Mag Ek Maar?
So het ’n man nog nie met haar gepraat nie – die dokter se simpatieke vraag laat die geskende vrou se oë vol trane skiet
SELENA betrap die ontvangsdame dat sy oor die toonbank na haar loer. Sy glimlag. Kan sy haar kwalik neem? Dis nie aldag dat iemand met ’n wit kaftanagtige kamoefleer-uitrusting in Johannesburg rondloop nie – net ’n skreef oop oor die oë.
Die ontvangsdame klink verleë. “Dr. Frederik sal nie lank wees nie.” “Doodreg. Ek is altyd vroeg.” ’n Kort stilte heers voor die ontvangsdame weer praat. “Ek hoop nie u gee om dat ek vra nie. Behoort u tot . . . die een of ander organisasie? Ek bedoel die . . . kopbedekking.”
“Nee, ek gee nie om nie. En nee, ek behoort nie tot ’n organisasie nie.”
Selena wil lag. Hoekom dink die ontvangsdame nie aan die eerste beste rede nie? As iemand met ’n buitengewone liggaamsbedekking in ’n plastiese chirurg se spreekkamer instap, hou die rede heel waarskynlik met sy beroep verband.
“Dit was ’n ongeluk wat ’n deel van my gesig, nek, arm en bobeen beskadig het.”
“O, ek is so jammer! Hoe dom van my. Vergewe my.” “Toemaar, dis mos nie jou skuld nie.” Selena wonder skielik hoekom sy na ’n “ongeluk” verwys het pleks van die feit dat haar besitlike verloofde haar met kookwater gegooi en toe vasgedruk het sodat die skade behoorlik kon indring. Dankie Vader vir die paniekknoppie binne bereik wat haar sekuriteitsfirma laat reageer het, anders sou die brandwonde nog erger gewees het.
Die “briljante psigiater” dr. Francis Beukman dien nou tronkstraf uit en sy slagoffer, die plastiese chirurg Selena Labuschagne, loop “los” rond – dit waarvan hy haar deurlopend beskuldig het. “Jy is los! Jy het my nie lief nie! Ek kan jou nie vertrou nie!”
Terugskouend wonder Selena hoe sy die verhouding drie jaar lank kon volhou. ’n Mens sou dink ’n intelligente volwassene sal verantwoordelikheid vir sy eie lewe aanvaar – veral iemand wat ’n studie van die menslike psige gemaak het. Maar sy moes telkens saam met hom sy grootwordjare fynkam vir redes hoekom hy kort-kort nes ’n besetene die kluts kwytgeraak het. Haar poging om hom te oorreed om berading te kry was die sneller vir sy gewelddadige aanval op haar.
Selena maak haar oë toe en dwing haar gedagtes weg van die slegste tyd in haar lewe. Haar oë! Gelukkig het hy haar oë gemis, anders was sy boonop werkgestrem.
Nou sit sy in Frederik Fürstenberg se spreekkamerontvangs. Sy voel opgewon-
Hy was lank en het sterk gelyk, nie soos ’n liggaamsbouer nie, eerder soos ’n jagter
de om hom weer te sien nadat sy twee weke lank haar beroep as’t ware in sy skaduwee beoefen het.
ONTMOET twee van u landgenote,” het die Franse verteenwoordiger van die Smile-stigting hulle op die Kinshasa-lughawe aan die leier van hul groep, Frederik Fürstenberg, voorgestel.
Frederik se glimlag was spontaan en Selena het opeens na die twee weke in die Kongo uitgesien. ’n Jaar ná die aanval was sy onverskillig toe haar kollega en vriendin Katryn voorstel dat hulle aansoek doen om vir die Suid-Afrikaanse Smile-stigting in die Kongo te gaan werk. Wat maak dit saak waar? Wat maak enigiets saak? Hoekom het sy nie gesterf nie? Sy het vir haar gedagtes geskrik.
Klaarblyklik het sy nie net haar aantreklike voorkoms ingeboet nie; haar persoonlikheid het ook ’n knou gekry. Haar geesdrif vir die lewe het verdamp. Was dit nie vir haar ouers, haar broer en Katryn nie, sou sy waarskynlik haar lewe geneem het.
“Dr. Fürstenberg, ontmoet dr. Katryn van Niekerk en dr. Selena Labuschagne,” het die Fransman sy bekendstelling voortgesit. “Julle gaan in dieselfde hotel tuis. Ná ontbyt sal julle vervoer word na die kliniek waar julle sal werk en saans sal die bussie julle weer aflaai.”
Terug in Suid-Afrika het Selena aan Frederik bly dink. Veral sy stem het haar bygebly – welluidend en gerusstellend. Dit het haar opgeval met hoeveel vertroue die pasiënte na hom bly kyk terwyl die tolk sy woorde oordra.
Die drie Suid-Afrikaners het net die eerste aand ná hul aankoms in die hotelsitkamer gesels. Daarna was die werkure net te lank; die werk te uitmergelend. Maar om babas, kinders en volwassenes deur middel van operasies te help om oop verhemeltes te herstel, asemhalingsen slukfunksies werkend te kry, voorkoms te verbeter en menswaardigheid te herstel, was vir almal onuitspreeklik verrykend en vir haar veral terapeuties.
Selena onthou haar eerste indruk van Frederik. Hy was lank en het sterk gelyk, nie soos ’n liggaamsbouer nie, eerder soos ’n jagter. Sy oë was baie blou en sy ligbruin hare wild en oneweredig verbleik. Terwyl hy ’n wit katoenserp uitgehaal het, het hy hulle begin vertel wat hulle te wagte kan wees. Dit was die soveelste keer wat hy vir die stigting gewerk het.
Selena het hom geboeid dopgehou terwyl hy die doek vou, sy hoed afhaal, dit om sy kop drapeer sodat die doek agter oor sy nek hang, en weer die hoed opsit. Hy het in Selena se oë geglimlag. “Die son is ons vriend en vyand in Afrika.”
KATRYN het ná hul terugkoms in Suid- Afrika bly neul. Selena moet nou daarvan werk maak om rekonstruktiewe chirurgie te laat doen. “Ek het Frederik gegoogle en hy is een van ons bestes. Boonop praktiseer hy hier in Johannesburg. Waarvoor het jy skadevergoeding gekry? Jy kan nie vir die res van jou lewe onder wit gewade wegkruip nie.”
Selena het ’ n verwysing van ’ n velspesialis gekry en ’ n afspraak by dr. F. Fürstenberg gemaak.
“Mevrou, u kan deurgaan,” onderbreek die ontvangsdame haar gedagtes.
Selena is skielik senuagtig. Sy sien geweldig daarna uit om hom weer te sien, maar sy voel ook bewerig. Af by die gang. Dan klop sy liggies.
“Binne.” Die welluidende klank bekoor haar weer. Sy aarsel voor sy die deur oopmaak. Toe hy opkyk, staan Frederik onmiddellik op en sy glimlag spel blydskap.
“Selena!” Hy kom agter sy lessenaar uit met sy arms uitgestrek. Hy vat haar om haar skouers en druk haar liggies teen hom aan. “Ek het gewonder of die S. Labuschagne dalk jy kan wees, want jy het nie jou dokterstitel gebruik nie.”
Selena voel hoe sy bloos en toe skiet haar turkoois oë vol trane. Wat gaan met haar aan? Hy is haar toekomstige dokter, nie haar geliefde nie.
“Mag ek maar vir jou sê hoe bly ek is om jou te sien?” Selena se stem is gesmoord. “Jy mag.” “Ek was van plan om die stigting te bel om jou op te spoor, want ek wou jou weer sien. Ek wil jou beter leer ken, Selena – nie net as my pasiënt nie.”
Ná ’n kort stilte praat sy eerste. “Sal dit nie ’n probleem skep nie?” “Wat?” “’n Etiese probleem. As . . . as jy nie net professioneel by my betrokke raak nie?”
Hy kyk lank na haar. “Kom sit asseblief hier op die ondersoektafel. Ek was solank hande. Jy hoef niks uit te trek nie.”
Toe hy voor haar staan waar sy op die harde bed sit, vra hy weer voor hy sy hande uitsteek: “Mag ek maar?”
’n Snak ontsnap oor Selena se lippe en sy knip haar oë teen die trane wat opwel. “Wat is fout, Selena?” Haar antwoord kom stotterend. “Ek . . . is nie daaraan gewoond dat ’n man dié woorde gebruik nie. Die . . . skade aan my liggaam is ’n bewys daarvan.”
Hy wag tot sy haar emosie onder beheer het voor hy die kopbedekking versigtig oplig. Die regterkant van haar fyn gesig is onbeskadig, maar aan die linkerkant trek die verfrommelde vel van wang, nek en boarm die gesig in ’n gespanne gruwelgrimas. Hy lig sy hand op en raak aan die verskrompeldheid.
Selena wil terugdeins toe sy blou oë indringend op die letsels fokus. Sy self vermy dit om daarna te kyk.
Dan hoor albei die dringende biepgeluid van sy interkom.
Frederik kyk op. “Wag, asseblief. Dis die teater. Ek sal nie langer as vyf minute wees nie.” Hy staan vinnig op en trek die deur tussen die spreekkamer en die ondersoekkamer agter hom toe.
Selena trek haar kopbedekking reg en staan op. As sy dit nie mis het nie, lei die ander deur na die gang. Sy sal die hysbak ongesiens kan bereik. Sy wil nie sien hoe die sagtheid in sy oë na afsku verander nie. Sy sal dit nie kan verduur nie.
Buite hoor Selena iemand wat agter haar hardloop, maar sy hou aan met stap.
“Selena,” hoor sy Frederik. “Moenie weer verdwyn nie. Ek wil help.” Selena gaan staan. “Ek het nie hulp nodig nie.”
“Selena, kyk na my.” Hy neem haar aan haar skouers en draai haar om sodat sy na hom kyk. “Glo jy in die noodlot?” “Dalk.” Haar stem breek. “Ek glo daaraan. Ek glo die swaar ding moes met jou gebeur sodat ek jou kon ontmoet.”
Ná ’n lang oomblik vra sy: “Wil jy my dan steeds beter leer ken?”
“Ek wil. Ek wou al van die eerste dag af – op die lughawe in Kinshasa.”
Hy trek haar nader en soen haar op haar oë.
“. . . te lelik.” Haar stem is skaars hoorbaar.
“Nee. Maar laat my toe om jou te help heelmaak.”