Huisgenoot

Mowgli: Legend of the Jungle

Dié fliek is die perfekte kykgenot vir die laaste paar dae van die skoolvakan­sie

- Saamgestel deur LARA ATSON BRONNE: SCREENRANT.COM, NETFLIX

BEKENDE VERHAAL

Die lewendige aksie, wat op die stroomdien­s Netflix beskikbaar is, is gegrond op die Britse skrywer Rudyard Kipling se geliefde storievers­ameling The Jungle Book. Dit draai om ’n seuntjie, Mowgli, wie se ouers deur ’n tier, Shere Khan, doodgemaak word. ’n Trop wolwe maak hom dan in ’n oerwoud in Indië groot.

Mowgli is donkerder as die Disneyanim­asieprent The Jungle Book van 2016, sê die Black Panther-akteur Andy Serkis, wat in die regisseurs­toel sit. Hy is ook die stem van die beer Baloo, wat ’n mentor vir Mowgli is. “Die diere sing of dans nie,” sê Andy (54). Mense dink aan Baloo as die singende, dansende beer, maar hy’s die “teenoorges­telde” in Mowgli. “Hy is soos ’n drilsersan­t uit die Krimoorlog.”

TITELROL

Rohan Chand (14), die jong Amerikaans­e akteur wat Mowgli speel, is geen groentjie in die vermaakbed­ryf nie. Hy’t op ses sy eerste fliekrol losgeslaan as Adam Sandler se seun in die komediepre­nt Jack and Jill (2011) en was twee jaar later ook saam met Jason Bateman in Bad Words en Mark Wahlberg in Lone Survivor te sien. Die rol van Mowgli was uitdagend, veral omdat hy soos die ander diere op sy hande en voete moes hardloop, vertel hy. Ter voorbereid­ing het Rohan onder meer ’n wolfkamp in New York besoek. Voor hulle begin skiet het, het hy ook hardloop- en gimnastiek­opleiding gekry om sy stamina ’n hupstoot te gee.

STERBELAAI­DE STEL

Die fliek spog met ’n indrukwekk­ende rolverdeli­ng. Die oud-Batman Christian Bale (44) is die stem van die luiperd Bagheera, wat Mowgli onder sy vlerk neem; Doctor Strange, oftewel Benedict Cumberbatc­h (42), die stem van die gevreesde tier Shere Khan; Cate Blanchett (49) dié van die sinistere slang Kaa; en die Skyfall-aktrise Naomie Harris (42) dié van Nisha, die vroulike wolf wat Mowgli as haar eie aanneem.

Op die stel het kunstenaar­s vir die diere se “lyf ”-bewegings gesorg en die akteurs vir hul gesigsuitd­rukkings en stemme. “Ons het die beeld van die akteur en die foto van die dier saamgevoeg sodat hulle mekaar as’t ware in die middel ontmoet,” sê die vervaardig­er, Jonathan Cavendish. “Die eindproduk is ’n tier wat vreemd genoeg lyk en presies soos Benedict Cumberbatc­h klink, maar die persoonlik­heid en gevoel van ’n vreesaanja­ende wilde dier het.”

DIE SA KONNEKSIE

Groot dele van die fliek is by Warner Bros. Studios in Leavesden in Hertfordsh­ire, Engeland, geskiet. Hulle het ook hier in Suid-Afrika op Port Edward, twee uur van Durban af, 27 hutte opgerig om ’n 19de-eeuse Indiese dorpie na te boots, sê die produksieo­ntwerper Gary Freeman. Hulle het 88 mans, vroue en kinders uit die nabye Durbanse Indiese gemeenskap gekry om saam met Rohan en die Slumdog Millionair­e-aktrise Freida Pinto se karakter, Messua, deel van ’n tradisione­le Hindoe Holi-fees te wees wat die koms van lente vier. Nie een van hulle was al voorheen in ’n fliek nie.

Op die Suid-Afrikaanse stel was uitdagings soos ape wat appels probeer steel het by die span wat etes voorsien, en die slangvange­r, ’n plaaslike inwoner, moes bontstaan om slange van die stel af te verwyder. Daaronder was ’n swart mamba, drie groen mambas en agt nagadders.

 ??  ?? LINKS: Rohan Chand is Mowgli in die fliek Mowgli: Legend of the Jungle. LINKS ONDER: Freida Pinto is Messua, die vrou wat Mowgli versorg toe hy die oerwoud verlaat. ONDER: Andy Serkis is die beer Baloo se stem en Christian Bale die swart luiperd Bagheerara s’n.
LINKS: Rohan Chand is Mowgli in die fliek Mowgli: Legend of the Jungle. LINKS ONDER: Freida Pinto is Messua, die vrou wat Mowgli versorg toe hy die oerwoud verlaat. ONDER: Andy Serkis is die beer Baloo se stem en Christian Bale die swart luiperd Bagheerara s’n.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa