Die storm oor Lammie die olifant
’n Hewige debat woed oor of dié dieretuinolifant vrygelaat moet word
SY’S g’n eensaam nie, dié reusagtige olifantkoei wat haar slurp al groetend oor die drie meter hoë klipmuur steek en dan nuuskierig aan die onbekende besoekers probeer snuffel. Maar dit is nou as jy haar hanteerders hier in die Johannesburgse dieretuin vra en nie noodwendig haar aanhangers elders nie.
Lammie die olifant voel alleen, glo hulle. En dis tyd dat sy vrygelaat word om haar goue jare in vreedsame vryheid deur te bring . . .
Die tonge is landwyd los oor haar, en hier in die dieretuin woed die gesprek oor haar voorland sommer geesdriftig.
Ja, Lammie was gebroke nadat haar maat van twee dekades, die 35-jarige olifantbul Kinkel-in-die-kabel, in September verlede jaar weens ’n koliektoeval dood is.
Lammie was 39 jaar oud toe sy ’n weduwee word.
Maar sy is deesdae weer haar ou self en dis nie waar dat sy eensaam is en ’n ander plek haar ’n beter heenkome kan bied nie, sê Alice Masombuka (43), haar hanteerder van die afgelope dekade.
Dié olifantkoei, so bekend en geliefd onder die derduisende mense wat die dieretuin jaarliks besoek, is natuurlik salig onbewus van die vuurwarm debat wat nou oor haar toekoms woed.
Plaaslike drukgroepe soos die EMSstigting, wat hom onder meer vir die beskerming van wilde diere beywer, en Ban Animal Trading eis dat Lammie haar laaste jare in ’n wildreservaat slyt. Die EMS-stigting het selfs aangebied om vir Lammie se hervestiging te betaal.
“Wêreldwyd besef dieretuine toenemend dit is mishandeling om ’n olifant aan te hou. Dit behoort nie anders te wees vir Lammie nie,” sê Michelle Pickover, direkteur van die EMSstigting.
“Die dieretuin kan maar sê sy is gelukkig en versorg, maar hulle gryp na strooihalms. Aan die einde van die dag is sy steeds ’n olifant en sy moet toegelaat word om ’n olifant te bly.”
Maar Lammie gaan nêrens, sê Jenny Moodley, ’n woordvoerder van die parkeafdeling in Johannesburg.
“Haar welstand is ons topprioriteit. Dit gaan baie goed met haar. Dierekenners stem saam dit is nie die beste opsie vir haar om in die natuur vrygelaat te word nie omdat sy hier in die dieretuin gebore is.”
Volgens Alice bestaan vrese dat Lammie moontlik nie sal oorleef as sy wel vrygelaat word nie. “Dié plek met die hoë bome en modderbad is haar tuiste,” sê sy en beduie na die olifantkamp.
“Sy is nie net nog ’n dier nie; sy is verknog aan haar hanteerders,” voeg Alice by. En die hanteerders is ewe verknog aan Lammie.
“Tog gaan dit nie oor liefde nie. Ons baklei om haar by die huis te hou omdat dit die beste vir haar is.”
LAMMIE het ’n seldsame band met Alice en haar ander versorger van die afgelope 12 jaar, Benjamin Koloane (36). So vertel Piet Malepa (41), ’n bestuurder by die dieretuin.
Die olifantkoei is in 1979 in die dieretuin gebore. Haar ouers, Jumbo en Dolly, is albei in 1966 van Botswana hierheen gebring. Hulle is onderskeidelik in 1999 en 2000 dood.
Vroeg in Lammie se lewe het werkers by die dieretuin opgemerk hoe geheg dié dier aan haar mensfamilie is.
“Olifante is oor die algemeen baie soos mense, maar Lammie is anders. Sy is ongelooflik sosiaal en baie beskermend teenoor diegene wat haar nog al die jare versorg,” vertel Alice.
Nes mense ook partykeer maar doen, het Lammie glo vir ’n tydjie haar houding teenoor Alice verander nadat Kinkel in haar lewe gekom het.
“Sy was skielik jaloers wanneer ek naby hul kamp gekom het. Ons spot nou nog en sê sy het gedink ek gaan Kinkel steel. Dan het sy my sommer met urine gegooi. Maar later het sy besef sy kan my vertrou. Daarna was ons beste vriende; ons is nou nog.”
Byna twee dekades lank was Kinkel en Lammie so te sê onafskeidbaar, vertel Benjamin. Maar een oggend kon Kinkel nie opstaan nie. Lammie het hom tevergeefs met haar kop probeer oplig.
“Sy was stukkend. Sy het geweet iets is fout met hom. Na aanleiding van die raad van ’n olifantkenner moes ons Lammie na ’n ander kamp skuif. Kinkel is op dieselfde dag dood.”
Daardie nag in September verlede jaar het Candice Ward, die dieretuin se omgewings- en gedragverrykingsbeampte, by Lammie in die kamp geslaap.
“Dit was hartverskeurend,” sê Piet. “Die trane het uit Lammie se oë gestroom.”
Maar binne ’n maand was sy weer haar ou self.
“So ’n herstelproses neem lank vir ’n dier,” vertel Piet. “Maar Lammie het almal verras. Ons was twee weke lank konstant aan haar sy. En toe, skielik, gaan groet ons haar een oggend, en daar wag dieselfde vrolike olifantkoei vir haar mense by die hek.”
Lammie het nog altyd haar eie maniere gehad om emosies te wys, vertel haar hanteerders. Wanneer sy droewig voel, eet sy skaars. Soggens wanneer die hanteerders haar kom groet, spring sy opgewonde op en af. Wanneer sy speels voel, rol sy in haar modderbad.
KORT ná Kinkel se dood het drukgroepe begin eis dat Lammie in ’n wildreservaat hervestig word. “Ons het duisende voorbeelde van diere wat suksesvol gerehabiliteer en in die natuur vrygelaat is,” sê Michelle. “Met dié dat Lammie se maat dood is, is dit die perfekte geleentheid vir haar om na ’n reservaat geskuif te word.”
Sy sê die stigting raadpleeg talle kenners oor die risiko’s wat aan dié proses verbonde is.
“Dis nie iets wat oornag gebeur nie. Dit kan moontlik twee jaar lank neem. Ons gaan haar nie net by ’n reservaat aflaai en van haar vergeet nie. Lammie is in ellende gebore, maar dit beteken nie sy het nie ’n kans om weer in die natuur te leef nie.”
Jenny sê egter met talle Suid-Afrikaanse wildlewespesies wat op die randjie van uitwissing is, is die rol van plaaslike dieretuine ál belangriker.
Sy meen die Johannesburgse dieretuin speel ’n integrale rol daarin om diere te beskerm – en dit sluit Lammie in.
“Twee veeartse, talle diereversorgers en ’n verrykingsbeampte sien na haar gesondheid en welsyn om,” sê sy.
“Ons verstaan en waardeer die publiek se besorgdheid oor Lammie,” beaam Alice, “maar haar welstand is ons hoogste prioriteit. Ons het juis besluit om haar hier te hou omdat sy positief is; omdat dit so ongelooflik goed met haar gaan.
“Haar lewe lank ken sy net die dieretuin. Ons mense is haar familie. Ons vrees dat sy in die natuur kan vrek. Daar is baie bekommernisse: Lammie is onderdanig, en in die natuur is die olifantkoei die dominante een. Sy moes nog nooit self kos soek nie.
“Ons is bang so ’n drastiese verandering lei tot depressie, wat haar dood kan veroorsaak. Nou wil mense wat nog nooit met haar te doen gehad het nie haar toekoms bepaal,” sê Alice.
“Ons wil alles doen wat nodig is om Lammie die beste lewe te gee. En tans beteken dit om hier te wees.”