyd vir dink aan ’n gesin begin nie.

Oorkant die tafel, aan die ander kant van die bord Krabbel, was Vera al ietwat gekoring. Sy’t haar glas hoog in die lug gehou en hardop uitgeroep: “Vir altyd vriendinne!”

Hulle het al drie opgespring en mekaar drukkies en high fives gegee terwyl hulle glasies klink.

Karli het vroeër die dag ’n wonderwerk vermag om haar huis skoon te kry. Van bo tot onder. Toe het sy, soos sy haarself belowe het, ’n koppie tee gemaak en almal gebel wat sy ken. Vir hulle vertel Werner is weg.

“Sjoe, dis hartseer, maar dalk ’n goeie ding,” het Fransien gesê. Sy is intussen getroud. “Dis amper dieselfde soos met Ferdie daardie jaar ná Kersfees.”

“Wat is dit met mans?” het Greta gesê. “Die oomblik wanneer hulle dink hulle het jou, word jy hul slaaf, en hulle verander in vet

slobs wat net sit en TV kyk en suip en hulself heeltemal laat gaan. Ek is streng met Jaco, maar gaan dit help? Ek sien al klaar die tekens.”

Op die ou end kon net twee van haar vriendinne vir Oujaarsaan­d oorkom. Die twee wat nog enkellopen­d was. Maar dit was oukei.

Hulle het ’n heerlike aand gehad en Karli het twee uit die drie Krabbel-spelle gewen.

Sy het beter gevoel. Dit was net wat sy nodig gehad het.

Met ’n effense beklemming het sy gedink: Nou-nou gaan hulle huis toe en dan is ek weer alleen.

Alleen. Vir altyd. Vir die res van die lewe. Want so het sy besluit. Die twee het begin aanstaltes maak. “Dit was ’n wonderlike aand, Karli, maar ek moet in die kooi kom.”

“Baie dankie, Karli-lief, en hou nou by jou voorneme. Ons gaan jou herinner.”

Hulle stap by die kleinhekki­e uit omdat Werner hier weg is met die groot hek se enigste afstandbeh­eerder – onnadenken­de gek. Haar vriendinne moes in die straat parkeer. Sy staan en kyk hoe hulle ry. Op die stoep, met haar glas vonkelwyn nog half gedrink in haar hand.

Sy neem ’n tree terug. Dis asof haar bene onder haar wil swik. Sy gaan sit op die tuinbank agter haar.

Dieselfde bank waarop sy en Werner saans sit en gesels en droom het van ’n toekoms saam. Aan die begin, toe hul verhouding nog vars en vol passie was. Sy knip haar oë teen die trane. So weggevoer is sy deur haar eie hartseer, sy hoor nie die motor nader ry nie, sien nie die hek oopswaai nie, kom nie agter iemand is by haar voor hy vlak voor haar staan nie. “Karli.” Die stem is bekend. Sy kyk na hom. “Ek het besef ek het nog jou hek se afstandbeh­eerderder. Toe bring ek dit terug.”

Hy gee ’n tree nader. “Gaan jy vir altyd net daar bly sit of gaan jy my ’n glasie vonkelwyn aanbied?”

DIS onmoontlik. Sedert sy hom laas gesien het, het hy seker 12 kg afgeskud. Sy hare is netjies gekam. Sy oë is helder, en in die lig van die stoep kan sy sien die brandewyna­artjies wat om sy neus was, is weg.

Sy staan op. Sy weet nie wat om te sê nie. “Die bottel is leeg, maar ons kan dié paar slukkies deel.” Sy hou die glas na hom uit.

“Ek was verkeerd, Karli. Ek het jou van jou vriende weggehou. Ek het jou soos my vloerlap behandel. Ek het toegelaat dat dit met my gebeur wat met te veel mans gebeur. Ek het lui geword, myself laat gaan en . . . ek is so jammer.

“Die afgelope drie jaar het ek die stukke van my vermorste lewe probeer optel. En na my gesondheid gekyk.”

Hy neem ’n klein slukkie uit haar glas en gee dit terug.

“Toe, vanaand, het die verlange na jou my oorval. Ek het gewonder, het ek dalk nog ’n kans? Kan ons weer probeer? Of het jy ’n beter man ontmoet? As jy het, sal ek dadelik weer gaan. Karli, dis my verdiende loon.”

Iewers slaan die kerkklok eenuur; die eerste uur van die nuwe jaar.

Sy vat die laaste slukkie. Sit die glas neer op die stoeptafel­tjie. Steek haar arms uit. En antwoord met ’n laggie in haar stem: “Ons kan weer probeer, Ferdie.” En dan, in ’n baie kwaai stem: “Maar hierdie keer moet jy in jou spoor trap!”

Ver weg skrik ’n tarentaal vir iets en begin kwetter terwyl Karli en haar gewese man in mekaar se arms val en mekaar styf, styf vashou.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa