POLITIEK KORREK? NIE EK NIE!
Stommerik, preker of kwaadstoker? Wie is die omstrede professor Jordan Peterson wat die wêreld aan die praat het?
’NJAAR het al verloop sedert sy tweede boek soos ’n bom op die wêreldtoneel gebars het – en steeds veroorsaak dié Kanadese akademikus se uitlatings ernstige verdeeldheid.
Noem die naam Jordan Peterson en daar is geen draadsitters in die geselskap nie – óf jy is gaande oor hom óf jy kan hom nie verdra nie.
Sy aanhangers aanbid hom as ’n vryheidsvegter teen politieke korrektheid. Sy kritici verwerp sy sienings oor kulturele en maatskaplike sake as konserwatief, neerhalend, diskriminerend en selfs gevaarlik.
Maar een ding is seker: Sy boek 12 Rules for Life – An Antidote to Chaos het die omstrede sielkundige skatryk gemaak nadat dit in Januarie 2018 gepubliseer is. Verkope die afgelope jaar beloop minstens 2 miljoen en dit was die topverkoper in Kanada, Amerika, Duitsland, Frankryk en Australië.
Tydens dié charismatiese spreker se boektoer na 45 stede in Noord-Amerika en Europa het sowat 200 000 mense na hom gaan luister. Die kaartjies het tussen R980 en R2 800 elk gekos.
G’n wonder sy persoonlike fortuin is teen Junie verlede jaar op sowat R21 miljoen beraam nie.
Dit gaan so goed met Jordan se geldsake dat hy sy sielkundepraktyk en professorstoel aan die Universiteit van Toronto prysgegee het. Hy wy hom nou voltyds toe aan sy “veldtog vir maatskap- like verandering”. Sy doelwit, meen kritici: ’n samelewing waarin net mans regte geniet.
In YouTube-video’s betreur hy juis die lot van jong wit mans wat smag na “’n wêreld waarin hulle nie as onderdrukkers beskou word nie”.
Dié “kulturele kryger”, soos hy al genoem is, is ’n meester van selfbemarking. Sy video’s op sy YouTube-kanaal is al meer as 65 miljoen keer gekyk. Hy was op feitlik elke groot internasionale TVkanaal en geselsprogram: CCN, Fox News, BBC, Sky News, Tucker Carlson Tonight, Real Time with Bill Maher, noem maar op.
Boonop gedy hy onder fel kritiek. “Ek het my kop op die gunstigste tyd in ’n byenes gesteek,” was sy reaksie toe die Channel 4 News-aanbieder Cathy Newman hom ’n “aanhitser” noem.
Onder sy aanhangers tel uiteenlopende groepe wat dikwels nie om dieselfde vuur sit nie: nasionaliste, konserwatiewes en ateïstiese liberaliste.
“Die invloedrykste openbare intellektueel in die Westerse wêreld,” noem ’n rubriekskrywer in The New York Times hom.
Maar volgens sy kritici is hy ’n vals profeet, ’n verregse wat haatspraak en onverdraagsaamheid as intellektuele debat probeer verdoesel.
“Godsdiens is vir die onkundiges, swakkes en bygelowiges,” verkondig hy.
Wit bevoorregting? “Dis ’n Marxistiese leuen.”
‘Ek het my kop op die gunstigste tyd in ’n byenes gesteek’
Die onderdrukking van vroue deur die patriargie? “Nonsens; dis ’n skrikwekkende teorie.”
En waar sy menings om die etenstafel of braaivleisvuur bespreek word, woed ’n hewige debat gou-gou – en partykeer ook sommer ’n vreeslike gestry.
JORDAN was een van drie kinders en het in ’n konserwatiewe huishouding op Fairview, ’n afgeleë dorpie in Kanada, grootgeword.
Dit was waarskynlik te danke aan sy streng onderwyserpa, Walter, en bibliotekaresse-ma, Beverley, dat hy van kleins af die boeke van skrywers soos George Orwell, Aldous Huxley, Aleksandr Solzhenitsyn en Ayn Rand verslind het.
Reeds as kind het hy sterk menings gehad. In sy Protestantse Sondagskool was hy in die sop omdat hy Die Bybel bevraagteken het.
As tiener het hy ’n ruk lank vir die liberale Nuwe Demokratiese Party in Kanada gewerk. Dit was die begin van sy ontnugtering met liberaliste, wat hy in die woorde van George Orwell beskryf het as “the intellectual, tweed-wearing middle class socialists . . . who didn’t like the poor, they just hated the rich”.
Ná skool het hy politieke wetenskap en Engelse literatuur studeer voor hy ’n brugjaar in Europa deurgebring het. Hier het hy hom verdiep in die werk van denkers soos Carl Jung en Friedrich Nietzsche en ook die oorsake van die Koue Oorlog en Europese totalitarisme bestudeer. Met sy terugkeer na Kanada het hy ’n doktorsgraad in kliniese sielkunde aan die McGill-universiteit in Montreal behaal.
Sy vrou van die afgelope 30 jaar, Tammy Peterson née Roberts, het saam met hom op Fairview grootgeword. Tammy was vroeër ’ n feminis en het glo op 13 gesê as sy eendag trou, sal sy nie haar man se van gebruik nie. So vertel Jordan altans in een van sy video’s.
Maar toe hulle in 1989 trou, het hy haar geen keuse gelaat nie. Tammy het ’n graad in kinesiologie en is ’n opgeleide masseuse met haar eie praktyk in Toronto. Die egpaar het twee volwasse kinders, Julian en Mikhaila. Hulle het ook een kleinkind.
Die gesin het in die 1990’s ’n paar jaar lank in Boston, Massachusetts, gewoon, waar Jordan ’n sielkundedosent aan die Harvard-universiteit was.
In 1998 het hulle verhuis na Toronto, Kanada, waar Jordan ’n praktyk as ’n kliniese sielkundige geopen het. Hy het ook sielkunde aan die Universiteit van Toronto begin doseer en later ’n professor geword.
Sy eerste boek, Maps of Meaning – The Architecture of Belief, is in 1999 gepubliseer. Dit het gehandel oor die struktuur van oortuigings en mites. Maar net 500 eksemplare is daarvan verkoop.
Toe kom die groot wending in September 2016 toe Jordan ’n reeks van drie video’s op YouTube laai. Die titel? Professor against Political Correctness.
Daarin het hy uitgevaar teen voor- gestelde nuwe Kanadese menseregtewetgewing wat geslagsdiskriminasie teen mense in die LGBTQI- gemeenskap verbied. LGBTQI staan vir lesbies, gay, biseksueel, transgender, queer en interseks.
Hy was ook omgekrap oor die universiteit se verpligte opleiding om studente onbevooroordeeld te maak.
Die video’s het studentebetogings teen Jordan uitgelok en die universiteitsowerheid het hom gelas om sy “diskriminerende agenda” te staak. Die nuwe Kanadese wetgewing is aanvaar, maar vanweë sy videoreeks het Jordan in die kollig beland en daar gebly.
Sy nuwe “loopbaan” as omstrede messias was onderweg – en binne twee jaar het hy in die geld gerol.
“Ek wil nie na die universiteit toe terruggaan en kursusse vir 20 of 50 men- se aanbied nie, want dit sal net dom wees,” het hy in ’n onlangse onderhoud aan Washington Post gesê.
Hy glo hy bereik nou ’n veel groter gehoor en kan sy invloed meer gebruik. Sy volgelinge – hoofsaaklik wit en manlik, hoewel Jordan beweer 10% van hulle is vroue – prys hom juis soms aanlyn dat hy hul lewe verander het.
Jordan sê kritici verwar sy sienings met ’n verregse wêreldbeskouing en hou vol hy is bloot ’n “outydse Britse liberalis”.
Maar hy is duidelik nie van plan om ’n wag voor daardie mond van hom te plaas nie. Hy sê: “Dit voel asof ek ’n reusegolf ry. Dit kan alles ineenstort en my meesleur, of ek kan aanhou om dit te ry.”
JORDAN se aanhangers raak soms so opgesweep dat hulle sy kritici met haatpos bestook en fisiek dreig.
Nadat Cathy Newman hom oor sy diskriminasie teen transgender mense aangevat het, is sy so geteister dat Jordan sy ondersteuners moes vra om haar uit te los.
“Sy aanhangers is genadeloos. Hulle kontak my aanhoudend, op enige moontlike platform,” sê Tabatha Southey, ’ n Kanadese rubriekskrywer. “Hy is in alle opsigte soos ’n kultusfiguur. Ek dink hy is ’n stommerik, maar dit beteken nie hy is nie gevaarlik nie.”
Menings wat Jordan s’n weerspreek, verwerk hy as “belaglik, absurd en waansinnig”. The Guardian skryf weer die verskil tussen Jordan en ander “trolle en narsiste” is dat hy ’n akademiese titel en beroep het wat aan sy uitlatings “die waan van geloofwaardigheid gee”.
Jordan se eertydse medesielkundedosent Bernard Schiff vertel hy was een van Jordan se groot aanhangers – tot sy ou pel hom vertel het sy vrou, Tammy, kry profetiese drome oor die naderende eindtyd.
Volgens Bernard vrees Jordan dat die LGBTQI-beweging die orde van die samelewing bedreig en sien hy homself as ’n redder wat die einde van die wêreld moet voorkom.
Dit verontrus hom, skryf Bernard in die Kanadese dagblad The Star: “Ek dink Jordan glo wat hy sê, maar dis onduidelik of hy mense probeer manipuleer deur hulle bang te maak en of hy self op die dun lyn tussen kommer en paranoia loop.”